Eendag, lank, lank gelede, was al die diere baie maer. Dit was omdat daar nie genoeg kos was om te eet nie.
Maar Otter, sy vrou en al sy kinders was spekvet. Dit het nie gelyk of hulle honger ly nie. Jy sien, Otter was baie, baie slim. Hy het ’n vlak meer vol vis gevind, maar hy het vir niemand daarvan vertel nie. Elke oggend het hy na die meer toe gegaan en net genoeg vis vir hom en sy gesin gevang.
Luiperd was maer en honger. Hy was altyd op soek na iets om te eet. Op ’n dag sien hy vir Otter en sien ook hoe vet hy is.
“Mmmm,” sê Luiperd. “Wat gaan hier aan? Ek dink ek moet hierdie otter dophou.”
Die volgende oggend kruip hy toe in die lang gras naby Otter se huis weg en hy wag. Uiteindelik kom Otter verby. Hy loop stadig en dra ’n mandjie wat baie swaar lyk. Luiperd spring uit die lang gras uit.
“WAT het jy in daardie mandjie?” grom Luiperd.
“O! Ummm … vuurmaakhout! Ek dra vuurmaakhout terug na my huis toe,” sê Otter. Maar hy het vergeet dat Luiperd ’n baie goeie neus het en ALLES kan ruik.
“O nee,” grom Luiperd, “ek ruik vis, en ek gaan alles opeet.”
Otter weet hy is te stadig om weg te kom van Luiperd af, wat baie vinnig kan hardloop. Maar Otter is BAIE slim.
“Goed dan,” sê Otter. “Kom ons sit onder hierdie koelteboom.” Hulle gaan sit en Otter sê: “Waarom maak jy nie ’n vuur terwyl ek huis toe gaan om ’n bietjie sout, peper en olie te gaan haal nie, en dan kan ons ’n heerlike maaltyd saam geniet.”
“Blink plan,” sê Luiperd wat opspring om droë vuurmaakhout vir die vuur te gaan soek.
Otter gaan na sy huis toe. Sommer gou is hy terug met die sout, peper en olie. Hy het ook ’n lang stuk sterk tou saamgebring. Hy sit alles op die grond neer en begin die vis braai.
“Luiperd,” sê hy, “kom ons speel ’n speletjie terwyl ons wag vir die vis om gaar te word. Ons kan hierdie tou gebruik. Ons bind mekaar aan die boom vas. Jy kan my eerste vasbind. Wanneer ek ‘LOS’ sê, moet jy die tou stywer vasbind. Wanneer ek ‘VAS’ sê, moet jy die tou losmaak.”
Dit was natuurlik verkeerdom. Almal weet vas beteken vas en los beteken los. Maar Luiperd is honger. Hy dink die speletjie sal die tyd vinniger laat omgaan terwyl die vis gaar word.
“Blink plan,” sê Luiperd.
Otter staan met sy rug teen die boom. “Goed, gereed, LOS!”
Luiperd spring op en bind Otter aan die boom vas. Na ’n rukkie skree Otter: “VAS!” en Luiperd maak die tou los om Otter vry te laat.
“Nou is dit jou beurt, Luiperd,” sê Otter.
Luiperd gaan sit met sy rug teen die boom en roep: “LOS!”
Gou bind Otter vir Luiperd styf aan die boom vas.
Na ’n rukkie skree Luiperd: “GOED, VAS!” Maar in plaas daarvan om die speletjie te speel soos hy dit verduidelik het, bind Otter vir Luiperd stywer vas. Hy bind die tou so styf vas dat Luiperd nie kan loskom nie.
“Komaan!” roep Luiperd. “Ek’s nou moeg vir hierdie speletjie.”
Otter lag net. Hy gaan sit by die vuur en geniet sy ete. Toe hy klaar is, pak hy die res van die vis vir sy gesin in en gaan huis toe.
Luiperd brul en brul en brul. “HEEELLLPPP!!!” Die res van die dag en die hele nag roep Luiperd na iemand om hom te kom help. Maar niemand kom nie.
Gelukkig vir Luiperd is dit nie die einde van die storie nie. Die volgende oggend brul hy weer: “HELP! HEEELLLPPP!!!”
Hierdie keer kom Muis verby en sien vir Luiperd.
“Wat doen jy hier, so vasgebind aan die boom?” vra Muis.
“Ek het ’n speletjie van los en vas met Otter gespeel en hy het my net hier gelos om dood te gaan van die honger,” sê Luiperd. “Maak my asseblief tog los. Jy het sulke skerp tande en jy kan vinnig deur die tou knaag.”
Muis voel jammer vir Luiperd, maar hy weet as hy vir Luiperd losmaak, sal Luiperd hom opeet. “Ek’s nie seker nie,” sê Muis.
“Asseblief,” smeek Luiperd. “Ek is al ’n hele dag en nag lank hier. Ek is so dors en honger.”
Arme Muis. Hy is goedhartig, maar baie dwaas. Hy begin aan die tou knaag. Hy knaag deur ’n paar drade en wag. Niks gebeur nie. Luiperd roer nie. Toe knaag Muis deur al die drade, een vir een, totdat Luiperd uiteindelik vry is.
“WRAAAAAA!” brul Luiperd. In plaas daarvan om dankbaar te wees, probeer hy vir Muis gryp. “WRAAAA!” brul hy weer terwyl hy met sy groot poot kap.
Arme Muis piep en skarrel in ’n gat daar naby in. Muis is vinnig, maar nie vinnig genoeg nie. Luiperd slaan sy skerp kloue in Muis se rug in net voor hy in die gat kan verdwyn.
Van toe af praat otters en luiperds nie met mekaar nie. Muise praat ook nie met luiperds nie. En muise sal ook nie met otters praat nie, want hulle blameer die otters dat hulle al die moeilikheid begin het.
En van daardie dag af, het die arme, arme muis strepe op sy pels. En almal weet dit is die krapmerke wat luiperd se kloue gemaak het.