Daar was eenmaal ’n vrou wat saam met haar man langs die Hlimbitwarivier gewoon het. Elke dag het die vrou hul huis verlaat om in die woud te gaan hout kap. Elke dag het haar man vir haar ’n bottel water en kos saamgegee sodat sy iets sou hê om te drink en te eet terwyl sy diep in die woud hout kap.
Op ’n dag gaan sy weer na die woud en kies ’n groot boom om af te kap.
“Dit sal ’n goeie een wees,” sê sy. “Dit is baie groot en sal vir my baie hout gee.”
Sy tel haar byl op en swaai dit, gereed om te begin kap. Net toe sy wil kap, hoor sy ’n stem wat haar smeek om nie te kap nie.
“Wie het dit gesê?” vra sy.
“Kyk af,” sê die stem, “en wat jy ook al doen, moet asseblief tog nie hierdie boom afkap nie.”
Die vrou is geskok toe sy dit hoor, maar toe sy sien waar die stem vandaan kom, is sy sprakeloos! Onder op die grond, naby die wortels van die boom, staan die kleinste mannetjie wat die vrou nog ooit gesien het. Haar mond val oop en sy kan haar oë nie glo nie. Uiteindelik kom sy weer tot verhaal.
“Ek smeek jou, moet asseblief nie hierdie boom seermaak nie,” sê die klein mannetjie.
“Wel … wel, goed dan,” sê sy. “Ek kan doen wat jy vra. Ek kan ’n ander boom gaan soek as hierdie boom vir jou so belangrik is.”
“Dankie. Jy het iets gedoen wat my baie gelukkig maak,” sê die klein mannetjie. “Jy het ’n goeie hart, en daarom sal ek vir jou enige drie wense gun.” En toe verdwyn die klein mannetjie. Dit maak nie saak waar die vrou in die woud soek nie, hy is skoonveld.
Uiteindelik hou sy op soek en gaan huis toe. Die hele pad huis toe skud sy haar kop en mompel by haarself, steeds verbaas oor wat gebeur het. Toe sy by die huis kom, gaan sit sy buite om te rus en wonder steeds of iemand probeer het om haar ’n poets te bak.
Al die gedink maak haar honger. “Is ons aandete al gereed?” vra sy haar man wat langs haar kom sit het.
“O, nee,” antwoord hy, “nog nie. Dit sal eers oor ’n paar uur gereed wees.”
Die vrou kreun. “Ek is so honger. Ek wens ek het ’n stukkie vleis gehad om te eet.”
Skaars het sy die woorde gesê of – swoep – verskyn ’n stukkie vleis op die leë bord langs haar op die grond. Sy en haar man staar daarna.
“Wat is dit?” vra haar man verbaas oor wat gebeur het. Die vrou vertel hom alles wat daardie oggend in die woud gebeur het. Haar man staar haar aan en sy kan sien hy is besig om baie kwaad te word.
Toe sy stilbly, skree hy vir haar: “WAATT? Jy moes gedink het voor jy vir ’n stukkie vleis gewens het. Jy is so dwaas, ek wens daardie stukkie vleis sit aan jou neus vas.”
Voor die vrou nog hayibo! kan sê, sit die vleis aan haar neus vas. Sy gryp dit en trek, maar dit kom nie los nie. Haar man probeer trek. Hulle trek en trek, maar dit help niks. Die stukkie vleis sit aan die punt van haar neus vas.
“Ag, nee,” sê die vrou. “Wat nou?”
“Ek weet nie, maar dit moet afkom,” sê die man.
Toe besef die vrou sy moet gou iets doen voor haar man weer ’n woord
kan sê.
“Ek wens die vleis sit nie meer aan my neus vas nie!” skree sy.
En binne ’n oogwink lê die vleis weer op die bord. En daar sit hulle, die vrou en haar man, en staar na mekaar. Daar sou geen wense vir geld, of klere, of ’n groter huis, of geluk wees nie. Daar sou hoegenaamd geen wense wees nie, maar … ten minste het hulle ’n lekker stukkie vleis vir aandete!