Click here to follow us on

Olke bolke

Olke bolke Riebeeck stolke, olke bolke knol. Êrie tjêrie tjiekerie tjêrie, êrie tjêrie tjor!   Uittelrympie: Elke kind hou twee vuiste voor hom uit en die hand waar “tjor” val, moet agter die rug gesit word. As altwee jou hande agter jou rug is, is jy uit.

Paddatjie, paddatjie

Paddatjie, paddatjie, wat maak jy daar? Kwaak-kwaak-kwaak, kwaak-kwaak-kwaak, daar op ‘n blaar.   Hier kom die eendjies uit onder die brug. Paddatjie skrik so hy val op sy rug.

My liewe neef Louw

My liewe neef Louw, my neus jeuk nou. Jeuk liewe neef Louw se neus ook nou?

Handjies klap

Handjies klap, voetjies stap, ogies kyk, neusie snuit, mondjie fluit, kennebak, gorrelgat, doedelsak!   Raak aan die verskillende liggaamsdele terwyl jy die woorde sê.

Een, twee, drie

Een, twee, drie, al die voëltjies vlie. Vier, vyf, ses, elkeen na sy nes.

Is jy boos

Is jy boos, pluk ’n roos, steek dit op jou hoed, dan is jy môre weer goed.

Ek en my vroutjie

Ek en my vroutjie bly stoksielalleen in die vale pondokkie wat lek as dit reën. Vra hulle my waarom dek ek hom nie, dan sê ek: “As die son skyn dan lek hy mos nie.”

Alla wiep, alla wap

Alla wiep, alla wap, hoe kook jy die pap? Sonder suiker, sonder melk, ‘n groot bord vir elk.

Oom Olifant

Oom Olifant, jou reuse dier die mense lag vir hul plesier, want waar het jy al ooit gehoor van ‘n stertjie van agter en ‘n stertjie van voor?

Kat en muis

‘n Kat sê eendag vir ‘n muis: “Ek voel tog so alleen, kom speel hier met my in die huis, dan gee ek jou ‘n been!” “Nee dankie,” sê die slimme muis, “ek bly maar weg van jou − by katte voel ek glad nie tuis, hulle wil my beentjies kou!”

Invest in a nation of readers!