Gus, die gorilla | Nal'ibali
Home | Written stories | Multilingual stories | Gus, die gorilla

Written stories

Gus, die gorilla

Author

Ann Walton

Illustrator

Rob Foote

Translator

Anita van Zyl

Gus is ’n groot gorilla. Hy woon in die dieretuin saam met ’n ander gorilla, Gabby. Gus en Gabby het ’n klein huisie waarin hulle slaap en ’n pragtige tuin om in te speel.

Die opsigter van die dieretuin is goed vir Gus en Gabby. Hy gee vir hulle oorgenoeg kos om te eet − kool en pampoen en boontjies en mielies, en baie lemoene en papajas en appels en … piesangs! Gus en Gabby hou meer van piesangs as van enige ander kos!

“Mag ek maar die laaste piesang kry?” vra Gabby elke dag na middagete. En omdat Gus ’n gawe gorilla is, gee hy altyd die laaste piesang vir Gabby.

Op ’n dag, nie ver van die dieretuin af nie, gryp mnr. Van Vliet, die inkopiesakdief, Gogo se inkopiesak vol kos toe sy op pad is na die taxistaanplek.

“Help! Help! Gee terug my inkopies!” skree Gogo. Maar mnr. Van Vliet steur hom nie aan haar nie en hardloop in die pad af.

Gogo hardloop na ’n polisieman toe wat op die straathoek staan. “Help!” skree sy. “Daardie man het my inkopiesak gesteel!”

“Kom ons vang hom!” sê die polisieman, en hulle hardloop albei agter mnr. Van Vliet aan.

Mnr. Van Vliet sien hulle aankom en hy spring oor ’n groot hek. Hy beland in die dieretuin se gronde.

“Kyk!” blaas Gogo. “Die dief het in die dieretuin ingehardloop!”

“Kom ons vang hom!” blaas die polisieman.

Mnr. Van Vliet kyk nie waar hy hardloop nie. Hy spring oor ’n muur en val kaplaks in ’n doringbos in Gus en Gabby se tuin.

“Eina!” skree hy.

Die lawaai maak Gus en Gabby, wat hul middagslapie geniet, wakker.

“Ek dink iemand bring vir ons piesangs!” sê Gus.

“Dis baie gaaf!” sê Gabby. “Kom ons gaan soontoe en sê hallo.”

Hulle stap toe na mnr. Van Vliet toe. Gus is ’n baie saggeaarde gorilla met goeie maniere. Toe hy mnr. Van Vliet sien, gaan staan hy op sy agterpote en slaan op sy bors, soos op ’n trom, om mnr. Van Vliet te groet.
Gus the gorilla.AW1

Toe mnr. Van Vliet sien wat Gus doen, skrik hy hom boeglam. Hy gryp die inkopiesak en probeer weer oor die muur klouter.

“Gee vir my piesangs!” sê Gus. Maar mnr. Van Vliet is al halfpad teen die muur op, en Gus moet aan sy been trek en hom op sy sitvlak byt om hom weer op die grond te kry.

Mnr. Van Vliet val terug tot in die doringbos. Gus tel die inkopiesak op en kyk binne-in. Hy gooi al Gogo se inkopies uit. En daar, heel onder in die inkopiesak, is ’n groot tros ryp, geel piesangs.

Gus tik mnr. Van Vliet liggies op sy kop. “Dankie,” sê hy. Mnr. Van Vliet sê niks.

“Gabby,” sê Gus, “hierdie gawe man het vir ons ’n heerlike tros piesangs gebring!” Gabby kom dansend oor na Gus toe. Saam gaan sit hulle langs mnr. Van Vliet en eet al die piesangs op.
Gus the gorilla.AW2

Gogo en die polisieman hoor die lawaai. Hulle kyk oor die muur en sien mnr. Van Vliet in die doringbos lê.

“Daar’s die dief!” sê Gogo.

“Gee Gogo se inkopies terug!” sê die polisieman.

“Reg so,” sê ’n geskokte mnr. Van Vliet. Hy tel al die inkopies op en pak dit terug in Gogo se inkopiesak. Toe strek hy oor die muur en gee dit vir Gogo terug.

“Hmmmff!” sê Gogo. En sy stap weg met haar inkopiesak om nog piesangs te gaan koop en ’n taxi huis toe te haal.

Mnr. Van Vliet kyk op na die polisieman. “Ek belowe ek sal nooit weer ’n inkopiesak steel nie!” sê hy. “Maar help my asseblief om hier uit te kom. Vat my polisiestasie toe.”

“Wel, Gus,” sê die polisieman. “Jy het die berugte inkopiesakdief gevang! Ek vat mnr. Van Vliet nou polisiestasie toe, maar ek kom julle weer môreoggend sien!”

Die volgende oggend bring die polisieman ’n paar mense saam na die dieretuin. Hy bring die Hoof van die Polisie en ’n groot koperblaasorkes en ’n kameraman en ’n verslaggewer. ’n Skare mense volg hulle. Die opsigter van die dieretuin laat hulle almal in Gus en Gabby se tuin ingaan.

“Welkom in die polisiediens, Gus,” sê die Hoof van die Polisie. “Jy is nou ’n polisieman!” Die koperblaasorkes speel ’n deuntjie, die kameraman neem foto’s van Gus, en die verslaggewer skryf ’n storie oor Gus en die berugte inkopiesakdief. Die skare juig. Toe gee die Hoof van die Polisie vir Gus ’n lieflike groot tros geel piesangs.

“Dankie,” sê Gus. “Dit was regtig maklik om die inkopiesakdief te vang.” Hy is so bly dat hy weer op sy agterpote staan en op sy bors slaan. Toe skarrel al die mense om so vinnig moontlik uit Gus en Gabby se tuin te kom.

Gus en Gabby gaan sit om die piesangs te eet. “Noudat ek ’n polisieman is, sal ek baie werk hê om te doen!” sê Gus.

“Ja,” sê Gabby trots. “Hierdie keer kan jy maar die laaste piesang eet, Gus.”

“Dankie, Gabby,” sê Gus terwyl hy aan die laaste piesang begin smul.

 

Wees kreatief!

Lees die storie saam. Sê dan vir jou kinders om van die volgende te doen: besluit of die dief gekry het wat hy verdien, en of hy vir Gogo se piesangs moet betaal; skryf die berig wat hulle dink dalk in die koerant sou verskyn het; voer die storie op.