Olke bolke
Olke bolke Riebeeck stolke, olke bolke knol. Êrie tjêrie tjiekerie tjêrie, êrie tjêrie tjor! Uittelrympie: Elke kind hou twee vuiste voor hom uit en die hand waar “tjor” val, moet agter die rug gesit word. As altwee jou hande agter jou rug is, is jy uit.
Paddatjie, paddatjie
Paddatjie, paddatjie, wat maak jy daar? Kwaak-kwaak-kwaak, kwaak-kwaak-kwaak, daar op ‘n blaar. Hier kom die eendjies uit onder die brug. Paddatjie skrik so hy val op sy rug.
Die wind die waai
Die wind die waai, die haan die kraai, die dag breek aan − dis tyd om op te staan!
Die hik en ek
Die hik en ek gaan oor die see; die hik bly daar, en ek kom weer.
My liewe neef Louw
My liewe neef Louw, my neus jeuk nou. Jeuk liewe neef Louw se neus ook nou?
Handjies klap
Handjies klap, voetjies stap, ogies kyk, neusie snuit, mondjie fluit, kennebak, gorrelgat, doedelsak! Raak aan die verskillende liggaamsdele terwyl jy die woorde sê.
Een, twee, drie
Een, twee, drie, al die voëltjies vlie. Vier, vyf, ses, elkeen na sy nes.
Is jy boos
Is jy boos, pluk ’n roos, steek dit op jou hoed, dan is jy môre weer goed.
Ek en my vroutjie
Ek en my vroutjie bly stoksielalleen in die vale pondokkie wat lek as dit reën. Vra hulle my waarom dek ek hom nie, dan sê ek: “As die son skyn dan lek hy mos nie.”
Alla wiep, alla wap
Alla wiep, alla wap, hoe kook jy die pap? Sonder suiker, sonder melk, ‘n groot bord vir elk.