Home | Node | Hanna se maats

Story Library

Being told stories and being read to leads children to develop the rich storehouse of language, grammar and vocabulary they need to bring to texts when learning to read and write. 
Try our multilingual stories below or send us your own stories to share with others.

Hanna se maats

Author

Deur Wendy Hartmann

Illustrator

Illustrasies deur Niki Daly

Translator

Vertaal deur Anita van Zyl

Hanna se pa is ’n visserman. Hy haas by die voordeur uit om see toe te gaan. Hy waai tot siens terwyl hy wegloop. Hanna weet hy gaan dae lank weg wees, maar wanneer hy huis toe kom, sal hy lekker vars vis bring om te eet.

 

Toe swiep Hanna se ma weg soos die wind. Sy moet ’n hele maand lank elke dag van die week werk.

 

“Ek’s laat,” roep sy. “Tannie Taliep van langsaan kom oor. Bly binne tot sy kom. Sien jou later. Lief jou baie.” Sy waai soentjies terwyl sy hardloop om die bus te haal.

 

Hanna staar by die venster uit na die blou, blou lug. Sy voel heeltemal alleen. Sy tel ’n vel papier en ’n potlood op en teken ’n gesig met trane wat teen die wange afloop. Toe hoor sy hoe Tannie Taliep die voordeur oopsluit.

 

“Môre, Hanna,” sê Tannie Taliep. “Wat het jy daar?” Sy vat die stuk papier en kyk daarna. “Mmm,” sê sy, “g’n tyd vir nonsens nie. Gaan koop gou melk en brood by Allie se winkel. Dis tyd vir my tee.”

 

Toe sy die voordeur toemaak, sien Hanna haar tekening in ’n klein, opgefrommelde bolletjie op die kombuisvloer. By Allie se winkel wag sy tot mnr. Ismail haar sien.

 

“Hallo, Hanna,” sê hy met ’n glimlag. “Brood en melk soos gewoonlik? Nog nie lank genoeg om by die rak by te kom nie?” Sy skud haar kop. “Toemaar, een van die dae is jy lank genoeg.”

 

Hy lag vriendelik en sy glimlag vir hom. Toe kyk sy af. Op die vloer, by haar voete, lê ’n stuk papier – een bladsy met ’n paar woorde en baie prente daarop. Sy tel dit op. Mnr. Ismail sien dit.

 

“Jy sal verbaas wees oor wat die wind hier inwaai,” sê hy. “Jy kan maar die papier vat as jy dit wil hê.” Hy gee vir haar die brood en melk. “Daar’s hy – jou inkopies.”

 

“Toe-toe, maak gou,” roep Tannie Taliep toe Hanna die deur oopmaak, “my TV-sepie het al begin.” Sy vat die inkopiesak by Hanna en maak gou-gou tee.

 

Hanna gaan sit by die kombuistafel. Sy vee die stuk papier wat sy opgetel het glad en lees een woord – Jamela. Daar is baie prente van Jamela. Jamela wat kersies op ’n verjaardagkoek uitblaas. Jamela wat in ’n kartonboks wegkruip. Jamela wat in ’n pragtige stuk materiaal toegedraai is en Jamela wat ’n klein rooi hennetjie vashou.

 

Hanna sug. Sy wens dit was Maandag. Sy wil sien of daar iemand by die skool is met die naam Jamela. Sy wil ’n maat soos Jamela hê.

 

Maandag hardloop sy na Juffrou Witbooi se klas toe. “Juffrou, ken juffrou vir Jamela?”

 

“Daar’s geen Jamela hier nie. Gaan terug na jou klas toe,” sê Juffrou Witbooi.

 

Dinsdag gaan Hanna na mev. Booysen se klas toe. “Juffrou, …”, maar sy kom niks verder nie.

 

“Hanna Pieterse! Wat maak jy hier? Die klasse het begin,” skree mev. Booysen.

 

Woensdag vra Hanna vir mnr. Hendricks. Maar niemand ken vir Jamela nie.

 

Hanna kyk so baie na die prente op die stuk papier dat die bladsy in stukkies skeur, en Jamela is weg.

 

Toe, op ’n dag, gaan die hele klas op ’n uitstappie na die biblioteek. Daar, agter die toonbank, is ’n vrou met ’n vriendelike gesig. Hanna stap na haar toe.

 

“Ja-a,” sê die vrou. “Het jy al ’n boek gekies?”

 

Hanna skud haar kop en vra dan: “Ken u vir Jamela?”

 

Die vrou leun vorentoe. “Is jy deel van die klas wat hier is vir die uitstappie?” vra sy. Hanna knik en hoop die vrou sal nie kwaad wees nie. Die vrou frons. Sy kom uit agter die toonbank en vat Hanna se hand. “Kom saam met my,” sê sy en glimlag. “Ek ken ’n klein dogtertjie met die naam Jamela. Ek ken ook ’n klein seuntjie met die naam Ashraf. Ek ken selfs ’n muis met die naam Wolfgang.”

 

Een volle, wonderlike uur lank maak Hanna so-oo baie maats. Sy maak boeke oop en reis na verskillende plekke oral oor die hele wêreld. Op die bladsye sien sy die ongelooflikste dinge. In die prente sien sy al die wonderlike dinge wat Jamela doen.

 

Toe Hanna se ma nie meer naweke werk nie, en haar pa terug is van die see af, sit hulle saam en boeke lees. Saam gaan doen hulle inkopies saam met Jamela en dans saam met Papa Lucky. Hulle gaan stap selfs saam met ’n kameelperd.

 

En Hanna vergeet skoon daarvan om hartseer gesigte te teken en alleen te voel, want nou is sy nooit meer hartseer of alleen nie.

Wees kreatief!

Jamela en Papa Lucky in die storie, Hanna se maats, is karakters uit prenteboeke deur die Suid-Afrikaanse kinderboekskrywer, Niki Daly. Watter storiekarakters is jou kinders se gunstelinge? Moedig hulle aan om prente van een of meer van hul gunstelingkarakters te teken en dan ’n nuwe storie met hierdie karakters op te maak.