Minnie Meerkat kry ʼn maat
Home | Written stories | Multilingual stories | Minnie Meerkat kry ʼn maat

Written stories

Minnie Meerkat kry ʼn maat

Author

Joanne Bloch

Illustrator

Jiggs Snaddon-Wood

Translator

Anita van Zyl

“Minnie, dis tyd om te gaan kos soek!” sê Mamma Meerkat een oggend. “Ek gaan jou vanoggend na ʼn nuwe plek toe stuur!”

Minnie Meerkat spits haar skerp oortjies. “Waarheen?” vra sy. Sy hou baie daarvan om op nuwe, opwindende plekke te gaan kos soek.

“Verlede week het die storm ʼn boom omgewaai,” sê Mamma Meerkat. “Die boomstam het ʼn brug oor die poel onder die koppie gevorm. Gaan soontoe, stap oor die boombrug en kyk of jy aan die oorkant van die poel iets lekkers kan kry vir ons om te eet.”

Meerkat1Minnie Meerkat spring dadelik weg. “Ek is klein, maar ek kan goed kos soek!” sing sy terwyl sy oor die koppie skarrel na die meer gelyke grond. Na ʼn rukkie sien sy vir Uil wat vakerig op ’n boomtak sit. “Goeiemôre, Uil,” sê Minnie Meerkat hoflik.

“Goeiemôre,” sê Uil met ʼn veraf stem. “Waarheen is jy so alleen op pad?”

“Ek gaan oor die brug oor die donker poel stap om kos te soek,” sê Minnie Meerkat trots.

“Wel, wees versigtig,” sê Uil. “Jy het nie skerp kloue soos ek nie!”

Minnie Meerkat stap verby nog ʼn paar bosse en bome. Toe sien sy vir Jakkals in die skaduwee van ʼn groot bos lê. “Wel, wel, is dit nie Minnie Meerkat nie,” sê Jakkals met ʼn vriendelike stem. “Waarheen is jy op pad?”

“Ek gaan kos soek aan die oorkant van die poel,” sê Minnie Meerkat.

“Hmm, wees versigtig,” sê Jakkals. “Jy het nie skerp tande soos ek nie!”

Nou kan Minnie Meerkat al die water van die poel in die verte sien blink. Sy hardloop vinnig verder. Na ʼn rukkie kom sy vir Konyn teë. Hy lê rustig in die lang gras en geniet die sonskyn. “Goeiemôre, Minnie,” sê hy temerig, terwyl hy aan ʼn lang grasspriet kou. “Waarheen is jy so haastig op pad?”

“Ek gaan kos soek aan die oorkant van die poel,” verduidelik Minnie Meerkat.

“Ooee,” sê Konyn lui.  “Jy is dapper! Is jy nie bang vir die DING nie?”

“Watter DING?” vra Minnie Meerkat met ʼn klein stemmetjie.

“Jy weet,” sê Konyn, “Die DING wat in die poel woon!”

“Ek is nie bang nie!” sê Minnie Meerkat, en sy laat spaander. Maar hoe nader sy aan die poel kom, hoe meer wens sy sy het nooit vir Konyn teëgekom nie. Wat is die DING, en wat sal DIT aan haar doen?

Uiteindelik kom sy by die boombrug. “Ek sal nie afkyk nie,” sê sy vir haarself. Sy spring vinnig op die boomstam en begin hardloop. Maar toe sy in die middel kom, kan sy haarself nie keer nie, en sy kyk af in die donker water … en daar is DIT! ʼn Gesig kyk vir haar! Minnie Meerkat wil nie hê die DING moet sien hoe bang sy is nie, en sy trek skewebek … maar tot haar afgryse trek die DING ook skewebek!

Met haar hartjie wat doef-doef klop, draai Minnie Meerkat om en hardloop so vinnig as wat sy kan terug na haar huis toe. Sy storm verby Konyn, wat vas aan die slaap is, maar gaan staan toe sy by Jakkals kom. “Help!” hyg sy, “daar is ʼn DING in die poel! Wat moet ek doen?”

“Moenie bang wees nie,” sê Jakkals, “vat ʼn groot klip en wys dit vir die DING! Dit sal hom laat skrik en hy sal verdwyn!”

Minnie Meerkat tel toe ʼn groot klip op en hardloop terug na die poel toe. Maar toe sy in die middel van die boombrug kom en afkyk na die DING, hou hy ook ʼn klip vas!

Sy laat val die klip en hardloop oor die boombrug terug, verby Konyn en Jakkals, totdat sy by die boom kom waar Uil sit en sluimer. “Uil, Uil!” roep sy met ʼn bang piepstemmetjie. “Help my! Daar’s ʼn DING in die poel! Wat moet ek doen?”

“Hmmmm,” sê Uil terwyl hy nadink. “Vat ʼn stok saam met jou en wys dit vir die DING! Dit sal werk!” sê hy.

Meerkat2loMinnie Meerkat kry ʼn groot, lang stok en voel sommer baie kalmer toe sy terughardloop na die brug toe. Maar toe sy die stok in die lug hou en in die water afkyk, sien sy dat die DING ook ʼn groot stok vashou!

Vreesbevange gooi Minnie Meerkat die stok in die water en hardloop hygend verby Konyn, Jakkals en Uil, en oor die koppie tot by haar eie huis. Sy val moeg op die grond langs Mamma Meerkat neer en vertel haar wat gebeur het.

“Arme klein Minnie,” sê Mamma Meerkat gerusstellend. “Moenie bang wees nie! Ek weet presies wat jy moet doen. As jy klaar gerus het, gaan jy terug na die poel toe. Jy neem nie enige stokke of klippe saam nie. Wanneer jy in die middel van die boombrug kom, kyk jy weer af in die water, maar hierdie keer glimlag jy wanneer jy die DING sien!”

“Glimlag?” vra Minnie Meerkat verbaas. Sy kan skaars glo wat haar ma sê.

“Ja, glimlag,” sê Mamma Meerkat. “Ek belowe jou dit sal werk.”

Natuurlik is Mamma Meerkat reg. Toe Minnie in die middel van die boombrug kom, kyk sy af en glimlag. En tot haar groot verbasing glimlag die DING vir haar met sy heel vriendelikste glimlag! Minnie Meerkat waai vir die DING en hy waai terug. Minnie is so bly! Sy huppel oor die boombrug, en na baie, gelukkige ure gaan sy terug huis toe met ʼn stapel heerlike knolle onder elke arm.

Daardie aand, toe die meerkatte gaan sit om hulle smaaklike feesmaal te geniet, vertel Minnie Meerkat vir Mamma wat gebeur het. “Toe ek vir die DING glimlag, het hy vir my geglimlag!” sê sy.

“Ek weet,” sê Mamma.

“En toe ek vir die DING waai, het hy teruggewaai!” sê Minnie Meerkat.

“Ek weet,” sê Mamma Meerkat weer.

“Ek dink hy wil my maat wees!” sê Minnie.

“Ek weet,” sê Mamma.

Minnie Meerkat dink vir ʼn rukkie daaroor na. “Maar Mamma,” sê sy, “wat is die DING?” En toe vertel Mamma Meerkat vir haar. Wat dink jy het Mamma Meerkat gesê?