Home | Story Library | Multilingual stories | Koketso verloor die hoenders

Story Library

Being told stories and being read to leads children to develop the rich storehouse of language, grammar and vocabulary they need to bring to texts when learning to read and write. 
Try our multilingual stories below or send us your own stories to share with others.

Koketso verloor die hoenders

Author

Patricia de Villiers

Illustrator

Vian Oelofsen

Translator

Anita van Zyl

Elke oggend help Koketso haar ouma om die hoenders in die hoenderhok in hulle agterplaas kos te gee.

 

“Kôk, kôk, kôk,” roep Ouma, en die hoenders hardloop na die heining toe. “Kôk, kôk, kôk,” sê hulle. “Pe-kêk, pe-kêk, pe-kêêk!” En wanneer Ouma en Koketso oor die lae heining leun om die saad te strooi, druk en klap en fladder die hoenders hulle vlerke, en probeer oor mekaar spring om eerste by die kos uit te kom.

 

Koketso tel altyd die hoenders. “Een, twee, drie, vier hoenders,” sê sy, “en nog een, twee, drie, vier hoenders. Hulle is almal hier, Ouma!”

Een oggend toe Koketso wakker word, sien sy Ouma het haar beste baadjie aan en haar beste hoed op.

 

“Ek moet vanoggend vir mev. Solomon by die kliniek help,” verduidelik Ouma, “en ek het nie tyd om die hoenders kos te gee nie. Sal jy dit asseblief doen, Koketso? Jy weet wat om te doen.”

 

Ouma tel haar handsak op en maak die voordeur oop. Dan draai sy na Koketso en sê: “Moenie vergeet om vir die hoenders water te gee nie, en wat jy ook al doen, MOET hulle NIE uit die hok laat kom NIE!”

 

“Ai, Ouma,” sê Koketso, “DIT weet ek!”

 

“Wel, ek hoop so,” sê Ouma. “Wees versigtig, hoor! Sien jou later. Tata, Koketso.”

 

Toe haar ouma weg is, gaan sit Koketso om haar ontbyt te eet. “Ek is baie, baie honger,” sê sy vir haarself. “Daardie hoenders sal maar net so ’n rukkie moet wag!”

 

Koketso eet ’n groot bak pap en drink ’n glas melk. Toe gaan sit sy op die trappie op die voorstoep en eet ’n appel.

 

“Hallo!” sê sy vir ou Oom Koos toe hy met sy winkeltrollie en sy klein hondjie verbystap.

 

“Goeiemôre, Mme!” sê sy en waai vir mev. Zihlangu oorkant die straat.

 

“Kom speel saam met my, Pinky,” roep sy haar niggie, wat uit die winkel op die hoek kom met ’n brood onder haar arm.

 

“Jammer, ek kan nie. Ek het werk om te doen,” roep Pinky terug. “Het jy nie?”

 

Koketso onthou skielik dat sy nog nie die hoenders kos gegee het nie. “O, toggie,” sê sy, “daardie arme, honger hoenders!”

 

En sowaar, die arme hoenders kloek en kekkel in hulle hok. Koketso maak die lae hekkie baie versigtig oop. “Kôk, kôk, kôk,” sê sy. “Jammer, hoenders, hier’s julle kos.” En sy strooi die saad op die grond.

 

“Een, twee, drie, vier hoenders,” tel sy, “en nog een, twee, drie, vier hoenders.”

 

Toe sien sy dat die hoenders se waterbak leeg is, en sy skarrel weg om in die kombuis te gaan water haal – maar sy vergeet om die hek agter haar toe te maak!

 

“Ag, nee!” sê Koketso toe sy terugkom met die water en sien dat die hoenders die hele werf vol hardloop. “Ag, nee, nee, nee! Stoute hoenders! Kom NOU DADELIK terug!”

 

Maar die hoenders hou aan hardloop – reg om die huis, met die kort paadjie af tot in die straat!

 

’n Man op ’n geel fiets ry verby.

 

“Help! Help!” skree Koketso. “Help my asseblief om Ouma se hoenders te vang!”

 

“Natuurlik sal ek jou help,” sê die man en jaag op sy fiets agter die hoenders aan terwyl hy sy klokkie lui.

Terwyl Koketso agter hom aanhardloop, hardloop sy byna in Oom Koos se trollie vas.

