Pappa Smuts is ’n visserman. Maar vis is nie meer so volop soos vroeër jare nie, en sommige dae kom hy met leë hande huis toe. Dan voel arme Pappa Smuts regtig moedeloos.
Dis wanneer Mamma Smuts hom ’n stewige drukkie gee en sê: “Ons sal ’n plan maak.” En Sannie en Frikkie voeg by: “Ons maak altyd ’n plan, Pappa.” En op een of ander manier doen hulle dit altyd, want …
… niemand kweek rooier tamaties, groener soetrissies, soeter wortels en kraakvarser kool as Pappa Smuts nie; natuurlik met Sannie en Frikkie se hulp.
En niemand, maar niemand, kan die rooiste tamaties, die groenste soetrissies, die soetste wortels en die kraakvarsste kool in ’n lekkerder maaltyd omskep as Mamma Smuts nie; natuulik met Sannie en Frikkie se hulp!
Een gelukkige dag vang Pappa Smuts vyf visse. Hy verkoop vier en hou een om huis toe te neem vir aandete.
Toe Pappa Smuts by Maria se padstal verbystap, roep sy: “Hoeveel kos die vis?”
“Jammer, Maria,” sê Pappa Smuts, “maar hierdie een is vir ons aandete.”
“Wat as,” vra Maria, “jy iets anders huis toe vat, iets soos hierdie worsies? Sal dit nou nie ’n lekker bederf wees nie?”
Pappa Smuts dink ’n oomblik na, maar net ’n oomblik, want die worsies lyk baie lekker! Maria en Pappa Smuts ruil toe die vis vir die worsies en Pappa Smuts stap vinnig huis toe.
Die hele familie is opgewonde toe Pappa Smuts vir Mamma Smuts, Sannie en Frikkie van sy gelukkige dag vertel. Dis asof hy ’n skat huis toe gebring het, en op ’n manier het hy.
Mamma Smuts pak die vet, pienk worsies op haar mooiste bord uit en bêre hulle in die kas. Sy weet presies wat sy daarmee gaan maak. Dit gaan haar allerbeste Chakalaka ooit wees, en dan, op die laaste oomblik, gaan sy die worsies opsny en hulle daarby inroer. Dit sal die dis nog lekkerder en meer vullend maak.
Mamma Smuts sny en kap, strooi en gooi; natuurlik met Sannie en Frikkie se hulp.
Toe, terwyl Mamma Smuts ’n bietjie van dit en baie van dat byvoeg, help Sannie en Frikkie vir Pappa Smuts om die tafel te dek en ’n bos veldblomme vir die tafel te pluk.
En toe is dit uiteindelik tyd vir aandete. En wat ’n ete!
“Mmm!” sê Sannie.
“Mmm, mmm!” sê Frikkie.
En, “Oe . . . oe!” sê Pappa Smuts. “Ek het nie gedink dis moontlik nie, maar hierdie Chakalaka is beter as jou heel beste ooit. Daardie worsies het beslis die verskil gemaak!”
Mamma Smuts sê niks. Maar as Pappa Smuts, Sannie en Frikkie nie so besig was om aan hul tweede porsies te smul nie, sou hulle gehoor het hoe sy na haar asem snak.
Mamma Smuts stap vinnig na die kombuiskas toe. Sy maak die vet, pienk worsies toe en wonder hoe op aarde sy van hulle kon vergeet het.
Maar toe dink sy: “Worsies vir ontbyt. Dit klink heerlik!”