Ashley is besig om ’n legkaart te bou toe haar ouboet, Ben, in die sitkamer inkom.
“Môre is Moedersdag,” sê hy. “Ons moet iets baie spesiaals vir Mamma doen. Sal jy my help?”
Ashley klap haar hande. “Ooee, ja, Ben. Gaan ons inkopies doen?”
“Nee, ek het al klaar vir haar ’n geskenk gekoop. Wil jy kom kyk?”
Ashley volg haar broer tot in die garage. Op die bankie, weggesteek onder ’n laken, is ’n pragtige houtrak in die vorm van ’n hart.
“Ek het gedink ons kan dit blou verf,” sê Ben.
“Ooee, ja,” sê Ashley. “Blou is Mamma se gunstelingkleur. Sy gaan mal wees oor haar geskenk.”
Ben kry twee verfkwaste en skuurpapier en hulle spring aan die werk. Eers skuur hulle die rak af, toe verf hulle ’n wit onderlaag op, en laaste verf hulle dit ’n blink, helderblou. Die rak is pragtig.
“Wat doen julle twee daar binne?” vra Mamma toe sy terugkom van die winkels af.
“Niks nie! Bly weg!” roep Ben.
“Dis ’n verrassing,” giggel Ashley.
Daardie middag gaan Mamma haarsalon toe.
“Gou, Ashley,” roep Ben, “dis tyd om die rak teen die muur vas te maak. Kan jy die skroewe en die skroewedraaier vir my vashou terwyl ek die gate in die muur boor? Moenie die skroewe verloor nie. Ek het nie nog nie.”
Ashley hou die skroewedraaier en skroewe styf vas terwyl Ben meet waar die rak teen die muur moet kom. Sy druk haar ore toe terwyl hy drie gate boor.
“So ja,” sê Ben. “Gee nou vir my die eerste skroef aan.” Versigtig skroef hy die rak teen die muur vas. “Nou die ander twee skroewe, Ashley,” sê hy.
Maar Ashley kan net een skroef vind. Die ander een is nie in haar sak nie. Dit is nie op die vloer of agter die rusbank nie. Dis weg. Dis byna vyfuur. Mamma gaan enige oomblik terugkom.
“Toemaar,” sê Ben. “Dis goed genoeg vir nou. Ek sal in die week nog een gaan koop.”
“Wat gaan ons op die rak sit?” vra Ashley.
“Ek dink Mamma se beste vaas wat haar ouma vir haar gegee het,” sê Ben. “En haar gunsteling-kandelare.”
“En die trofee wat ek by die skool gewen het omdat ek die beste lees?” vra Ashley.
“Beslis,” sê Ben. “En die foto van my en jou en Mamma toe jy ’n baba was. Sy hou baie van daardie foto.”
Versigtig rangskik hulle Mamma se spesiale goed op die rak. Toe gooi Ben die laken oor die rak, sodat dit weggesteek is.
’n Paar minute later kom Mamma by die huis aan. “Hallo, hallo,” roep Mamma. “Waarmee was julle twee besig?”
“Dis ’n verrassing,” giggel Ashley, “en jy mag nie sien wat agter die laken is nie.”
“Ek is so opgewonde,” sê Mamma. “Ek is seker dis iets wonderliks.”
“Belowe Mamma sal nie loer nie?” vra Ashley toe dit slaaptyd is.
Haar mamma vou haar styf toe en gee haar ’n soentjie en ’n drukkie. “Jy is my spesiale meisiekind. Ek belowe ek sal nie eens die hoekie van die laken oplig nie.”
Dis byna oggend toe Ashley van ’n groot geraas wakker word. Sy spring uit die bed. Ben en Mamma staan in die sitkamer en staar na die ’n verskriklike gemors op die vloer.
“Ag nee,” roep Ben, “die rak het van die muur af geval.”
“Ag nee,” roep Ashley, “Mamma se Moedersdaggeskenk is geruïneer.”
“Ag nee,” roep Mamma, “my gunstelingvaas het in klein stukkies gebreek.”
Almal is ontsteld. Mamma sit op die bank en probeer om nie te huil nie.
“Ons sal dit opruim,” sê Ben. “Gaan klim terug in die bed, Mamma.”
“Gelukkige Moedersdag,” sê Ashley hartseer.
Ben gaan haal die besem en vee al die stukkies van Mamma se gunstelingvaas op. Hy is baie ontsteld. “Mamma se ouma het daardie vaas vir haar gegee, en nou is dit stukkend.” Hy gooi die stukkies in die vullisblik. “Ons moet liewer weer gaan slaap,” sê Ben vir Ashley. “Dis nog nie opstaantyd nie.”
Ashley kyk na die rak wat op die vloer lê. Dit was so ’n spesiale geskenk. Nou het hulle niks om vir Mamma te gee wanneer sy wakker word nie.
Ashley loer in die vullisblik. Al die stukkies van Mamma se vaas is daar. Dalk kan sy dit met gom aanmekaar plak? Sy tel die vullisblik op en hardloop garage toe. Op die rak is ’n groot pot gom. Sy sprei koerantpapier op die werkbank uit en keer die vullisblik daarop om. Daar is so baie stukkies! Hoe is sy veronderstel om te weet wat kom waar?
“Ek weet!” roep sy uit. “Dis soos ’n legkaart. Baie klein stukkies wat in mekaar pas. Eers sal ek al die stukkies met reguit rande soek. Dit moet die rand van die vaas wees. En hierdie groot stuk het ’n oor aan, so dit moet die kant wees. En daar behoort nog ’n oor te wees – aha, hier is dit.”
Toe sy al die stukkies in die regte volgorde uitgepak het, begin sy hulle aan mekaar vasplak. Dis harde werk. Die gom sit aan haar vingers vas, en sy moet wag vir die stukkies om droog te word. Dit vat ure.
Uiteindelik is die vaas klaar. Dit is nie presies dieselfde as die ou een nie. Hierdie een het ’n snaakse bult aan die een kant, en die rand is ’n bietjie skeef, maar Ashley weet Mamma sal skaars die verskil sien.
Ashley kyk by die venster uit. Die buurvrou, mev. Du Toit, lei haar groente nat. Mev. Du Toit is baie slim en kan enigiets maak. Ashley hardloop na die heining toe. “Kan tannie asseblief vir my een skroef leen en my help om ’n rak reg te maak?” vra sy, en toe vertel sy vir mev. Du Toit die hele storie.
“Natuurlik,” sê mev. Du Toit. “Ek kom dadelik oor.”
Mamma word negeuur wakker. Sy is nog baie hartseer. Sy vind Ashley vas aan die slaap op die rusbank, en sy sien ’n laken wat oor iets teen die muur hang.
“Waarmee was jy die hele oggend besig, Ashley?” vra sy.
“Verrassing!” gil Ashley. “Gelukkige Moedersdag. Jou geskenk is agter die laken.”
Mamma lig die laken versigtig op. Daar is die blou rak met die kandelare, en die foto, en die trofee, en … MAMMA SE BESTE VAAS.
Mamma klap hande. “Jy het dit reggemaak!” roep sy. “Dis so goed soos nuut. Dis beter as toe dit nuut was. Dis die beste geskenk wat ek nog ooit gekry het,” sê sy, en gee vir Ashley ’n stywe druk.
Ben gee ook vir Ashley ’n drukkie. “Jy’s baie slim!” sê hy. “Jy het Moedersdag gered.”
Ashley is so trots. Mamma se vaas lyk nie presies dieselfde nie, maar dit lyk steeds mooi op die nuwe blou rak.