Die betowerde verfkwas
Home | Written stories | Multilingual stories | Die betowerde verfkwas

Written stories

Die betowerde verfkwas

Author

Wendy Hartmann

Illustrator

Jiggs Snaddon-Wood

Translator

Anita van Zyl

Daar is ʼn land ver, ver hiervandaan, wat China genoem word. Eendag het daar in hierdie ver-ver land ʼn jong seun gewoon. Sy naam was Ho. Ho was arm, maar hy het ʼn baie goeie hart gehad. Hy moes hard werk om genoeg geld te verdien om kos te koop.

Maar al was Ho arm, het hy altyd ander mense gehelp waar hy kon. Ho het ook graag geskilder − as hy enige vrye tyd gehad het, het hy geskilder.

Een nag droom Ho dat ʼn ou man vir hom ʼn betowerde verfkwas gee.

“Jy het ʼn goeie hart,” sê die ou man in sy droom. “Ek sien jy hou daarvan om te skilder. Hier is ʼn betowerde verfkwas. Ek wil hê jy moet my belowe jy sal dit gebruik om mense te help.”

Toe Ho wakker word, vind hy die betowerde verfkwas langs hom.

“Sjoe,” sê hy verbaas, “ek het gedink dit was maar net ʼn droom.”

Van daardie dag af gebruik Ho die verfkwas wanneer ander mense hulp nodig het.

“Ho,” roep die mense op die lande. “Daar is nie meer water in ons put nie, maar ons moet ons plante natlei.”

Dan skilder Ho vir hulle ʼn rivier. Soos hy skilder, word die rivier al langer en die mense kan hulle plante natlei.

Paintbrush1loresToe sien Ho dat die mense sukkel om die grond te bewerk, en hy skilder ʼn koei en ʼn ploeg om hulle te help. Elke keer as hy sien iemand het hulp nodig, gebruik hy sy verfkwas. Gou weet baie mense van Ho en sy betowerde verfkwas.

ʼn Rukkie later hoor ʼn ryk man van die verfkwas. “Daardie verfkwas sal myne wees,” sê hy en beplan hoe hy dit gaan steel. “Ek sal so baie geld maak dat ek die rykste man in die hele land sal wees.” Die volgende dag laat roep hy vir Ho.

“Ek wil hê jy moet vandag my koeie oppas,” sê hy. “Vanaand sal ek jou goed betaal.”

Ho is bly en pas die ryk man se koeie op. Maar dié aand word hy in die tronk gegooi in plaas daarvan om betaal te word, en sy betowerde verfkwas word weggeneem.

“Hy het een van my koeie gesteel,” jok die ryk man. “Hierdie verfkwas sal my vergoeding wees vir wat hy gedoen het.” Uiteindelik, dink hy, is die betowerde verfkwas myne.

Die ryk man nooi al sy vriende na sy huis toe. “Kom sit en kyk ’n bietjie hierna,” sê hy. Toe skilder hy baie prente met die betowerde verfkwas. Almal wag en wag …. en wag, maar nie ʼn enkele prent word lewendig nie.

“Wat gaan aan?” skree die ryk man vies. “Gaan haal vir Ho en bring hom hierheen!”

Ho word na die ryk man gebring. Maar teen hierdie tyd besef Ho die man is selfsugtig en wreed.

“As jy vir my prente skilder,” sê die ryk man, “en hulle word lewendig, sal ek jou betaal en jou vrylaat.”

Eers weet Ho nie wat om te doen nie. Toe kry hy ʼn blink gedagte. “Ja, ek kan dit doen,” sê Ho.

“Heel eerste moet jy vir my ʼn REUSAGTIGE berg van goud skilder,” sê die ryk man. “Ek wil al die goud bymekaarmaak.”

Ho tel sy betowerde verfkwas op en skilder ʼn see. Dit maak die ryk man baie kwaad.

“Waarom het jy ʼn see geskilder? Ek wil nie ʼn see hê nie. Ek wil ʼn berg van goud hê. Maak gou en skilder waarvoor ek vra.”

Toe skilder Ho ʼn berg van goud aan die ander kant van die see. “Jy sal oor die see moet vaar om daar te kom,” sê Ho.

“Skilder dan vir my ʼn groot skip sodat ek oor die see kan vaar,” beveel die ryk man.

Ho glimlag en skilder ʼn groot skip. Hy is skaars klaar toe spring die ryk man op die skip. Sy familie en vriende skarrel ook gou aan boord en hulle seil weg.

Ho hou hulle goed dop. Hy wag totdat die skip in die middel van die see is, en toe skilder hy ʼn groot golf. Die golf pyl op die skip af. Toe dit naby is – BOEM! − spoel dit oor die skip en breek die skip in ʼn duisend klein stukkies.

Paintbrush2 loresDaarna het Ho gelukkig gelewe. Hy het genoeg kos gehad om te eet. Hy het mense gehelp wanneer dit nodig was en hy het soveel prente geskilder as wat hy wou.

Soms het hy oor die see na die berg van goud gestaar. Niemand het daarheen gevaar nie, want daar was niks nie, net goud. Wel … daar was niks nie behalwe goud, die wrakstukke van ʼn skip en ʼn woedende ryk man, sy familie en al sy vriende.