Die groot fout | Nal'ibali

Die groot fout

Author

Geskryf deur Desirée Botha

Illustrator

Geïllustreer deur Chantelle en Burgen Thorne

Dit is ’n luilekker dag langs die rivier. Alles is doodstil. Die enigste geluid is Klein Voëltjie se sagte getjirp terwyl hy Seekoei se groot, plat tande skoonmaak.

 

Seekoei hou daarvan as sy tande skoongemaak word. Hy lê met sy kop buite die water, sy mond wawyd oop. Hy lê in die son en bak en voor hy hom kom kry, sluimer hy in. Hy droom van ’n groot sappige graspol wat by hom verbydryf, en in sy droom vat hy ’n groot hap en sluk.

 

“Jy’t Klein Voëltjie opgeëet!” Die stem laat Seekoei wakker skrik. Dit is een van die flaminke. Hy lyk boos! Sy pienk gesig word bloedrooi!

 

“Jy’t Klein Voëltjie opgeëet,” skree hy weer en beduie met sy vlerk na Seekoei.

 

“Ek sou nooit so iets doen nie!” verdedig Seekoei homself. “Ek eet gras, nie klein voëltjies nie! Buitendien, Klein Voëltjie is my vriend! Ek sou hom nooit opeet nie!”

 

“Ek het jou gesien! Hy was besig om jou tande skoon te maak, toe sluk jy hom in!”

 

Seekoei onthou sy droom. Nou is hy bang! Het hy sy vriend per ongeluk ingesluk? Toe, terwyl hy uit die rivier klim, hoor hy ’n bekende tjirpgeluid. Dis Klein Voëltjie!

 

Seekoei kyk oral rond om te sien waar Klein Voëltjie is. Einde ten laaste besef hy dat die geluid uit sy maag kom. Hy het sy vriend ingesluk!

 

“Sien? Ek het jou gesê!” sê Flamink. “Jy’t Klein Voëltjie opgeëet!”

 

“Ek ... ek het nie bedoel om ...” huil Seekoei. “Ons moet hom red. Ons moet hom uit my maag uit kry!”

 

Teen hierdie tyd het al die diere wat langs die rivier woon, nader gekom om uit te vind wat aangaan. Hulle begin planne beraam.

 

“Kom ons stuur klein vissies in jou maag in. Hulle kan vir Klein Voëltjie ’n pad maak om uit te swem,” sê Apie. Maar toe hulle dit hoor, swem al die klein vissies vinnig weg.

 

“Ons kan een van my tande gebruik om jou maag oop te sny en Klein Voëltjie te red,” stel Leeu voor. Seekoei dink nie dis ’n goeie idee nie!

 

 

“Wat gaan ons doen? Klein Voëltjie kan nie vir altyd in my maag bly nie!” sê Seekoei. Maar hy kan glad nie aan ’n beter plan dink nie. Dalk moet Leeu maar sy maag oopsny en vir Klein Voëltjie uithaal. Hy is op die punt om in te stem toe wyse ou Uil tot sy redding kom.

 

“Bedaar nou,” sê Uil. Almal luister. “Gaan kry vir my ’n groot veer,” beveel hy.

 

Een van die voëls vlieg vinnig na waar Flamink staan en bring vir Uil wat hy gevra het.

 

“Wonderlik!” sê Uil, vlieg grond toe en gaan sit voor Seekoei. “Maak nou jou mond so groot oop as wat jy kan, en ek gaan binne-in klim!” sê hy.

 

“Moenie dit doen nie! Hy gaan jou ook opeet!” waarsku Apie.

 

“Ag, bly tog stil!” sê Uil. Maar vir Seekoei sê hy saggies, “Jy beter my nie insluk nie! Wat jy ook al doen, moenie jou mond toemaak terwyl ek daar binne is nie!”

 

Uil klim tussen Seekoei se reusagtige en vreesaanjaende kake in! Toe begin hy Seekoei se keel saggies met die veer kielie. Eers giggel Seekoei net, maar toe skielik ...

 

“Ga...ga...gaaaaa!” hoes Seekoei, en Uil en Klein Voëltjie vlieg by sy mond uit! Hulle is van kop tot tone vol seekoeispoeg. Klein Voëltjie gee vir Uil ’n drukkie en hardloop dan om ook vir Seekoei ’n drukkie te gee.