Follow us

Olke bolke

Olke bolke Riebeeck stolke, olke bolke knol. Êrie tjêrie tjiekerie tjêrie, êrie tjêrie tjor!   Uittelrympie: Elke kind hou twee vuiste voor hom uit en die hand waar “tjor” val, moet agter die rug gesit word. As altwee jou hande agter jou rug is, is jy uit.

Paddatjie, paddatjie

Paddatjie, paddatjie, wat maak jy daar? Kwaak-kwaak-kwaak, kwaak-kwaak-kwaak, daar op ‘n blaar.   Hier kom die eendjies uit onder die brug. Paddatjie skrik so hy val op sy rug.

Ek en my vroutjie

Ek en my vroutjie bly stoksielalleen in die vale pondokkie wat lek as dit reën. Vra hulle my waarom dek ek hom nie, dan sê ek: “As die son skyn dan lek hy mos nie.”

Alla wiep, alla wap

Alla wiep, alla wap, hoe kook jy die pap? Sonder suiker, sonder melk, ‘n groot bord vir elk.

Oom Olifant

Oom Olifant, jou reuse dier die mense lag vir hul plesier, want waar het jy al ooit gehoor van ‘n stertjie van agter en ‘n stertjie van voor?

Kat en muis

‘n Kat sê eendag vir ‘n muis: “Ek voel tog so alleen, kom speel hier met my in die huis, dan gee ek jou ‘n been!” “Nee dankie,” sê die slimme muis, “ek bly maar weg van jou − by katte voel ek glad nie tuis, hulle wil my beentjies kou!”

Duimpie het in die water geval

Duimpie het in die water geval, Duimpie se maat het hom uitgehaal, Langeraat het hom huis toe gedra, Fielafooi het hom neergelê, en Pinkie het vir Ma gaan sê. Druk vir elke reël op die regte vinger.

Hasie in die holte

Hasie in die holte sit en slaap. Arme hasie, is jy bang? Kyk net hoe jou ore hang. Hasie hop! Hasie hop! Hasie hop, hop, hop!

Duimpie, Duimpie se maat

Duimpie, Duimpie se maat, Langeraat, Fielafooi, Vang ‘n vlooi! Druk vir elke reël op die regte vinger.

Wielie, wielie, walie

Wielie, wielie, walie, die aap sit op die balie. Tjoef-tjaf val hy af, wielie, wielie, walie.

Invest in a nation of readers!