Home | Story Library | Multilingual stories | ’n Spook in Ouma se pajamas

Story Library

Being told stories and being read to leads children to develop the rich storehouse of language, grammar and vocabulary they need to bring to texts when learning to read and write. 
Try our multilingual stories below or send us your own stories to share with others.

’n Spook in Ouma se pajamas

Author

Deur Kai Tuomi

Illustrator

Illustrasies deur Magriet Brink en Leo Daly

Translator

Vertaal deur Anita van Zyl

Een donker nag is Onke vas aan die slaap in sy klein bedjie, in sy klein kamertjie, in die huis wat hy met Mamma, Pappa, Ouma en sy klein hondjie, Puppy, deel. Puppy slaap op ’n rooi kombers aan die voetenent van Onke se bed. Sy snork saggies en droom dat sy eekhorings in die park jaag.

Skielik hoor Onke ’n harde geluid en hy skrik vervaard wakker. “Wat was daardie geluid?” sê hy, bewend. Hy trek die kombers oor sy kop. “Ek hoop nie dit is ’n monster of ’n bangmaakspook nie. Ek hou nie van spoke nie.”

KRAAK! “Daar’s dit weer,” sê hy, en probeer dapper klink. “Ek moet uitvind waar daardie geluid vandaan kom.” Onke tel die groen plastiekflits, wat hy op sy bedkassie bêre, op en skyn met die flits in die kamer rond.

“Dink jy dis ’n spook wat so lawaai?” vra Onke vir Puppy, wat steeds vas slaap en droom dat sy eekhorings jaag. Onke vryf oor haar kop.

HOE! HOE! Nou is daar ’n ander geluid buite.

“Is dit ’n spook?” vra Onke, en skyn met sy flits deur die venster.

’n Groot, vet ding, vol vere, en met ’n geel snawel, sit op die tak buite. Onke lag en sê: “Dis nie ’n spook nie. Dis net ’n groot uil wat in die boom buite my venster sit. Maar ek wonder waar daardie kraakgeluid vandaan kom?”

HOE! HOE! Die groot uil sprei sy vlerke en vlieg weg oor die tuin. “Uile jag snags muise en rotte, en dis waarom mense hulle nooit sien nie. ’n Mens is nogal gelukkig as jy ’n uil sien,” sê Onke. “Nie so nie, Puppy?”

Maar Puppy is in droomland. Onke vryf toe maar haar wollerige magie en sy snork en rol om op haar rooi kombers.

“Dalk is ek sommer net laf,” dink Onke. Maar dan sien hy iets donker en vreesaanjaend in die hoek van sy kamer. Dit lyk soos ’n groot monster met aasvoëlvlerke en leeukloue en lang tande, soos ’n vlakvark s’n.

“Is dit ’n spook?” sê hy, en skyn met sy flits in die hoek van sy kamer. Onke lag toe hy sien wat dit regtig is. “Dis nie ’n spook nie! Dis net my vuil klere wat oor ’n stoel hang. Ek moes dit weggepak het, soos Mamma my gevra het. Of hoe, Puppy?” Maar Puppy slaap vas en kwyl nou op haar rooi kombers.

“Maar wat is daardie kraakgeluid wat ek netnou gehoor het?” sê Onke. KRAAK! Hy hoor weer die geluid en begin bewe. “Dit moet ’n spook wees,” dink hy, “en dit klink asof dit net buite my kamer rondsweef.”

Onke probeer baie dapper wees, al bewe sy knieë soos jellie. Hy loer agter sy kamerdeur uit, en kyk in die donker gang af.

Maar daar is niks daar nie, net sy ouers se skoene teen die muur, en Puppy se waterbak op ’n klein matjie. Onke kruip op die mat in die gang af, verby sy ouers se slaapkamer, en loer by die kombuis in.

“Dis ’n spook!” skree hy, en skyn sy flits op ’n swart skaduwee wat langs die stoof staan. Die spook dra blou pajamas met wollerige skapies op.

“Dis mos Ouma se pajamas,” sê Onke. “Waarom het jy Ouma se pajamas gesteel, Spook?” Onke skyn met sy flits in die spook se gesig. Dis Ouma!

“Onke,” sê Ouma, haar mond wawyd oop van skok. “Jy het my nou baie groot laat skrik. Ek het gedink jy’s ’n spook.”

“Ek het gedink Ouma is ’n spook,” sê Onke en giggel. “Wat doen Ouma so laat in die aand in die kombuis?”

“Ek kon nie slaap nie,” sê Ouma, “toe kom ek kombuis toe vir ’n beker warm melk en koekies. Wil jy ’n middernaghappie saam met my geniet?” Onke glimlag en knik sy kop.

Hy en Ouma gaan sit by die kombuistafel en gesels saggies terwyl hulle heerlike, bros botterkoekies in bekers warm melk doop. Toe maak hulle ’n geroosterde toebroodjie wat hulle deel, met piekels, ham, kaas, tamatie en vars groen blaarslaai.

Toe hulle klaar geëet en gedrink het, borsel hulle vir die tweede keer daardie aand hul tande. Toe sê Onke vir Ouma goeienag en gaan terug na sy kamer toe. Toe hy die deur oopmaak, spring Puppy op en blaf.

“Puppy,” sê Onke, en vryf oor haar kop, “dis net ek, jou lawwe hond. Het jy gedink ek is ’n spook?”

Puppy lek sy gesig en rol om op haar rooi kombers.

“Ek het vanaand ’n raaisel opgelos. Het jy dit geweet, Puppy?” vra Onke.

Maar Puppy het reeds opgekrul en haar oë toegemaak.

“Dit lyk na ’n goeie idee,” sê Onke. “Lekker slaap, Puppy.”

“Lekker slaap,” sê ’n vriendelike spook teen die plafon, wat deur die huis sweef op soek na warm melk en koekies.

Maar Onke is lankal in droomland.