Story Library

Being told stories and being read to leads children to develop the rich storehouse of language, grammar and vocabulary they need to bring to texts when learning to read and write. 
Try our multilingual stories below or send us your own stories to share with others.

Klipsop

Author

Oorvertel deur Helen Brain

Illustrator

Illustrasies deur Alzette Prins

Translator

Vertaal deur Anita van Zyl

Lank, lank gelede het ’n man huis toe gestap nadat hy baie jare lank in verskillende dele van Afrika gereis het. Hy was maer en honger, en sy geld was op. “Ek is so moeg,” sê hy vir homself terwyl hy in die pad afstrompel. “Ek wens ek was tuis in ’n sagte bed, met my maag vol warm kos.”

 

Uiteindelik kom hy by ’n dorpie aan. “Aa, hier is ’n paar huise,” sê hy vir homself. “Ek is seker hier is ’n goedhartige mens wat vir my iets warm te ete sal gee.” Hy klop hier aan ’n deur en daar aan ’n deur, maar die antwoord is altyd dieselfde:

 

“Gaan weg. Ons het nie ekstra kos vir jou nie.”

 

“Ek is jammer, ek het niks nie.”

 

“Gaan soek werk. Ek gaan jou niks gee nie.”

 

Die arme man is baie hartseer. Hy gaan sit langs die pad en laat sak sy kop in sy hande. “Wat moet ek doen?” dink hy. “As ek nie binnekort kos kry, sal ek doodgaan van die honger.” Hy kyk na die mense wat in die pad by hom verbystap. “Hulle gaan almal huis toe na warm kos toe,” dink hy. “Ek wens ek was een van hulle.”

 

Toe kry hy ’n blink plan. Hy maak ’n vuur en sit sy kookpot op die vuur. Hy maak die pot vol water en sommer gou kook die water.

 

“Ek gaan …” sê hy hard, “…’n groot pot klipsop maak!”

 

Twee vroue stap van die mark af by hom verby op pad huis toe. “Wat kook jy?” vra hulle.

 

“Klipsop,” sê die man.

 

“Klipsop?” sê een van die vroue. “Ek het nog nooit daarvan gehoor nie.”

 

“Wat gaan jy daarin sit?” vra die ander vrou.

 

“Ek sal julle nou wys,” sê die man. Hy grawe in sy sak en haal ’n gladde, ronde klip uit. “Ek sal dit in die pot sit. Dit is die towerbestanddeel. Dis so jammer ek het nie ’n ui en ’n paar wortels nie. As ek dit gehad het, sou dit die lekkerste sop ooit wees.”

 

“Hierso,” sê die vroue. “Sit dit gou in jou pot.”

 

Die man sit die ui en wortels in sy pot en sit die deksel op. ’n Paar minute later proe die man aan die klipsop. “Njam, njam, njam!” roep hy uit. “Hierdie sop is heerlik! Ek het nog nooit en nêrens enigiets so lekker geproe nie. Selfs nie in Malawi nie, waar van die beste sop gemaak word.”

 

“Laat my asseblief proe,” smeek een van die vroue.

 

Haar vriendin stoot haar eenkant toe. “Ek eerste,” sê sy.

 

Die man skink toe ’n bietjie klipsop in ’n koppie en die vroue proe daaraan. Toe lek hulle hul lippe af.

 

“Dis heerlik,” sê die vroue. “Jy is die beste kok ooit.” Maar hulle is nuuskierig. “Wat presies het jy in die sop gesit?” vra hulle.

 

“Ek kan nie vir julle die resep gee nie,” sê die man. “Dis ’n geheim.”

 

Toe sien die man ’n jong seun met ’n mandjie marog. Hy wag tot die seun naby hom is. Hy tel sy lepel op en proe weer aan die sop.

 

“Hierdie sop is heerlik,” sê hy hard sodat die seun hom kan hoor. Ek het nog nooit en nêrens enigiets so lekker geproe nie. Selfs nie in Malawi nie, waar van die beste sop gemaak word. Al wat ek nodig het om dit perfek te maak, is ’n bossie marog.”

 

Die jong seun gaan staan. “Ek sal jou die marog gee wat jy nodig het,” sê hy. “Maar sal jy my dan van jou sop laat proe?” vra hy.

 

“Ja, ek sal,” sê die man. Hy gooi die marog in die pot en roer. Toe skink hy ’n bietjie van die sop in ’n koppie en gee dit vir die seun. “Jy sal natuurlik die towerbestanddeel proe,” sê die man. “Is dit nie heerlik nie?”

 

“Smaaklik,” sê die jong seun. “Ek gaan vir almal sê om die sop te kom proe.”

 

Gou is daar ’n tou mense van die dorp wat wag om die klipsop te proe. Maar voordat die man enigiemand laat proe, vra hy eers die dorpenaars om vir hom ’n patat, ’n vleisbeen en ’n knippie sout en peper te gee. Hy voeg dit alles by die sop. Die sop borrel lekker en word elke oomblik dikker en smaakliker.

 

Meer en meer mense kom staan in die tou. Almal wil iets by die sop voeg. En hoe meer bestanddele die mense byvoeg, hoe lekkerder proe die sop, en hoe langer hou dit.

 

Teen die aand het almal genoeg geëet en die pot is leeg. Almal glimlag en is gelukkig. “Hierdie man is ’n bobaaskok,” sê hulle. “Hy moes by ’n koning se paleis in Malawi leer kook het.”

 

“Dit is die beste sop wat ek nog ooit geproe het,” sê die burgemeester vir die man. “Kom slaap vanaand in my huis, in ’n sagte bed met ’n warm kombers. Môreoggend kan jy my kok leer hoe om jou sop te maak.”

 

Die man glimlag terwyl hy sy leë pot was. Dit was regtig die beste sop ooit, en dit het hom nie ’n sent gekos nie. Toe sit die man die klip terug in sy sak, tel sy pot op en gaan na die burgemeester se huis om ’n goeie nagrus te geniet.