Duimpie het in die water geval
Duimpie het in die water geval, Duimpie se maat het hom uitgehaal, Langeraat het hom huis toe gedra, Fielafooi het hom neergelê, en Pinkie het vir Ma gaan sê. Druk vir elke reël op die regte vinger.
Hasie in die holte
Hasie in die holte sit en slaap. Arme hasie, is jy bang? Kyk net hoe jou ore hang. Hasie hop! Hasie hop! Hasie hop, hop, hop!
Duimpie, Duimpie se maat
Duimpie, Duimpie se maat, Langeraat, Fielafooi, Vang ‘n vlooi! Druk vir elke reël op die regte vinger.
Wielie, wielie, walie
Wielie, wielie, walie, die aap sit op die balie. Tjoef-tjaf val hy af, wielie, wielie, walie.
Trippe, trappe, trone
Trippe, trappe, trone, varkies in die bone, koeitjies in die klawer, perdjies in die hawer, die gansies in die groene gras, die eendjies op die waterplas. Ek wens dat kindjie groter was om al die diertjies op te pas.
Sakke, pakke
Sakke, pakke, sout en peper; gee my stoom dan loop ek beter!
Kiepie, Kiepie, kom tog gou
Kiepie, Kiepie, kom tog gou. Hier is lekker kos vir jou. Maar dan moet jy my eers sê waar jy tog jou eiers lê.
Die wind die waai
Die wind die waai, die haan die kraai, die dag breek aan − dis tyd om op te staan!
Die hik en ek
Die hik en ek gaan oor die see; die hik bly daar, en ek kom weer.