Die Boereworsman
Home | Written stories | Multilingual stories | Die Boereworsman

Written stories

Die Boereworsman

Author

Kiera-Lee Hayes

Illustrator

Vian Oelofsen

Translator

Anita van Zyl

Dit is vroegaand. Die Smith-gesin sit buite en geniet die reuk van boerewors wat braai.

“Pa! Maak asseblief gou!” kerm Hayley. “Ek is soooo honger!”

“Vir jou!” sê haar pa ’n rukkie later toe hy vir Hayley twee stukke boerewors aangee wat inmekaar gedraai is. Dit lyk net soos ’n klein mannetjie.

“’n Boereworsman!” sê haar ma en lag.

Hayley maak haar mond oop om ’n groot hap te vat.

“Nee!” skree ’n diep stem. “Jy kan my nie eet nie!”

Hayley spring op en laat los die Boereworsman.

“Jy … jy kan praat!” stotter sy.

“Natuurlik kan ek praat!” Die klein mannetjie staan op en vee homself af. “En jy kan my nie eet nie!”

“Maar ek is flou van die honger!” kla Hayley.

Die Boereworsman gee een kyk na die mense wat buite sit, toe hardloop hy oor die erf en wriemel onder die hek deur!
Boereworsman-pic1 small

“Vang hom!” skree Hayley.

Die Smith-gesin volg Hayley by die hek uit en hardloop in die straat af agter die Boereworsman aan. Hulle hardloop verby ’n ander gesin wat met hulle hond gaan stap.

“Waarheen gaan julle?” vra die pa.

“Ons probeer die Boereworsman vang! Help ons!” sê Hayley.

Die Smiths en die ander gesin en hulle hond hardloop toe almal in die straat af en probeer die klein mannetjie in die oog hou.

Toe hulle in die volgende straat kom, kom hulle ’n vrugteverkoper teë wat ’n kopdoek met ’n blou patroon oor haar pienk, plastiekkrullers dra. Hayley skree vir haar om hulle te help en die vrugteverkoper sluit aan by die groepie wat die Boereworsman jaag. Net toe begin die Boereworsman sing:

“Ek is die Boereworsman,
vir my sal julle nie vang,
vir julle is ek nie bang
ek hardloop, want ek kan!”

“Hiert! Hiert!” Die vrugteverkoper skrik haar boeglam toe ’n wollerige bruin ponie wat ’n lendelam karretjie trek agter haar galop.

“Ons jaag daardie Boereworsman,” verduidelik sy vir die drywer op die karretjie.

“Jy kan saam met ons op die karretjie ry,” bied hy aan.

Toe hou ’n taxi op die hoek stil. ’n Dosyn mense bondel by die taxi uit en die bestuurder skree by die venster uit: “Peninsula Road! Kom, kom, laat ons waai!”

Hayley draai om na almal wat haar volg en skree: “Maak gou! Kyk − ’n taxi!”

“Kan ons asseblief in jou taxi ry? Ons jaag die Boereworsman!” sê Hayley vir die taxibestuurder.

“Klim in,” sê die bestuurder. “Ek sal hom volg!” Almal bondel in die taxi in en daar gaan hulle.

Intussen begin die Boereworsman ’n ander liedjie sing:

“Perde en taxi’s,
ek is nie bang,
mense of honde,
niemand kan my vang!”

Gou kom hulle almal by Rondevlei aan. Teen hierdie tyd hardloop die klein Boereworsman al ’n bietjie stadiger, die perd trek nie meer so vinnig nie en die taxi jaag nie meer so woes om die draaie nie. Maar hulle stoom almal nog voort.

Die klein Boereworsman hardloop in die Rondevlei-natuurreservaat in, met die taxi en die perdekarretjie kort op sy hakke.

“Stop! Voertuie verbode!” skree die wag. Almal spring uit en hardloop deur die hek agter die laggende Boereworsman aan.

“Julle moet betaal!” roep die wag, maar niemand hoor hom nie. Die wag sluit toe maar die hek en hardloop agter hulle aan.

Hy vind almal by die groot vlei. Die Boereworsman skree vir ’n groot seekoei: “Gou! Help my om weg te kom!”

“Spring op my rug,” kreun die seekoei. Almal kyk hoe die groot seekoei na die ander kant van die vlei toe swem met die Boereworsman op sy rug.

Toe hulle ’n kwart van die vlei oorgesteek het, sê die seekoei vir die Boereworsman: “Jy gaan nat word. Hoekom klim jy nie tot op my nek nie?”

Die Boereworsman maak so en hulle swem verder oor die vlei.

“Die water raak dieper! Klim op my kop!” roep die seekoei.

Die Boereworsman spring op die seekoei se kop. Hy waai astrant vir al die mense op die wal en begin sing:

“Perde en taxi’s,
ek is nie bang …”
Boereworsman-pic2 small

Die groep honger mense gluur die Boereworsman aan, maar skielik rek hulle oë groot en hulle snak na hul asems! Die Boereworsman draai om om te sien waarna hulle staar …

Swiesj! Net toe swiep ’n visarend af en sluk die Boereworsman heel in!

“Ag nee!” sê Hayley hartseer. “Daar gaan my aandete!”