Dit reën katte en honde, en Amina is omgekrap en eensaam. Nie een van haar maats kan kom speel nie, en almal in die huis is besig. Almal is altyd besig! Dit is glad nie pret om die jongste te wees nie.
Amina lê op haar bed. En sy staan op haar kop. Toe sit sy haar feetjievlerke aan en begin dans. Amina draai en swaai. Sy skarrel en dartel. Sy ruk en rol selfs. Toe flop sy weer op haar bed neer. Niks help nie. Sy is steeds omgekrap en sy is steeds eensaam.
Amina begin haar speelgoed uitpak. Die meeste daarvan is ou goed wat sy van haar ouer susters gekry het, selfs die speelgoedkis het sy geërf. Sy sit vir Eli, Dassie, Konyn en Muis op haar bed. Hulle gaan ’n teepartytjie hou sodra sy die teepot kry.
Sy soek weer in die ou speelgoedkis, en dis toe dat Amina vir Dingetjie kry. Hy lê vergete onder in ’n naaldwerkmandjie, heel onder in die speelgoedkis.
Amina draai Dingetjie om om sy gesig te sien, maar hy het nie een nie. Arme vergete Dingetjie! Hy het ’n vorm, soort van ronderig-vierkantig, maar geen gesig of arms of bene of vlerke of stert of enigiets nie.
Amina sit vir Dingetjie op die bed neer, tussen Elien Dassieen oorkant Konyn en Muis. Sy vind die teepot en skink die tee. Eli, Dassie, Konyn en Muis drink hulle tee blitsvinnig op, en Amina ook. Maar nie Dingetjie nie. Wel, hoe kan hy as hy nie ’n mond het nie!
Amina vat vir Dingetjie en die naaldwerkmandjie en gaan soek haar ouma.
“Watse ding is dit?” vra haar ouma.
“Dingetjie,” sê Amina. “Dingetjie het ’n mond nodig.”
“Reg so,” sê Amina se ouma, “maar ons moet gou maak. Ek is baie besig en ek het nog so baie om te doen.”
Amina se ouma help haar om ’n mond vir Dingetjie te stik;’n mooi mond wat glimlag.
“En Dingetjie kort nog ’n neus ook,” sê Amina. Maar haar ouma luister lankal nie meer nie.
Amina gaan soek haar middelste suster, Fozia.
“Watse ding is dit?” vra Fozia.
“Dingetjie,” sê Amina. “Dingetjie kort ’n neus.”
“Reg so,” sê Fozia, “maar ons moet gou maak. Ek is regtig besig en ek het nog baie om te doen.” Fozia help vir Amina om ’n neus vir Dingetjie te maak − ’n klein wipneusie.
“En oë,” sê Amina. Maar Fozia luister lankal nie meer nie. Amina gaan soek toe haar oudste suster, Shireen.
Op pad sien Amina se pa haar.
“Watse ding is dit?” vra haar pa.
“Dingetjie,” sê Amina. “Dingetjie kort oë.”
“Ek het ’n paar,” sê haar pa, “maar ons moet gou maak, want ek het nog baie om te doen.”
Amina en haar pa werk Dingetjie se oë vas − twee mooi knopie-oë.
“En ’n stert,” sê Amina.
“Jammer, ek kan jou nie daarmee help nie,” sê haar pa.
Amina gaan soek toe haar oudste suster, Shireen.
“Gits,” sê Shireen, “waar het jy dit gekry?” Amina vertel haar. “Sjoe!” sê Shireen. “Ek het dit begin maak toe jy gebore is, maar ek het dit iewers verloor voor ek klaar was.”
Amina gee Dingetjie vir Shireen. “Ag, maar hy is oulik,” sê Shireen. “Het hy ’n naam?”
“Dingetjie,” sê Amina, “en Dingetjiekort ’n stert.”
Amina en Shireen maak toe vir Dingetjie ’n stert − ’n swiepende swaaiende stert! Toe kyk Amina en Shireen na Dingetjieen Dingetjie glimlag vir hulle!
“Wat van krulhaartjies?” vra Shireen, “en spits oortjies? Maar dan moet jy skoert, want ek is regtig besig en ek het nog my eie goed om te doen.”
Amina vat vir Dingetjie terug na haar kamer toe en sit hom tussen Elien Dassie en oorkant Konyn en Muis. Toe maak sy ’n vars pot tee.
Amina drink een koppie en Eli, Dassie, Konyn en Muis ook, maar Dingetjie is baie dors en drink drie koppies. Hy moes immers baie lank wag vir tee!