Die bobaasspeurder
Home | Written stories | Multilingual stories | Die bobaasspeurder

Written stories

Die bobaasspeurder

Author

Deur Wendy Hartmann

Illustrator

Illustrasies deur Rico

Translator

Vertaal deur Anita van Zyl

Klop! Klop! Klop!

“Neo!” sê Gogo. “Gaan kyk asseblief wie by die deur is.”

Neo hardloop voordeur toe. Toe hy dit oopmaak, sien hy vir Bella en haar mamma. Bella huil.

“Wat makeer?” vra Neo. Bella huil net harder.

Gogo hardloop voordeur toe. “Kom in. Hoekom huil Bella?”

“Dis Noodle,” sê Bella se mamma. “Ons kan hom nêrens kry nie.”

“Noodle is weg,” snuif Bella. “Het julle hom gesien?”

“Kom sit,” sê Gogo, en gee vir Bella ’n snesie. “Droog jou trane af. Ons sal jou help. Neo, bel asseblief vir Josh en vra hom om hierheen te kom.”

Terwyl Neo vir Josh bel, gaan sit Gogo tussen Bella en haar mamma op die rusbank.

“Wanneer laas het jy vir Noodle gesien?” vra Gogo.

“Vanoggend,” sê Bella. “Hy het op die veld gespeel.”

“Hy is altyd teen middagete terug by die huis,” sê Bella se mamma.

“Gogo,” sê Neo, “Josh sê hy en Hope kom so gou hulle kan hierheen.”

“Wat gaan ons doen, Gogo?” vra Bella en snuif hard.

“Wanneer Josh en Hope hier is, sal ons ’n plan maak. Maar nou gaan ons almal eers tee drink.”

Sommer gou is daar nog ’n Klop! Klop! Klop! aan die deur. Hope stoot Josh se rolstoel binnetoe.

“Moenie so bekommerd wees nie, Bella, ons sal vir Noodle kry,” sê Josh. “Ons sal almal soos speurders wees en na hom soek.”

“Ja,” sê Gogo. “Help ons nou met ’n paar leidrade, Bella. Sê vir ons waarheen Noodle graag gaan.”

Bella en haar mamma vertel vir hulle van al die plekke waar Noodle graag gaan speel en kuier.

“Goed,” sê Gogo. “Ek sal vir Mbali in haar stootwaentjie sit en dan kan ons almal na hom gaan soek.”

“Miskien moet ons in verskillende rigtings loop. Dan sal dit gouer gaan,” stel Josh voor. “Gogo, as jy, Neo en Mbali na Rivierstraat gaan, kan Bella en haar ma weer by die huis en op die veld gaan soek. Dan kan hulle met Skoolstraat langs stap. Ek en Hope kan met Sambalstraat af stap.”

“Wat ’n blink plan,” sê Gogo. “Jy klink soos ’n regte speurder, Josh.”

“En ons moet mekaar iewers ontmoet,” sê Hope. “Dan sal ons almal weet wat aangaan.”

“Ons sal mekaar een keer bel terwyl ons soek, en dan kan ons mekaar by die winkelsentrum ontmoet,” sê Josh.

“Kan ons nou gaan?” vra Bella.

“Arme Bella,” sê Mbali, en vryf Bella se hand.

Almal loop om na Noodle te gaan soek. Hope stoot Josh se rolstoel op die sypaadjie. Hulle roep almal Noodle se naam.

“Hy’s nie in hierdie straat nie,” sê Josh. Toe lui sy foon. “Dis Gogo,” sê hy vir Hope, “ek hoop hulle het vir Noodle gekry.”

Hope kan nie hoor wat Gogo vir Josh sê nie, maar sy kan Mbali hard in die agtergrond hoor Pienk! Pienk! Pienk! sê.

“Nee,” sê Josh toe hy klaar met Gogo gepraat het, “hulle het nie vir Noodle gekry nie. Sy foon lui weer. “En dis Bella en haar ma. Hulle het hom ook nie gekry nie.”

“Wat nou?” vra Hope.

“Ons moet almal by die winkelsentrum bymekaarkom,” sê Josh.

’n Paar minute later staan almal voor die winkelsentrum. Bella se oë is rooi gehuil. Gogo lyk bekommerd.

“Dink julle ons moet terugstap en weer gaan soek?” vra Gogo.

“Noo … Noodle …” sê ’n klein stemmetjie.

Hulle draai almal om om te kyk.

“Noodle!” sê Mbali weer. Sy wys na die winkel op die hoek.

“Mbali?” sê Gogo. “Waar?”

“Daar’s niks daar nie, Mbali,” sê Neo.

“NOOOOOODLE!” roep Mbali.

“Ons moet gaan kyk,” sê Hope.

Hulle stap na die winkel op die hoek. Die winkel verkoop handsakke en armbande, hemde en skoene. Hulle drom almal in die deur saam.

“In! In!” sê Mbali en wys na die binnekant van die winkel.

“Hallo,” sê die eienaar. “Welkom. Kom binne. Wag net dat ek gou vir my vriend ’n beskuitjie gee en dan help ek julle.”

“NOODLE!” roep hulle almal saam.

Bella hardloop vorentoe en druk vir Noodle. “Waar was jy? Ons soek oral na jou.” Noodle waai sy stert en lek haar gesig.

“O!” sê die winkeleienaar. “Dan is dit jou hond. Hy kom elke oggend na my huis toe om te groet.

“Pienk!” sê Mbali.

“Ja. Die pienk huis op die hoek langs die veld. Hy kom speel met my klein hondjie, Trixie. Ek is so jammer as julle bekommerd was. Dis die eerste keer dat hy na die winkel toe kom.”

Terwyl almal vir Noodle druk en vryf en streel, vertel die winkeleienaar vir hulle dat haar naam mev. Modise is. Sy is nuut op die dorp en het so pas haar winkel oopgemaak.

“Noodle het vriende gemaak met Trixie die dag toe ons ingetrek het,” sê sy. “Hulle speel elke oggend en dan gaan Noodle huis toe. Maar vandag was bietjie anders. Vandag was daar ’n groot verrassing en ek moes Trixie saam met my werk toe bring.”

Net toe klim Mbali uit haar stootwaentjie en begin skree.

“NOODLES!”

“Ja,” sê Neo, “jy het hom gekry.”

Bella soen Mbali op die wang. “Ja, duisend dankies."

“Nee, nee, nee!” skree Mbali. “Noodle, Noodle, Noodle! KYK!”

Gogo, Neo, Bella, haar mamma, Josh en Hope beweeg na waar Mbali staan. Hulle drom om Mbali saam en staar.

“Ja,” sê mev. Modise, “DIT is die groot verrassing.”

Noodle druk verby almal en gaan sit langs Trixie se mandjie. Hy lyk baie trots.

“Kyk,” sê Mbali, “Noodle, Noodle, Noodle!”

Trixie is in die mandjie met drie piepklein pienkerige babahondjies en al drie lyk nes Noodle.

Almal begin gelyk praat. Mev. Modise is baie bly om Noodle se eienaar te ontmoet. Bella is bly sy het vir Noodle gekry. Josh en Hope dink aan die babahondjies. Neo en Gogo glimlag. Toe draai Neo om en gee vir Mbali ’n klapsoen en ’n stywe drukkie.

“Mbali," fluister hy, “jy is ’n bobaasspeurder.”

Mbali giggel. “Pienk,” sê sy. “Pienk Noodles.”