’n Verjaardaggeskenk vir Pappa
Home | Written stories | Multilingual stories | ’n Verjaardaggeskenk vir Pappa

Written stories

’n Verjaardaggeskenk vir Pappa

Author

Ann Walton

Illustrator

Magriet Brink

Translator

Anita van Zyl

“Dis vandag Pappa se verjaardag,” sê Mamma.

“Ek wil vir hom ’n geskenk gee!” sê Alex. “Wat kan ek vir hom gee, Mamma?”

“Ons moet winkel toe gaan om meel te koop vir Pappa se verjaardagkoek,” sê Mamma. “Ons sal op pad winkel toe dink wat ons vir Pappa kan koop.”

“Reg so! Ek sal die inkopiesak dra,” sê Alex.

Alex en Mamma stap winkel toe. Alex hardloop vooruit op die uitgetrapte voetpaadjie. Dit is ’n pragtige dag. Die son skyn deur die dennebome en op die dennepitte wat op die grond geval het. Alex tel een op.

“Kyk, Mamma. Wat is dit?” vra hy.

“Dit is ’n dennepit,” sê Mamma.

“Dit lyk of dit ’n vlerkie het,” sê Alex.
birthday present for dad-1-lo res

“Dit is sodat dit op die wind kan sweef en ’n goeie plek kan vind waar dit kan groei en ’n groot denneboom kan word,” sê Mamma. “Al hierdie dennepitte op die grond het uit die dennebolle aan die bome geval.”

“Kan ek aan een proe?” vra Alex.

“Ja, maar jy moet dit eers uitdop,” sê Mamma, en sy kraak die dop met ’n klip.

“Hierso,” sê Mamma, en sy gee vir Alex die klein pitjie.

“Dit smaak lekker!” sê hy. “Dink jy Pappa sal van dennepitte hou vir sy verjaardag, Mamma?”

“Miskien,” sê Mamma.

Alex tel ’n handvol dennepitte op en sit hulle in die inkopiesak. Terwyl hulle verder stap, sien Alex hoe die son op die klippe weerkaats. Hy tel een op.

“Kyk hierdie bruin klip, Mamma,” sê hy. “Dis so glad. Dink jy Pappa sal daarvan hou vir sy verjaardag?” vra Alex.

“Miskien,” sê Mamma.

Alex tel die gladde bruin klip op, sit dit in die inkopiesak, en hulle stap verder. Toe sien Alex blou veldblomme langs die paadjie.

“Kyk na hierdie blomme, Mamma,” sê Alex. “Hulle is so blou soos die lug.”

“Hulle is klein veldblommetjies en hulle draai na die son toe,” sê Mamma.

Alex pluk een. “Dink jy Pappa sal van hierdie blou veldblommetjie hou vir sy verjaardag, Mamma?” vra hy.

“Miskien,” sê Mamma.

Alex sit die klein blou blommetjie in die inkopiesak.

Net toe kom Alex en sy mamma by die winkel aan. Mamma koop meel om vir Pappa ’n verjaardagkoek te bak. Sy koop ook klein verjaardagkerse om op die koek te sit.

Toe hulle by die huis kom, bak Mamma die verjaardagkoek en Alex haal die dennepitte en die gladde klip en die klein blou blommetjie uit die inkopiesak.

“Ag, nee! Kyk,” sê Alex, “die klein blou blommetjie het opgekrul en sy gesiggie toegevou.”

“Ja,” sê Mamma. “Veldblomme hou daarvan om na die son toe te draai, en hulle hou daarvan om in die grond te staan.”

“O,” sê Alex.

“Waarom teken jy nie vir Pappa ’n prent vir sy verjaardag nie?” sê Mamma.

“Goeie idee,” glimlag Alex. Hy gaan haal sy kryte en papier en teken vir Pappa ’n prent. Hy teken ’n huis met ’n rooi dak. Toe teken hy ’n groot groen boom langs die huis. Hy teken ook ’n tuinpaadjie al die pad van die voordeur tot by die rand van die bladsy, en hy teken blou blommetjies al langs die paadjie. Hy teken die blou lug aan die bokant van die bladsy en ook ’n groot geel son. Toe teken hy groen gras onderaan die bladsy. Laaste teken hy vir Pappa, Mamma en homself wat op die gras staan.

Toe kom Pappa huis toe van die werk af.

“Gelukkige verjaardag, Pappa,” sê Alex en gee vir hom sy geskenke. Eers gee hy vir Pappa die dennepitte. “Ek hou so baie van dennepitte,” sê Pappa.

Toe gee hy vir Pappa die gladde bruin klip. “Wat ’n spesiale klip!” sê Pappa. “Ek sal dit in my broeksak sit om geluk te bring!”

Toe gee hy vir Pappa die tekening. “O!” sê Pappa. “Dit is ons huis en ons boom en hier is ons! Jy, Mamma en ek. En ek hou regtig van die blou blommetjies langs die tuinpaadjie.”

“Daardie blou blommetjies is net so blou soos die lug,” sê Alex.

“Dankie vir al my geskenke, Alex,” sê Pappa, en hy gee vir Alex ’n stywe drukkie. “Ek dink ons moet blou veldblommetjies plant,” sê Pappa. “Ons sal hulle al langs ons tuinpaadjie plant, net soos die blommetjies in jou prent.”birthday present for dad-2-lo res

“Blink plan!” sê Alex. “Ek sal jou help om hulle te plant, Pappa!”

Na aandete steek Mamma die kersies op Pappa se verjaardagkoek aan. Pappa blaas hulle almal met een groot woesj! dood. Alex en Mamma sing vir Pappa “Veels geluk, liewe Pappa”.

“Ek hou daarvan om vir jou geskenke te soek, Pappa,” sê Alex met ’n breë glimlag.