Home | Story Library | Multilingual stories | Hoe die volstruis ’n lang nek gekry het

Story Library

Being told stories and being read to leads children to develop the rich storehouse of language, grammar and vocabulary they need to bring to texts when learning to read and write. 
Try our multilingual stories below or send us your own stories to share with others.

Hoe die volstruis ’n lang nek gekry het

Author

Oorvertel deur Wendy Hartmann

Illustrator

Illustrasies deur Jiggs Snaddon-Wood

Translator

Vertaal deur Anita van Zyl

Mnr. Volstruis was vriendelik en sagmoedig, en hy was baie lief vir mev. Volstruis. Hy het haar altyd gehelp met alles wat sy moes doen.

 

Op ’n dag lê mev. Volstruis sewe eiers in haar nes in ’n holte in die grond. Sy pof haar vere uit en gaan sit op haar eiers om hulle warm te hou. Sy sit dae lank op die nes om die eiers op te pas.

 

“Liefste mev. Volstruis,” sê haar man een aand, “jy sit al so lank op ons eiers. My swart vere is so swart soos die nag. Ek sal nie in die aand gesien kan word nie, en daarom sal ek snags ons eiers oppas. Ek sal hulle vir jou warm hou. Nou sal jy ’n bietjie tyd vir jouself hê. Jy kan dit geniet tot die son soggens opkom.”

 

Mev. Volstruis is so bly. Sy wil haar bene rek. Sy staan op en mnr. Volstruis gaan sit effe lomp om die eiers warm te hou. Mev. Volstruis pof haar vere om te wys hoe bly sy is. Toe stap sy weg om in die veld te gaan dans.

 

Mnr. en mev. Volstruis het die plek vir hulle nes baie versigtig gekies. Hulle het geweet dat dit op hierdie plek baie moeilik sou wees om mev. Volstruis te sien wanneer sy gedurende die dag op haar nes sit. Jy sien, in daardie dae het volstruise kort nekke gehad, soos tarentale. Van ’n entjie weg het die volstruisma, wanneer sy haar kop laat sak, soos ’n hobbel op die grond gelyk. Hulle het hierdie veld gekies, omdat die gras hier kort was, want hulle het lank gelede geleer dat hulle in lang gras aangeval kon word voordat enigiemand nog geweet het dat gevaar dreig. Omdat hulle so goed gekies het, kon hulle alles sien.

 

Mnr. en mev. Volstruis het ook geweet hoe om hulle eiers te beskerm teen die veldbrande in die omgewing. Hulle het die gras sorgvuldig weggekrap sodat daar ’n groot sirkel stowwerige sand om hulle nes was. Mnr. en mev. Volstruis was baie gelukkig met hulle pragtige, veilige nes en hulle sewe eiers.

 

Maar noudat mnr. Volstruis snags op die eiers sit, was daar een ding wat hom bekommer het. Sy vrou was te gelukkig wanneer sy in die veld was. Sy het rondgedans dat haar vlerke fladder, en dit het nie gelyk of sy alleen was nie.

 

“Wat doen sy?” wonder mnr. Volstruis. Sy kan nie so ronddans nie. Sy is nou ’n ma en sy het eiers om op te pas. Maar, soos ’n goeie pa, wriemel hy sy lyf op die grond om die eiers te bedek en hulle warm te hou. Toe maak hy hom gereed vir ’n lang nag se wag terwyl sy vrou in die veld kerjakker.

 

Een aand gooi die silwer maanlig vreemde skaduwees oor die veld. Dit lyk of die skaduwees dans. Mnr. Volstruis raak baie vaak. Sy oë begin net toeval toe hy sy vrou hoor lag. Die oomblik toe hy dit hoor, is hy wawyd wakker. Hy kyk op.

 

Eers kan hy niks sien nie. Hy strek sy kort nek so ver hy kan en toe sien hy haar. Mev. Volstruis dans deur die gras, en speel wegkruipertjie tussen die bosse met ’n aanvallige jong volstruis. Toe sy agter ’n bos wegkruip, strek sy haar nek so ver sy kan om seker te maak dat haar man nog op die nes met eiers sit.

 

Mnr. Volstruis is kwaad. Hy staan op van die nes om te kyk wat aangaan, maar gaan sit weer. Hy kan nie die eiers so los nie. Wat as hulle koud word terwyl hy weg is? Hy sprei dus sy vere oor die eiers oop en strek net sy nek verder en verder om te probeer sien wat sy vrou doen.

 

Elke nou en dan hoor hy sy vrou giggel. Elke nou en dan kan hy in die maanlig skaduwees oor die veld sien dans. Elke keer as hy ’n skaduwee sien, strek hy sy nek so ver hy kan. Maar dit is al wat hy kan doen, want hy moet die eiers warm hou.

 

Uiteindelik kom die son op en is die lang, lang nag verby. En toe die son opkom, sien mnr. Volstruis sy vrou terugkom om vir die dag op die eiers te sit. Hy probeer opstaan, maar voel baie styf. Die spiere in sy nek is seer.

 

Einde ten laaste staan hy op. Hy is net van plan om vir sy vrou te vertel hoe kwaad hy is, toe hy afkyk na sy pote. Hulle lyk so ver weg van sy kop af. Skielik weet hy wat gebeur het – in daardie lang nag het hy sy nek langer en langer en langer gerek.

 

Hy skud sy kop. Hy stamp sy pote, maar wat hy ook al doen, sy nek bly lank. Niks wat hy doen, kan dit verander nie. En sy vrou? Sy het ook ’n lang nek! Sy skud ook haar kop en stamp haar pote, maar dit help nie. Sy het haar nek gestrek en gestrek om te kyk of haar man op die eiers sit!

 

En dit is hoe dit gebeur het dat mnr. en mev. Volstruis lang nekke het! En dit is waarom elke volstruis van daardie nag af tot vandag toe, almal lang nekke het.