Die glasberg

Written stories

Die glasberg

Author

Oorvertel deur Kai Tuomi

Illustrator

Illustrasies deur Natalie en Tamsin Hinrichsen

Translator

Vertaal deur Antia van Zyl

Lank, lank gelede was die plek aan die voet van Tafelberg wat ons nou Kaapstad noem, dor en verlate. Daar word gesê dat Tafelberg in daardie tyd van glas gemaak was, en dat ’n towerdassie, wat wense waar kon maak, heel bo-op die berg gewoon het.

 

Mans en vroue van oral in Suid-Afrika het gekom en probeer om die glasberg uit te klim om by die towerdassie uit te kom, maar die hange van die berg was baie glibberig en hoe hard hulle ook al probeer het, niemand kon tot bo klim nie.

 

Eendag het ’n jong seun met die naam Khwezi in Kaapstad aangekom. Hy wou tot bo-op die berg klim. Daardie aand het hy in die veld gaan stap en vir Luiperd raakgeloop.

 

“Luiperd,” sê Khwezi, “ek wil jou ’n guns vra. As jy my help, belowe ek jou ek sal hierdie dor, verlate land met plante en diere vul. Jy sal nooit weer honger ly nie.”

 

Luiperd kyk hongerig na die seun. “Waarom sou ek jou help? Jy weet ek kan jou sommer net opeet,” sê Luiperd en lek sy lippe af. En toe dink Luiperd nog ’n bietjie oor Khwezi se aanbod en sê: “Eintlik klink ’n land vol plante en diere wonderlik. Goed dan. Wat het jy nodig?”

 

“Jy kan baie goed klim, en met jou skerp kloue behoort ons tot bo-op die glasberg te kan klim,” sê Khwezi, en klim op Luiperd se rug.

 

Hulle stap deur die veld, oor die dor land, al die pad tot by die glasberg.

 

Aan die voet van die berg slaan Luiperd sy kloue in die glibberig glashange en begin opklim. Dit neem ’n lang tyd en hulle moet baie stadig klim. Toe hulle omtrent halfpad teen die berg op is, sug Luiperd. “Ek is te moeg om verder te gaan,” sê hy, en gaan lê teen die glas. “Dit is onmoontlik om bo uit te kom, selfs met my kloue.”

 

Aasvoël, wat ’n groot, vreesaanjaende voël is, sirkel bo hulle in die lug.

 

“Ek het ’n idee,” sê Khwezi, “kom ons lê hier en maak of ons dood is.”

 

Hulle gaan lê toe op die gras en maak of hulle dood is. Gou kom sit Aasvoël, want hy dink hy het iets lekkers gevind om te eet.

 

“Hoe lekker,” sê Aasvoël. “Dis nou ’n meevallertjie!”

 

Hiya!” skree Khwezi, spring van Luiperd se rug af en gryp Aasvoël se kloue vas. Hy hou styf vas. Aasvoël krys van verbasing, vlieg in die lug op en dra Khwezi saam met hom. Luiperd kyk hoe hulle wegraak en gly toe stadig teen die berghange af.

 

“Wat wil jy van my hê?” vra Aasvoël, wat sukkel om te vlieg.

 

“Aasvoël,” sê Khwezi, “kan jy met my tot bo-op die berg vlieg? As jy dit doen, sal ek hierdie dor, verlate land met plante en diere vul. Dan sal jy nooit weer honger ly nie.”

 

“Dit klink wonderlik,” sê Aasvoël, “en ek is baie honger. Goed, ek sal probeer om met jou tot bo-op die glasberg te vlieg.”

 

Aasvoël vlieg toe met Khwezi op-op deur die wolke. Dit neem baie lank, maar op die ou end is hulle bo-op die berg. Khwezi spring van Aasvoël af tot op die plat bokant van die glasberg.

 

“Hallo,” sê ’n strelende stem.

 

Khwezi sien ’n goue dassie wat op ’n kussing van klein pers blommetjies sit en ’n lang stingel geel gras knibbel.

 

“Jy moet die towerdassie wees,” sê Khwezi.

 

“Ek is,” sê die dassie. “Wat is jou wens? Ek kan jou die rykste mens in die wêreld maak, of dalk wil jy aantreklik of beroemd wees.”

 

Khwezi dink aan al hierdie dinge, en toe dink hy aan Luiperd, en Aasvoël, en aan al die honger mense in die plek wat ons vandag Kaapstad noem.

 

“Nee,” sê Khwezi, “ek wens hierdie dor, verlate land kan vol plante en diere wees.”

 

“As jy so sê,” sê die towerdassie en knip sy oë.

 

Daar is ’n harde KNAL! en die lug is vol goue vonke. Khwezi maak sy oë toe en toe hy hulle weer oopmaak, is die berg nie meer van glas gemaak nie, maar is dit wild en natuurlik en vol baie wonderlike plante, baie soos dit vandag is. Hy kyk uit oor die land wat verder weg is, en hy sien dat dit met plante en diere gevul is. Aasvoël swiep verby met ’n groot glimlag op sy gesig. Khwezi soek na die goue dassie, maar hy het verdwyn.

 

Op pad terug teen die berg af, kry Khwezi vir Luiperd wat in die skaduwee van ’n boom lê en slaap.

 

“Knap gedaan,” sê Luiperd, half aan die slaap.

 

Khwezi streel hom en stap verder teen die berg af. Toe hy onder kom, is daar ’n skare mense wat vir hom wag en hom toejuig en hom op hulle skouers tel. Hulle hou toe ’n groot partytjie om fees te vier. Na ’n lang tyd het meer en meer mense op die grond rondom Tafelberg kom woon, en hulle het ’n stad gebou wat later Kaapstad genoem is.