Lank gelede, in die rustige dorpie Mudavula, het daar ’n baie lui trapsuutjies gewoon. In daardie tyd het al die diere die grond bewerk om vir hulle en hul families kos te voorsien. Almal behalwe Trapsuutjies. Omdat hy so lui was, wou hy nie soos al die ander diere werk nie. Hy dink toe eerder ’n slinkse plan uit sodat hy by die ander kan leen en lekker kan lewe.
Een Maandagoggend gaan Trapsuutjies na Haas toe om mieliemeel te leen. Voor hy by Haas se huis aankom, verander hy sy kleur van bruin na groen.
“Leen asseblief vir my ’n bietjie mieliemeel,” vra Trapsuutjies.
“En wanneer sal jy my terugbetaal?” wil Haas weet.
“Aan die einde van die maand!” belowe Trapsuutjies.
Haas maak die leë emmer wat Trapsuutjies saamgebring het, vol. Trapsuutjies neem die mieliemeel met ’n glimlag huis toe. Hy dink aan sy slinkse plan om die ander diere om die bos te lei. Hy sing ’n liedjie om hom te help om sy plan te onthou.
“Ek sal my kleur verander
Maar niemand sal ooit weet nie.
Ek was groen toe ek Haas my sien,
By Akkedis is ek weer geel.
Padda sal ’n swart trapsuutjies sien
En Skilpad weer ’n bruine.
Ek sal van kleur bly verander.
Hulle sal nooit weet dis ek nie!”
Dinsdagoggend word Trapsuutjies honger wakker. “Ek kan nie elke dag pap eet nie. Ek het rys nodig!” dink Trapsuutjies. “Ek sal my kleur na geel verander en na Akkedis toe gaan. As ek almal om die bos kan lei, sal ek niemand enigiets hoef te betaal nie!”
Trapsuutjies stap met sy leë emmer na Akkedis toe, en Akkedis is gaaf genoeg om dit vol rys te maak. Trapsuutjies belowe om Akkedis aan die einde van die maand terug te betaal.
Woensdag, nadat hy rys gekook het, kyk Trapsuutjies bek-af na sy bord. “Nee! Nee! Gewone rys is nie lekker nie. Ek het vleis nodig!” Trapsuutjies dink ’n rukkie na. “Padda sal vir my vleis gee!” besluit hy.
Trapsuutjies verander sy kleur na swart en hardloop na Padda se huis toe met sy leë emmer. Padda maak sy emmer vol vleis. Weer belowe Trapsuutjies om Padda aan die einde van die maand terug te betaal.
“Ek kort vrugte. Dis wat ek nodig het!” dink Trapsuutjies Donderdag. “Wie het vrugte?” dink Trapsuutjies en krap sy kop. “Skilpad! Ja, Skilpad!”
Trapsuutjies verander sy kleur na bruin en gaan met sy leë emmer na Skilpad toe. Hy vra Skilpad vir vrugte, en Skilpad maak sy emmer vol piesangs, lemoene en appels.
“Dankie, dankie, meneer Skilpad. Ek sal jou aan die einde van die maand terugbetaal,” belowe hy.
Die hele tyd sing Trapsuutjies sy liedjie sodat hy sy slinkse plan met sy kleure kan onthou.
“Ek sal my kleur verander
Maar niemand sal ooit weet nie.
Ek was groen toe ek Haas my sien,
By Akkedis is ek weer geel.
Padda sal ’n swart trapsuutjies sien
En Skilpad ’n bruine.
Ek sal van kleur bly verander.
Hulle sal nooit weet dis ek nie!”
Toe die einde van die maand aanbreek, wag die diere vir Trapsuutjies om dit wat hy geleen het, te kom teruggee. Maar Trapsuutjies daag nie op nie.
Eers gaan Haas na Trapsuutjies se huis toe. “Meneer Trapsuutjies, Meneer Trapsuutjies!” roep Haas hard by die hek.
Trapsuutjies loer deur die venster. Toe hy vir Haas sien, onthou hy sy liedjie. “Aa, meneer Haas, ek was groen toe ek mieliemeel by jou geleen het,” sê Trapsuutjies vir homself. Vinnig verander hy sy kleur na geel en gaan ontmoet vir Haas by die hek.
“Ek is op soek na ’n groen trapsuutjies,” sê Haas verbaas.
“’n Groen trapsuutjies? Ek woon alleen hier. Ek het onlangs ingetrek,” jok Trapsuutjies vir Haas.
Haas loop weg en Trapsuutjies gaan terug in sy huis in. “Ek is die slim een,” spog Trapsuutjies hardop en spring op die rusbank.
Die volgende paar dae kom soek Akkedis, Padda en Skilpad ook na die trapsuutjies wat rys, vleis en vrugte by hulle geleen het. Trapsuutjies lei almal om die bos deur sy kleur te verander sodat hulle hom nie kan herken nie.
Nog ’n maand gaan verby. Toe ontmoet Haas, Akkedis, Padda en Skilpad mekaar by ’n groot maroelaboom waar hulle die heerlike goudgeel vrugte bymekaar maak. Terwyl Skilpad na sy mandjie vol maroelas kyk, sê hy: “’n Groen trapsuutjies het in die bruin trapsuutjies se huis ingetrek. Daardie bruin trapsuutjies skuld my ’n emmer vrugte.”
“Nee,” sê Haas. “’n Geel trapsuutjies woon in daardie huis. Ek is op soek na die groen trapsuutjies wat my ’n emmer mieliemeel skuld.”
“Nee,” sê Akkedis. “’n Swart trapsuutjies woon in daardie huis. Ek is op soek na die geel trapsuutjies wat my ’n emmer rys skuld.”
“Nee,” sê Padda. “’n Bruin trapsuutjies woon in daardie huis. Ek is op soek na die swart trapsuutjies wat ’n emmer vleis by my geleen het.”
Toe sê Akkedis: “Kan dit wees dat een trapsuutjies ons almal om die bos gelei het deur van kleur te verander? Kom ons gaan almal saam na die huis toe.”
Haas, Akkedis, Padda en Skilpad stap toe na Trapsuutjies se huis toe en roep dat hy moet uitkom.