Lolo maak die internet reg
Home | Written stories | Multilingual stories | Lolo maak die internet reg

Written stories

Lolo maak die internet reg

Author

Kgosi Kgosi

Illustrator

Vian Oelofsen

Lolo was ’n baie slim dogtertjie wat in die dorp van die Batswana-mense gewoon het. Hierdie pragtige dorp was soos geen ander in die wêreld nie. Die mense van die dorp was regtig slim en hul tyd ver vooruit. Lolo was die slimste van almal. In Lolo se dorp was die internet die belangrikste ding. As jy die dorp sou besoek, sou jy die skoolkinders met hul rekenaartablette vind, besig om inligting te soek wat hulle nodig het om hul huiswerk te doen. Baie mense het motors gehad wat kon vlieg, en hulle het hierdie motors beheer deur die internet te gebruik. Mense het die internet vir ALLES gebruik!

 

En toe, op ’n dag – POEF! Skielik is die internet weg. Almal het gedink die internet is dalk net vir ’n rukkie af en sal weer later werk, maar hulle was verkeerd.

Die koning en koningin van die dorp het ’n aankondiging oor die gemeenskapsradio en televisie gedoen. Hulle het gesê die internet sal vir ’n lang tyd af wees. Almal in die dorp was geskok. Lolo het verstom toegekyk hoe elke kind in haar skool paniekerig raak. “Ons lewens is verby!” skree een van haar maats en gryp Lolo aan haar skouers. Een van Lolo se onderwysers storm by die klaskamer uit, gryp haar aan die arm en sê: “Doen tog iets, Lolo! Jy is die slim een.” Toe hardloop die onderwyser huilend weg.

 

Lolo kan nie verstaan waaroor die bohaai gaan nie. “Almal tree op asof dit die einde van die wêreld is!” dink sy. Sy besluit dat sy die volgende dag by die koning en koningin sal gaan besoek aflê om uit te vind wat die probleem is. Toe Lolo by die Koningshuis aankom, word sy met ’n glas warm melk en ’n bord sjokoladesplinterkoekies verwelkom. Lolo eet van die koekies terwyl sy vir die koning en koningin wag. Dis die lekkerste koekies wat sy nog ooit geëet het.

Die koning en koningin kom aan en groet vir Lolo. Hulle begin oor die probleem in die dorp gesels. Die koningin verduidelik dat hul ministers uitgevind het dat daar ’n probleem met ’n satelliet is, ’n satelliet wat baie ver weg is – ver weg in die ruimte!

 

“So,” sê die koningin, “dis nie net ons dorp nie, maar die hele wêreld wat nie internet het nie.” Die koningin vat toe Lolo se hand en sê: “My kind, ons is op soek na iemand wat baie slim is, wat in die koninklike ruimtetuig sal klim, na die ruimte sal reis en die satelliet sal regmaak.” “Lolo,” sê die koning, “jy is die enigste een wat dit kan doen! As jy dit doen, sal jy die hele wêreld ’n guns doen.” Lolo voel tegelyk opgewonde en senuweeagtig. Sy het gelees dat dit gevaarlik is om na die ruimte te reis, maar sy stem in om te gaan.

 

Dae lank werk die klein dogtertjie saam met die ruimtespan om vir hierdie spesiale sending voor te berei. Sy leer hoe om te vlieg en die ruimtetuig te beheer en sy leer hoe om in die ruimte te dryf. Sommer gou is Lolo gereed om die ruimte aan te durf. Die dag toe Lolo vertrek, is almal daar om te kom kyk. Mense gooi blomme na haar om haar geluk toe te wens. Ander sing liedjies om haar aan te moedig. Lolo voel dat almal lief is vir haar.

 

Lolo klim in die ruimtetuig en al die tegnici skakel die enjins aan. Oomblikke later verlaat die ruimtetuig die aarde. Na wat soos ’n ewigheid voel, land die ruimtetuig by die ruimtestasie. Lolo kan die satelliet deur die venster sien. Sy kontak die koning en koningin met ’n spesiale soort radio om hulle te laat weet dat sy veilig aankom het. Almal by die huis vier fees en haar ouers is veral bly om te hoor dat hul dogter lewendig is en dat dit goed gaan met haar.

 

Maar die sending verloop nie heeltemal volgens plan nie. Dae lank sukkel Lolo om vas te stel wat die probleem is. Sy weet die sukses van die sending is in haar hande, en sy wil niemand in die steek laat nie. Uiteindelik begin die ruimtespan se kos en water opraak. Die sending raak baie moeilik, maar die slim klein dogtertjie hou aan werk en werk totdat sy op ’n dag die problem opspoor! Een van die satelliet se kabels het uitgebrand en moet vervang word. Toe Lolo dit gedoen het, is die internet terug! Almal in haar dorp en oor die hele wêreld vier fees. Na ’n moeilike, maar suksesvolle sending keer Lolo terug huis toe. Sy is ’n held! Die koning en koningin is so trots op haar dat hulle vir haar ’n medalje gee en ook hul volgende kind na haar vernoem.