Follow us

Author: Geskryf deur Pirai Mazungunye

Illustrator: Geïllustreer deur Vian Oelofson

Lank gelede, in die rustige dorpie Mudavula, het daar ’n baie lui trapsuutjies gewoon. In daardie tyd het al die diere die grond bewerk om vir hulle en hul families kos te voorsien. Almal behalwe Trapsuutjies. Omdat hy so lui was, wou hy nie soos al die ander diere werk nie. Hy dink toe eerder ’n slinkse plan uit sodat hy by die ander kan leen en lekker kan lewe.

 

Een Maandagoggend gaan Trapsuutjies na Haas toe om mieliemeel te leen. Voor hy by Haas se huis aankom, verander hy sy kleur van bruin na groen.

 

“Leen asseblief vir my ’n bietjie mieliemeel,” vra Trapsuutjies.

 

“En wanneer sal jy my terugbetaal?” wil Haas weet.

 

“Aan die einde van die maand!” belowe Trapsuutjies.

 

Haas maak die leë emmer wat Trapsuutjies saamgebring het, vol. Trapsuutjies neem die mieliemeel met ’n glimlag huis toe. Hy dink aan sy slinkse plan om die ander diere om die bos te lei. Hy sing ’n liedjie om hom te help om sy plan te onthou.

 

“Ek sal my kleur verander

Maar niemand sal ooit weet nie.

Ek was groen toe ek Haas my sien,

By Akkedis is ek weer geel.

Padda sal ’n swart trapsuutjies sien

En Skilpad weer ’n bruine.

Ek sal van kleur bly verander.

Hulle sal nooit weet dis ek nie!”

 

Dinsdagoggend word Trapsuutjies honger wakker. “Ek kan nie elke dag pap eet nie. Ek het rys nodig!” dink Trapsuutjies. “Ek sal my kleur na geel verander en na Akkedis toe gaan. As ek almal om die bos kan lei, sal ek niemand enigiets hoef te betaal nie!”

 

Trapsuutjies stap met sy leë emmer na Akkedis toe, en Akkedis is gaaf genoeg om dit vol rys te maak. Trapsuutjies belowe om Akkedis aan die einde van die maand terug te betaal.

 

Woensdag, nadat hy rys gekook het, kyk Trapsuutjies bek-af na sy bord. “Nee! Nee! Gewone rys is nie lekker nie. Ek het vleis nodig!” Trapsuutjies dink ’n rukkie na. “Padda sal vir my vleis gee!” besluit hy.

 

Trapsuutjies verander sy kleur na swart en hardloop na Padda se huis toe met sy leë emmer. Padda maak sy emmer vol vleis. Weer belowe Trapsuutjies om Padda aan die einde van die maand terug te betaal.

 

“Ek kort vrugte. Dis wat ek nodig het!” dink Trapsuutjies Donderdag. “Wie het vrugte?” dink Trapsuutjies en krap sy kop. “Skilpad! Ja, Skilpad!”

 

Story Categories

Invest in a nation of readers!