Layla is dol oor legkaarte. Alles oor legkaarte is vir haar lekker – van die prent op die boks tot die oomblik wanneer sy die laaste stukkie in sy plek pas. Sy hou selfs van die geluid wat die stukkies maak en hoe dit voel as sy dit op die tafel rondskuif. Elke Saterdagoggend wanneer Layla se mamma haar biblioteek toe vat om nuwe boeke uit te neem, neem Layla ook ’n legkaart uit.
Die bibliotekaresse hou al die legkaarte op ’n rak agter haar lessenaar, en elke Saterdag wanneer Lalya vra of sy na die legkaarte kan kyk sodat sy nog een kan uitneem, sê die bibliotekaresse: “Sjoe, Layla, maar jy is omtrent dol oor legkaarte!” En Layla gee glad nie om nie, want sy is REGTIG dol oor legkaarte!
Die meeste Saterdae nadat hulle by die biblioteek was, kom Shireen, Layla se beste maat, by haar speel. Wel, sy is byna Layla se beste maat, behalwe vir een ding – Shireen moet altyd die beste met alles wees.
Een Saterdagoggend neem Layla ’n legkaart van ’n Afrikavisarend by die biblioteek uit. Die prent wys hoe die voël hoog in die lug vlieg met sy vlerke wyd uitgesprei en ’n vis in sy kloue. Die legkaart het meer stukke as enige legkaart wat Layla nog ooit gebou het. En nie net dit nie, die stukke is ook kleiner as enige legkaart wat Layla al gebou het. Layla is blyer as bly! Maar Shireen is glad nie gelukkig nie, want al wat Layla wil doen, is om die legkaart te begin bou.
“Ek wil nie ’n vervelige legkaart bou nie,” sê Shireen. “Kom ons speel liewer winkel-winkel.”
“Goed,” sê Layla, “en daarna kan ons my legkaart bou.”
“Ek sal die winkelier wees,” sê Shireen, “want ek is die beste daarmee, en jy kan dan by my kom koop.”
Sommer gou het Layla al haar geld uitgegee. Toe sê Shireen: “Kom ons speel hospitaal-hospitaal.”
“Nee,” sê Layla. “Ek het winkel-winkel gespeel. Kom ons bou nou my legkaart.”
Maar om een of ander rede wil Shireen steeds nie die legkaart bou nie, en daarom sê sy: “Kom ons speel nou hospitaal-hospitaal en dan kan ons die legkaart na middagete bou.”
En dit is toe wat hulle doen.
“Ek sal die dokter wees,” sê Shireen.
“Nee, jy was die winkelier,” sê Layla. “Ek sal die dokter wees.”
“Maar jy kan nie,” sê Shireen, “want ek is die beste daarmee.”
Toe is Shireen die dokter en Layla die pasiënt!
Toe Dokter Shireen die pasiënt begin ondersoek, kielie sy haar, en die pasiënt begin giggel en wil nie stil lê nie. Toe skree Dokter Shireen: “Lê stil of ek speel nie verder met jou nie.”
Maar voordat Dokter Shireen nog kwater kan raak, roep Layla se mamma hulle vir middagete.
“Ek hoop julle meisies speel lekker,” sê Layla se mamma.
“Ja,” sê Layla, wat net ’n hap wil vat van haar heerlike roti met grondboontjiebotter, gerasperde wortels en sultanas. “Na middagete gaan ons my legkaart bou.”
“Ek wil nie jou legkaart bou nie,” sê Shireen.
“Maar jy het belowe,” sê Layla.
“Wel, nou wil ek nie meer nie. Ek wil inkleur,” sê Shireen.
Teen hierdie tyd is Layla moeg vir Shireen se praatjies dat sy die beste met alles is, en sy is kwaad vir Shireen omdat sy nie haar beloftes hou nie. Niks gaan haar keer om haar legkaart te bou nie. Na middagete gee Layla toe vir Shireen ’n inkleurboek en kleurkryte sodat sy kan inkleur terwyl Layla haar legkaart bou. Maar daar is net een prentjie in die inkleurboek oor om in te kleur en Shireen is sommer gou klaar daarmee. Sy hou dit op om vir Layla te wys en sê: “Jy’s so stadig!”
“Dis omdat hierdie legkaart moeilik is,” sê Layla.
“Ek is seker ek kan dit vinniger as jy doen,” sê Shireen.
“Reg,” sê Layla, “wanneer ek klaar is, kan jy dit probeer en dan sal ons sien!”
“Goed,” sê Shireen, “maar net as ek wil.”
Toe Layla die legkaart klaar gebou het, breek sy dit op. Sy pak al die stukkies terug in die boks, behalwe vir die stukkie met die arend se oog daarop. En toe gee sy die boks vir Shireen.
“Hierso,” sê sy, “dis nou jou beurt.”
“Ek voel nie lus om dit te doen nie,” sê Shireen.
“Maar jy het belowe!” sê Layla.
“Nee, ek het nie!” sê Shireen. “Ek het gesê net as ek wil, en ek wil nie.”
“Dalk wil jy nie omdat jy nie legkaarte kan bou nie,” sê Layla.
“Ek kan!” skree Shireen terug. “Ek is die beste met legkaart bou!”
“Doen dit dan,” sê Layla.
Shireen gryp die boks by Layla. “Ek sal,” sê Shireen, “maar net as jy buite gaan speel. Ek sal jou roep as ek klaar is.”
Layla gaan buitentoe en teken prente in die sand met ’n stok terwyl Shireen die legkaartboks oopmaak en begin om die legkaartstukkies om te draai sodat die prent na bo wys.
Buite vind Layla ’n ou stuk tou en bind dit om die lukwartboom sodat hulle kan touspring wanneer Shireen klaar is met die legkaart. Maar binne sukkel Shireen om die legkaartstukkies inmekaar te pas. Sy wens sy het nie gesê dat sy die beste met legkaarte is nie. Sy breek vinnig die deel van die legkaart op wat sy klaar gebou het en pak al die stukkies terug in die boks. Toe hardloop sy buitentoe en roep vir Layla wat tot hoog bo in die lukwartboom geklim het. “Ek is klaar!”
“Met die hele legkaart?” vra Layla.
“Jip,” sê Shireen en sy begin die boom klim.
“Stop!” skree Layla. “Ek gaan afklim om te kom kyk.”
“Maar ek het al klaar die legkaart weggepak,” sê Shireen.
“Hoekom?” vra Layla.
“Sodat jy dit nie later hoef weg te pak nie,” antwoord Shireen.
“O,” sê Layla, “maar wat van hierdie stukkie?” Sy hou die stukkie met die arend se oog op.
Shireen is skielik baie stil. Sy sit in die boom en voel afgehaal.
Na ’n rukkie sê Layla: “Haai, raai wat, ek het ryp lukwarte gekry. Wil jy ook hê?”
“Ja, asseblief,” sê Shireen met ’n dun stemmetjie.
Layla klim af na die laer tak waar Shireen sit en gee vir haar van die lukwarte. En so sit hulle in die boom en lukwarte eet en kyk hoe ver hulle die pitte kan spoeg.
Shireen spoeg die verste.
“Jy’s die beste,” sê Layla.
“En jy,” sê Shireen, “is die beste, beste maat.”
Wees kreatief!
Maak jou eie legkaart! Knip ’n prent uit ’n tydskrif of koerant – of teken jou eie. Plak die prent op ’n stuk karton en trek lyne daarop om die legkaart in die aantal stukke wat jy wil hê te verdeel. Knip nou op die lyne uit. Meng die stukke en bou jou legkaart of gee dit vir ’n maat om te bou.