Die boer en sy familie
Home | Written stories | Multilingual stories | Die boer en sy familie

Written stories

Die boer en sy familie

Author

Shasha Seakamela

Illustrator

Johann Strauss

Translator

Anita van Zyl

Lank, lank gelede het daar in Limpopo ’n boer saam met sy familie gewoon – sy donkie, sy vark, sy hond, sy kat en sy hoenderhaan. Hulle het almal gelukkig saam op die plaas gewoon. Maar op ’n dag bly die reën weg en daar is nie meer water nie. Die groente kan nie meer natgelei word nie, en daar is nie baie water oor om te drink nie.

Die boer roep sy donkie, vark, hond, kat en hoenderhaan. “Ons moet na ’n plek trek waar daar water is,” sê hy. So vertrek hulle toe almal. Die boer neem ’n paar van sy besittings in ’n sak met hom saam. Saam stap hulle in ’n ry met die stowwerige pad langs. Slof-slof! Klip-klop! Snork-snork! Woef-woef! Miaau-miaau! En koe-ke-le-koee!
Farmer and family 1

Op pad na ’n plek waar daar water is, ontmoet die boer en sy diere ’n kraai. Die kraai kyk hoe hulle almal stap en lag vir die boer.

“Kwaaa! kwaaa! Waarom stap jy as jy ’n donkie het? As ek jy was, sou ek op die donkie ry,” kras die kraai toe hy weer laggend wegvlieg: “Kwaaaa! Kwaaaa!”

Die boer dink vir ’n rukkie hieroor na. Toe besluit hy om op die donkie se rug te klim. Hy ry op die donkie terwyl die ander diere agter hulle aanstap. Klip-klop! Snork-snork! Woef-woef! Miaau-miaau! En koe-ke-le-koee!

Sommer gou ontmoet hulle ’n meerkat.

“Wa-wa-wag! Wa-wa-wag! Jy het geen skaamte nie,” sê die meerkat vir die boer terwyl sy regop sit om na hulle te staar. “Hoe kan jy alleen op die donkie se rug ry? Kyk hoe moeg is jou vark? Die sweet tap by sy neus af.” Voor sy in haar huis verdwyn, lag sy weer: “Wa-wa-wag! Wa-wa-wag!”

Die boer gaan staan en dink na oor wat die meerkat gesê het. Hy kyk af na sy vark en besluit om die vark saam met hom op die donkie se rug te laat ry.

“Spring op, Vark! Spring op die donkie se rug,” sê die boer. Die vark spring toe op en gaan sit agter die boer op die donkie se rug. En so stap hulle verder. Klip-klop! Woef-woef! Miaau-miaau! En koe-ke-le-koee!

Eindelik sien die boer ’n rivier, maar dit is nog ver weg.

“Ons gaan daarheen,” sê hy en wys daarna. Die diere stem almal saam en hulle stap verder tot hulle ’n jakkals ontmoet.

“Haauauaua! Haauauaua!” huil die jakkals. “Jy is ’n wrede boer. Hoe kan jy en jou vark alleen op die donkie se rug ry? Kyk hoe moeg is jou hond. Haar tong hang uit. En jou kat se voete sleep. En kyk na jou hoenderhaan se vere, hulle hang almal,” sê die jakkals en verdwyn in die bos terwyl hy steeds lag: “Haauauaua! Haauauaua!”

Die boer voel sleg en besluit hulle moet nou almal op die donkie se rug ry. Hy skuif vorentoe tot op die donkie se nek.

“Spring op, Hond! Spring bo-op die vark,” sê die boer. Die hond spring toe bo-op die vark, wat op die donkie se rug agter die boer sit.

“Spring op, Kat! Spring bo-op die hond,” sê die boer. Die kat spring toe bo-op die hond, wat bo-op die vark sit, wat op die donkie se rug agter die boer sit.

“Spring op, Hoenderhaan! Spring bo-op die kat,” sê die boer. Die hoenderhaan spring toe bo-op die kat, wat bo-op die hond sit, wat bo-op die vark sit, wat op die donkie se rug agter die boer sit.

So stap hulle padlangs. Klip-klop, klip … klop, klip … klop! Hulle is naby die rivier, maar nou is die donkie pootuit.
Farmer and family 2

Skielik staan daar ’n haas reg voor hulle.

Die haas kyk na hulle en sê: “Greeeeee! Greeeeee! Jy is ’n wrede boer. Wat het jou donkie gedoen om so ’n straf te verdien? Waar ek vandaan kom, word almal goed behandel.” Toe sê die haas weer: “Greeeeee! Greeeeee!” voor hy in die bos verdwyn.

Die boer dink na oor wat die haas gesê het. Hy voel baie sleg. Die boer wil iets vir die haas sê oor al die dinge wat langs die pad vir hom gesê is, maar die haas het reeds spore gemaak.

Na nog ’n paar treë, gaan staan die donkie skielik en sak op sy knieë neer. Die hoenderhaan kraai en vlieg weg. Die kat miaau en spring af. Die hond blaf en hardloop weg. Die vark oink en rol tot op die grond.

Die boer klim van sy donkie af en krap sy kop. Hy kyk na sy moeë donkie en gaan haal toe vir hom water. Die boer onthou al die dinge wat vir hom gesê is terwyl hy en sy diere gestap het. Hy dink en dink en toe besluit hy dat hy nooit, ooit weer net sal doen wat vir hom gesê word nie. Hy sal eers baie goed daaroor nadink en kyk of dit die regte ding is om te doen. Hy sal ook vir sy diere vertel wat gesê is en dan sal hulle saam besluit wat om te doen.

Die boer roep sy donkie, vark, hond, kat en hoenderhaan en hulle gaan sit almal in die skaduwee van ’n groot maroelaboom. Terwyl hulle so sit, vra die boer die donkie om hom te vergewe.

Van daardie dag af, is hulle almal beste vriende. En van daardie dag af, behandel die boer altyd al sy diere goed.

 

Wees kreatief!

Moedig jou kinders aan om die boer en die diere in die storie uit Plasticine of speeldeeg te maak. Lees dan weer die storie hardop terwyl die kinders hulle Plasticine-/speeldeeg-karakters gebruik om die storie op te voer.