Home | Node | Die beste straat in die wêreld

Story Library

Being told stories and being read to leads children to develop the rich storehouse of language, grammar and vocabulary they need to bring to texts when learning to read and write. 
Try our multilingual stories below or send us your own stories to share with others.

Die beste straat in die wêreld

Author

Deur Kirstin Hartmann

Illustrator

Illustrasies deur Johann Strauss

Translator

Vertaal deur Anita van Zyl

Langstraat is wyd en lank. In die somer, wanneer Sonny en sy maats ná skool huis toe stap, is hulle skoene vol stof. In die winter is hulle skoene vol modder en water. Maar wanneer dit skoolvakansie is, gee niemand om of die straat stowwerig of modderig is nie.

Langstraat is waar Sonny en sy maats krieket speel. Almal kom buitentoe om te kyk, en niemand kla as ’n bal in hulle tuin beland nie. Niemand nie, behalwe mnr. Peterson.

“Hierdie vakansie gaan ons die beste krieketwedstryde speel,” sê Sonny toe hulle een middag huis toe stap.

“JAAAA!” sê Simon en Jack.

“Thumi? Wat sê jy?” vra Sonny.

“Maar wat van HOM?” vra Thumi. Hy beduie na mnr. Peterson se huis. “Jack het al klaar een van sy vensters gebreek.”

“Wat van JOU?” sê Jack. “Jy het al klaar twee van ons balle tot in sy tuin geslaan.”

Hulle weet dat as hulle ’n bal oor mnr. Peterson se muur gooi of slaan, hulle dit nooit, ooit weer sal sien nie. As hulle bal onder die hek inrol, vat sy hond, Shikisha, dit. Hulle staar na mnr. Peterson se huis. Hy is die laaste paar maande in so ’n slegte bui.

“Het ons ’n krieketbal? Ek het gedink hy het almal,” sê Thumi.

“Ek het een,” sê Jack en glimlag, “so kom ons beplan die beste krieketwedstryd OOIT.”

Op die laaste skooldag kan Sonny nie wag om by die huis te kom om krieket te speel nie. Hy is so opgewonde, hy waai selfs vir mnr. Peterson, maar mnr. Peterson ignoreer hom net.

“Hallo, Mams,” roep hy toe hy inkom. Sy ma lees die koerant. Sy is opgewonde.

“Hallo, my kind,” antwoord sy. “Luister hier. Dis wonderlik. Langstraat gaan nou al die pad tot by die nuwe winkelsentrum strek. Uiteindelik sal daar busse en bushaltes wees, MAAR …” sê sy, “dit beteken ook julle sal nie meer in die straat kan speel nie.”

“WAAAT?” Sonny se hart sak in sy skoene. Die wedstryd is al klaar beplan! Hy stap weer buitentoe en gaan sit op die stoeptrappies en mor. ’n Harde lawaai laat hom opkyk. Mnr. Peterson staan op ’n leer en maak sy muur hoër deur nog bakstene by te voeg.

“Gmff!” brom Sonny vies. “Ek weet hy wil keer dat ons balle oor sy muur trek, maar nou kan hy dit maar laat staan.”

Toe kry hy ’n idee – as al sy maats bymekaarkom en al hulle ouers vra, dan … dalk … kan hulle een laaste krieketwedstryd speel. Hy hardloop om vir Simon te gaan soek.

Die volgende Saterdag heers daar groot opgewondenheid, want Sonny en Simon se plan het gewerk! Vandag gaan hulle laaste wedstryd wees – die grootste, beste krieketwedstryd OOIT! Al die kinders in die straat gaan speel. EN daar is pryse! Party van die ouers maak eetgoed vir almal om tydens middagete te deel. Thumi se pa gaan aan die einde van die dag die pryse oorhandig.

Selfs al is dit net vir die pret, voel Sonny ’n bietjie senuweeagtig. Die skare juig toe Thumi die eerste bal boul.

Jack tree vorentoe. KLAK! Hy slaan die bal so hard dat dit hoog die lug in trek.

Sonny hardloop vorentoe om die bal te vang, maar die son skyn reg in sy oë. Hy trek sy oë op skrefies, wag en beweeg onder die bal in. Almal skree. Toe Sonny sy hande om die bal begin sluit, skiet dit weer uit. Dit bons een keer en rol reguit onder mnr. Peterson se hek in. Sonny se moed sak in sy skoene.

“Wat gaan ons NOU doen?” vra Thumi.

“Ons kan nie aangaan met ons wedstryd nie!” sê Jack.

“Ons sal NOOIT die bal terugkry nie!” kerm Simon.

Sonny haal diep asem. “Ek sal die bal gaan haal,” sê hy.

“Maar mnr. Peterson sal met jou raas,” sê Thumi.

“Hy sal nie die bal vir jou gee nie … en Shikisha het waarskynlik klaar ’n gat gegrou en die bal begrawe!” sê Simon.

“Wel, ek moet probeer,” sê Sonny. “Dis ons laaste wedstryd en ons het nou net begin speel. Ons gaan nie weer ’n kans kry om so te speel nie.”

Dapper maak Sonny mnr. Peterson se hek oop en stap met die paadjie op. Shikisha is nêrens te sien nie. Sonny se maag draai. Hy is bietjie bang. Hy wil nie hê mnr. Peterson moet hom uitskel nie. Net voor hy by die voordeur kom, swaai dit oop. Daar staan mnr. Peterson. Hy lyk baie groter van naby. Sy wange is rooi en hy is briesend kwaad.

Net toe Sonny sy mond wil oopmaak, sê mnr. Peterson met ’n bulderende stem: “Sonny! Dit lyk of ek net betyds klaar is.”

“Ekskuus tog, Meneer?” sê Sonny.

“Kom,” sê mnr. Peterson en stap na sy agtertuin.

Sonny se mond val oop.

Dit is die grootste tuin in die straat. Die gras is gesny en daar is bome al om die rande. Mnr. Peterson het ’n tou om die rand van die tuin geplaas, net soos ’n regte krieketveld. En in die middel is daar krieketpaaltjies.

Sonny kyk op na mnr. Peterson en glimlag. Mnr. Peterson glimlag vriendelik terug. “Ek’s jammer ek kon jou nie waarsku oor die veranderinge aan die straat nie. Ek werk by die stadsraad, maar ek kon niks sê nie. MAAR … ek kon iets doen.” Hy lag. “NOU TOE … kry almal om hierheen te kom sodat ons kan krieket speel.”

Nou sal Sonny en sy maats altyd ’n plek hê om krieket te speel. Mnr. Peterson hou daarvan wanneer hulle kom kuier en hy geniet dit om na al die wedstryde te kyk. Hy is regtig goed met telling hou. En wanneer die bal te ver weg gegooi of geslaan word, hardloop Shikisha om dit te gaan haal!

Wees kreatief!

Moedig jou kinders aan om ’n prent te teken van die krieketveld in mnr. Peterson se agtertuin. Laat hulle die besonderhede in die storie gebruik om hulle te help. Stel voor dat hulle die paragraaf wat sy krieketveld beskryf, onder hul prente skryf.