Home | Story Library | Multilingual stories | ’n Bakkie poetoepap

Story Library

Being told stories and being read to leads children to develop the rich storehouse of language, grammar and vocabulary they need to bring to texts when learning to read and write. 
Try our multilingual stories below or send us your own stories to share with others.

’n Bakkie poetoepap

Author

Oorvertel deur Wendy Hartmann

Illustrator

Illustrasies deur Alzette Prins

Translator

Vertaal deur Anita van Zyl

Daar was eenmaal ’n seun wat geen familie gehad het nie, en geen plek om te bly nie. Die mense in die dorpie daar naby het hom toe Molahlehi genoem, wat “die verlore een” beteken. Die naam wat hulle hom gegee het, het die seun nie gepla nie, want hy was seker dat hy eendag ’n huis en ’n familie sou hê.

 

Molahlehi het elke dag na die rivier toe gegaan om vis te vang sodat hy iets sou hê om te eet. Sommige dae het hy ure lank sit en wag dat ’n vis moet byt. Sommige dae het hy niks gevang nie. Dan sou hy vrugte en bessies soek om te eet. As hy niks kon kry nie, het hy honger gaan slaap.

 

Eendag, terwyl hy sit en hoop om ’n vis vir aandete te vang, kom ’n paar vroue af rivier toe om hulle klere te was. Hulle kyk na die oorkant waar hy sit.

 

“Kyk na daardie seun,” sê een vrou. “Hy is so maer soos die stok wat hy in sy hand vashou.” Sy stap oor na Molahlehi toe en gaan sit langs hom.

 

“Jy lyk honger,” sê sy. “Wil jy nie hierdie bakkie poetoepap eet nie?”

 

Molahlehi is baie bly oor die kos. “Dankie,” sê hy.

 

Van daardie dag af gee die vrou elke keer vir Molahlehi ’n bakkie poetoepap wanneer sy haar wasgoed kom was en sy hom sien.

 

“Dankie,” sê Molahlehi. “Eendag sal ek ’n manier vind om jou terug te betaal vir jou goedhartigheid.”

 

Toe Molahlehi ’n jong man word, weet hy hy is sterk en oud genoeg om sy eie tuiste te gaan soek. Nou is dit uiteindelik tyd om hierdie plek te verlaat en sy eie tuiste te vind. Die enigste persoon met wie hy praat voor hy weggaan, is die vrou wat altyd vir hom kos gegee het.

 

Hy sê tot siens en sê weer vir haar: “Ek belowe ek sal jou eendag terugbetaal omdat jy so goed was vir my.”

 

Molahlehi pak sy karige besittings in sy sak en neem die lang spies wat hy vir homself gemaak het. Toe stap hy met die paadjie langs in die Afrika-bos in.

 

Molahlehi stap maande lank op soek na ’n plek wat hy syne kan noem. Hy stap maande en maande lank, totdat hy op ’n dag dink dat hy nooit ’n plek sal vind nie. Hy is moeg en honger, maar toe sien hy ’n groep mans in die skaduwee van ’n groot boom sit. Die mans groet hom en is vriendelik. Molahlehi groet hulle en glimlag. Toe hy wil wegstap, keer een van die mans hom.

 

“Wag! Wat is jou naam?” vra die man.

 

“Ek weet nie,” antwoord hy. “Mense noem my Molahlehi, die verlore een.”

 

“Kom saam met ons terug na ons dorpie toe,” sê die man. “Dit lyk of jy kan doen met goeie kos en ’n plek om te rus.”

 

Molahlehi gaan saam met die mans en almal verwelkom hom in die dorpie. Molahlehi weet dat hy in hierdie dorpie uiteindelik ’n tuiste en vriende sal vind. Hy werk hard. Hy help almal wat hulp nodig het. Hy is gaaf en het altyd ’n goeie woord vir almal. Almal in die dorpie is lief vir hom, en so ook die ou koning wat geen seuns het nie. Toe die ou koning sterf, smeek al die dorpenaars Molahlehi om hul koning te word. Daar word ’n groot fees gehou en die dorpenaars gee vir hulle koning ’n nuwe naam, Koning Lebohang, wat beteken “wees dankbaar”.

 

Die eerste ding wat Koning Lebohang doen, is om ’n groep mans uit te stuur om na die vrou te gaan soek wat so goed vir hom was toe hy ’n seun was. Toe die mans terugkeer, bring hulle ’n ou vrou saam met hulle. Sy is bang en kniel bewend voor die koning. Die koning herken haar onmiddellik. Hy staan op en stap na haar toe. Toe kniel Koning Lebohang en hou ’n bakkie na haar toe uit. Hy gee dit vir die vrou.

 

Die ou vrou neem die bakkie en is geskok om te sien dat dit vol goud is. Sy kyk op na die koning.

 

“Molahlehi,” fluister sy.

 

“Ja,” sê die koning. “Ek het jou belowe dat ek jou eendag sal terugbetaal. Almal behoort hul belofte te onthou en almal moet dankbaar wees wanneer iemand goed i