 

“Help! Help!” sê Koketso hoesend en proesend. “Oom Koos, help my asseblief om Ouma se hoenders te vang!”

 

“Natuurlik sal ek jou help,” sê Oom Koos, en hy kry koers agter die hoenders en die man op die geel fiets aan. Sy klein hondjie hardloop blaffend agterna.

 

Terwyl Koketso agter Oom Koos in die straat af hardloop, sien sy haar maat, Dikeledi. Dikeledi oefen om toertjies op haar skaatsplank te doen.

 

“Help! Help, Dikeledi!” skree Koketso. “Help my asseblief om Ouma se hoenders te vang!”

 

“Natuurlik sal ek jou help,” sê Dikeledi terwyl sy agter die hoenders aan skaats.

Terwyl Koketso agter Dikeledi aanhardloop, dink sy aan al die verskriklike goed wat met die hoenders kan gebeur. Hulle kan raakgery word, of ’n hond kan hulle vang en opeet. Of hulle kan in die rivier val en verdrink. “Ag, nee, wat gaan Ouma sê?” hyg sy. Koketso voel lus om te huil.

 

“Kyk wat het ek!” sê ’n stem. Dit is die man op die geel fiets. Hy dra twee van die hoenders in ’n inkopiesak.

 

“Een, twee hoenders,” tel Koketso. “Baie dankie! Nou moet ek net die ander ook kry.”

 

Net toe kom Oom Koos daar aan met van die hoenders in ’n oop kartonboks in sy trollie. “Hierso, meisiekind!” sê hy uitasem.

 

“Een, twee, drie, vier hoenders,” tel Koketso. “Dit beteken ek het een, twee

hoenders by die man op die geel fiets gekry, en nog een, twee, drie, vier by Oom Koos. Ag, dankie, dankie! Nou moet ek net die ander opspoor.”

 

Net toe kom Dikeledi op haar skaatsplank verbygerits. “Kyk wat het ek gekry, Koketso!” sê sy met ’n hoender onder haar arm.

 

“Dit maak een, twee, drie, vier hoenders,” sê Koketso, “en nog een, twee, drie hoenders. Ag, dankie, dankie, dankie! Maar daar kort nog steeds een hoender!”

 

Koketso se vriende help haar om die hoenders in hulle hok terug te sit. Toe help hulle haar om oral na die laaste hoender te soek, maar niemand kan die hoender vind nie.

 

Toe Ouma van die kliniek af kom, maak Koketso vir haar ’n koppie tee. “Sit gerus, Ouma,” sê Koketso. “Ouma is seker baie moeg! Sit ’n bietjie en geniet ’n lekker koppie tee en ’n koekie!”

 

Ouma kyk stip na Koketso. “Is alles reg?” vra sy. “Jy maak nie gewoonlik vir my tee nie.”

 

Koketso bars in trane uit. “Ag, Ouma,” huil sy. “Iets vreesliks het gebeur terwyl jy weg was!” Toe vertel sy vir haar ouma die hele storie. “En, en, en,” snik sy, “een van die hoenders is nog steeds weg. En dis jou geliefkoosde een – die een met die spikkels.”

 

“Dis ’n narigheid, Koketso,” sê Ouma streng. “Daardie hoender het meer eiers as enige van die ander gelê. Wel, ek hoop jy het nou geleer om versigtiger te wees!”

 

“O, ek het, Ouma,” snuif Koketso. “Ek het regtig!”

 

Net toe is daar ’n kloekgeluid in die hoek van die kombuis. Toe Ouma en Koketso opkyk, sien hulle die hoender wat weg was. Sy sit heel tevrede op ’n stapel skoon wasgoed in die wasgoedmandjie!

Ouma tel die hoender op en streel oor haar snawel. “Ek is bly jy’s terug,” sê Ouma.

 

“En kyk, Ouma,” sê Koketso en wys na die wasgoedmandjie, “sy’t ’n eier gelê!”

 

Daar, bo-op die wasgoed, lê ’n groot, bruin, gespikkelde eier!

 

“Ons sal dit vir aandete eet,” sê Ouma en gee die hoender vir Koketso aan. “Neem hierdie hoender terug na die hok toe, asseblief – en onthou hierdie keer om die hek toe te maak!”