Home | Story Library | Multilingual stories | Die sakkie goud

Story Library

Being told stories and being read to leads children to develop the rich storehouse of language, grammar and vocabulary they need to bring to texts when learning to read and write. 
Try our multilingual stories below or send us your own stories to share with others.

Die sakkie goud

Author

Deur Phumlani Mavimbela

Illustrator

Illustrasies deur Natalie en Tamsin Hinrichsen

Een oggend word ’n hawelose man wakker. Hy het die vorige aand oral vir kos gevra, maar niemand het hom iets gegee nie. Sy maag grom, want hy is baie honger. Desperaat om kos te kry, stap hy deur die dorpsmark en smeek die handelaars vir hul oorskiet.

 

“Asseblief … asseblief … ek het twee dae laas geëet. Gee asseblief jul oorskiet vir ’n arme hawelose man,” pleit hy.

 

Maar die meeste mense maak of hy onsigbaar is. Dié wat hom sien, gooi hom met vrot vrugte en snou hom name toe soos “straatrot” en “rondloperhond”.

 

Na baie probeerslae en baie beledigings, besluit die man om in ’n rommelhoop daar naby te gaan krap vir kos. Terwyl hy deur vragte ou rommel soek, sien hy skielik ’n klein leersakkie wat aan die bokant met tou toegebind is. Hy tel dit op en maak dit oop. Dit is vol goue munte! Met ’n hart wat oorloop van vreugde, tel hy sy skat.

 

“Een, twee, drie … eenhonderd goue munte!” sê hy toe hy klaar getel het. “Hiermee sal ek die res van my lewe kan kos koop.”

 

Terwyl die man terughardloop mark toe en uitsien na ’n vol maag, hoor hy ’n handelaar skree: “Luister, almal! Ek het my sak met goue munte verloor en ek sal vir enigiemand wat dit vir my bring ’n beloning gee!”

 

Die hawelose man het ’n goeie hart en hy voel jammer vir die handelaar. Hy besluit om die regte ding te doen.

 

“Is dit die sakkie wat jy verloor het?” vra hy vir die handelaar, en hou die sakkie wat hy gevind het op.

 

“Goeiste, jy het dit gevind!” sê die handelaar. Hy vat die sakkie en tel die munte.

 

Die hawelose man wag ’n rukkie en vra toe sag: “Meneer, u het iets van ’n beloning gesê?”

 

“Beloning?” sê die handelaar smalend. “Waarom moet ek vir jou ’n beloning gee? Jy het reeds van my munte gesteel!”

 

“Ek het niks uit die sakkie gevat nie. Kan ek asseblief die beloning kry wat u belowe het?” vra die hawelose man.

 

“Daar was tweehonderd goue munte in die sakkie wat ek verloor het. Nou is daar slegs eenhonderd munte in. Jy het reeds meer as jou beloning gesteel,” sê die handelaar woedend.

 

“Asseblief, meneer, ek het niks gesteel nie,” verduidelik die hawelose man. “Al die munte is in die sakkie, net soos ek dit gevind het.”

 

“Maak dat jy wegkom, voor ek die koning se wagte roep om jou te arresteer,” skreeu die handelaar.

 

“U mag dalk dink ek is nie veel werd nie, maar ek is ’n eerlike man,” sê die hawelose man. “Roep die wagte, en ek sal voor die koning bewys dat ek die waarheid praat.”

 

Die handelaar laat kom toe die wagte. Toe gaan die handelaar saam met hulle en die hawelose man na die koning toe.

 

“Wat kan ek vir julle twee doen?” vra die koning toe die handelaar en die hawelose man voor hom staan.

 

Die handelaar praat eerste. Hy vertel die koning sy kant van die storie. Hy verduidelik hoeveel goue munte hy in die sakkie gehad het wat hy verloor het, en hoe die hawelose man die helfte daarvan gesteel het.

 

Die koning luister na die handelaar, en daarna draai hy na die hawelose man en vra: “Wat het jy vir jouself te sê?”

 

“My koning, ek het die sakkie op die rommelhoop gevind en daar was slegs eenhonderd goue munte daarin,” sê die hawelose man met ’n geboë hoof terwyl hy praat. “Dis die waarheid.”

 

Die koning dink ’n rukkie en sê dan: “Handelaar, is ek korrek? Jy sê daar was tweehonderd goue munte in jou sakkie.”

 

“Ja, my koning,” sê die handelaar.

 

“Ek sien,” sê die koning en streel oor sy lang baard. “Wel, ek glo albei van julle en ek kan dit maklik oplos! Handelaar, jy sê daar was tweehonderd goue munte in die sakkie wat jy verloor het. Dit is baie goudstukke om in ’n klein sakkie rond te dra. Maar in die sakkie wat hierdie hawelose man gevind het, was daar slegs eenhonderd goue munte. Dit beteken dit is nie die sakkie wat jy verloor het nie. Ek beveel jou om dit onmiddellik vir die hawelose man te gee.”

 

En so moes die handelaar toe maar die sakkie vir die hawelose man gee. Die man  se eerlikheid het hom gebaat, en hy het’n lang en gelukkige lewe gelei, en elke dag oorgenoeg kos gehad om te eet.