Home | Node | Wag tot ek vet genoeg is!

Story Library

Being told stories and being read to leads children to develop the rich storehouse of language, grammar and vocabulary they need to bring to texts when learning to read and write. 
Try our multilingual stories below or send us your own stories to share with others.

Wag tot ek vet genoeg is!

Author

Wendy Hartmann

Illustrator

Simphiwe Mangole

Lank gelede was daar ’n bok wat in Transkei gewoon het. Elke jaar het hierdie bok in die vroeë somermaande na die heuwels getrek. Sy het dit gedoen omdat daar baie meer kos was en sy soveel kon eet as wat sy wou.

Een somer vertrek sy na die heuwels. Sy stap rustig met die paadjie langs toe daar skielik ’n enorme groot luiperd voor haar staan.

“Goeiemôre, juffrou Bok,” sê die luiperd. “Waarheen is jy op pad?”

“O, meneer Luiperd,” antwoord die bok, en is so bang dat sy van kop tot tone bewe. “Ek gaan maar net na die heuwels om die lekker kos daar te eet.”

“Wel,” sê die luiperd. “Ek is baie jammer vir jou, maar ek is ook honger. So ek is bevrees jy gaan nêrens heen nie! Ek gaan jou nou dadelik net hier opeet!”

“O, meneer Luiperd,” sê die bok. “Moet dit nie doen nie. Nee, nee, nee! Moenie my nou opeet nie. Wag tot ek vet genoeg is. Wag tot na die somer. Ek sal dan baie vetter wees en jy sal soveel meer hê om te eet.

“Mmmm,” sê die luiperd. “Dis ’n goeie idee. Goed, ek sal jou nie nou opeet nie, solank jy belowe dat jy my op hierdie presiese plek sal ontmoet wanneer jy terugkom.”

Die vreesbevange bok belowe toe en val in die pad. Toe sy by die heuwels kom, vergeet sy heeltemal van die luiperd. Die hele somer lank eet sy die lieflike groen plante teen die heuwels. Toe die somer verby is, is sy lekker vet en rond. Gou is dit tyd vir haar om die heuwels te verlaat en huis toe te gaan.

Eers toe sy begin huis toe stap, onthou sy wat sy die luiperd belowe het. Met elke tree wat sy gee, raak sy banger en banger. Sommer gou is sy naby die plek waar sy beloof het om die luiperd te ontmoet.

“Wat moet ek doen?” vra sy hardop.

Net toe hop ’n haas verby en gaan staan om haar te groet.

“Hallo, juffrou Bok,” sê hy. “Jy lyk so vet en gesond. Maar waarom lyk jy so hartseer op so ’n lieflike dag?”

“Ag, Broer Haas,” sê die bok, “ek het ’n baie hartseer storie. Toe ek aan die begin van die somer hier verby gekom het, het ek ’n enorme groot luiperd raakgeloop. Hy het gesê hy gaan my opeet.

Ek het hom gesmeek om dit nie te doen nie en gesê hy moet wag tot ek vet genoeg is. Ek het vir hom gesê hy moet tot na die somer wag, wanneer ek al die heerlike kos op die heuwels geëet het.”

“Wat het hy gesê?” vra die haas.

“Hy het ingestem om te wag,” sê die bok, “en het gesê ek moet hom op die presiese plek ontmoet wanneer ek op pad terug is. Nou is ek byna by daardie plek, en ek weet hy gaan my opeet as hy my sien!” En die bok bars in trane uit.

“Ai tog! Siestog!” sê die haas. “Dit is ’n hartseer storie. Maar komaan, ek het ’n plan. Los dit vir my. Wag jy net hier.”

Die haas hardloop vinnig huis toe. Hy trek sy heel beste klere aan. Hy sit ’n groot hoed met ’n veer op sy kop, en een lang, swaaiende oorring in sy oor. Toe gryp hy ’n vel papier, ’n pen en ’n klein saal, en hardloop terug na die bok toe.

Toe hy by die bok kom, maak hy die klein saal op haar rug vas en ry op haar asof sy ’n perd is. Uiteindelik kom hulle by die plek waar die bok die luiperd moet ontmoet. En daar sit die luiperd in die middel van die paadjie en wag.

“Wie is jy?” roep die haas. “Wat maak jy hier?”

“Ek is meneer Luiperd en ek wag hier om juffrou Bok te eet,” sê die luiperd vies. “Ons het ’n reëling gehad. En sê vir my wie is jy nou eintlik?”

“Ek is meneer Haas. Hoofman Singewe van die grootste koninkryk in Afrika het my op ’n spesiale sending gestuur. Hy het my gevra om tien luiperdvelle as ’n geskenk vir sy nuwe vrou bymekaar te maak. Hoe gelukkig is ek dat ek jou raakgeloop het. Jou vel sal handig te pas kom.”

Die haas bly stil, haal sy pen en papier uit en skryf, Een baie groot … Toe hou hy op skryf en kyk na die luiperd.

Die luiperd is so bang oor wat hy gehoor het dat hy net daar op die paadjie omdraai en hardloop dat hy klein word.

Die bok is baie bly en sy sê vir die haas dankie dat hy haar gered het. Toe gaan die bok en die haas elkeen in hul eie rigting. Die haas gaan terug huis toe en die bok gaan na haar huis toe. Sy was baie gelukkig, en baie, baie vetter as voorheen.