Boetie Konyn se vervelige dag | Nal'ibali
Home | Node | Boetie Konyn se vervelige dag

Written stories

Boetie Konyn se vervelige dag

Author

Deur Helen Brain

Illustrator

Illustrasies deur Samantha van Rie

Translator

Vertaal deur Anita van Zyl

“Ek wens ek hoef nie vandag skool toe te gaan nie,” sê Boetie Konyn toe hy wakker word. “Ek wens ek kon by die huis bly en heeldag slaap.”

 

In die kombuis is Ouma Konyn besig om pap te maak. “Maak gou, kinders,” roep sy. “Ontbyt is gereed.”

 

“Ek kom, Ouma,” roep Sussie Konyn, en bons uit die bed. Sussie Konyn wil altyd skool toe gaan.

 

“Ek voel nie lekker nie, Ouma,” sê Boetie Konyn. “My kop is seer en my been is seer en my keel is seer en selfs my elmboog is seer.”

 

Ouma voel aan sy kop en neem sy koors. “Daar’s niks fout met jou nie,” sê sy. “Staan nou op en trek aan.”

 

Boetie Konyn klim uit die bed. Hy gooi vinnig sy skoene by die venster uit. “Ek kan nie my skoolskoene kry nie,” roep hy. “Ek kan nie skool toe gaan nie, want ek het nie my skoene nie.”

 

Sussie Konyn het hom gesien. “Jou stoute konyn,” raas sy. “Jy’t hulle probeer wegsteek. Maak nou gou. Ons gaan laat wees.”

 

Boetie Konyn eet sy pap. Toe gaan hy toilet toe. “Ouma, my maag pyn,” huil hy. “My maag is so seer. Ek kan nie skool toe stap nie.”

 

Ouma gaan haal haar groot bottel bitter medisyne. “Hierso,” sê sy, “drink twee eetlepels hiervan en dan sal jou maag nou-nou beter voel.”

 

“Nee, nee, nee!” sê Boetie Konyn. “My maag voel klaar beter.”

 

“Nou weg is julle,” sê Ouma, en gee hulle skoolkosblikke aan. “Gaan leer nou hard en kom slim huis toe.”

 

Boetie Konyn drentel agter sy sussie aan. Sy huppel en hop en dans en dartel heelpad skool toe, maar hy loop sleepvoet en dikmond agter haar aan. “Ek wil nie skool toe gaan nie,” mompel hy. “Ek wil in die bed bly.”

 

Gou is hulle by die skoolhekke. “Tata, Boetie,” roep Sussie Konyn en hardloop binnetoe.

 

Boetie Konyn kyk om hom rond. Niemand kyk vir hom nie. Hy kruip gou agter ’n bos weg. Daar sit hy doodstil en wag tot die klok lui en almal in die skool is. Toe hardloop hy terug huis toe. Hy klim deur die slaapkamervenster en krul in sy bed op. Gou is hy vas aan die slaap en snork te heerlik.

 

Om elfuur is Boetie Konyn uitgeslaap. Hy is verveeld. Hy loer om die slaapkamerdeur. Waar is Ouma? Oeps. Sy sit in die kombuis en drink tee saam met hul buurvrou, mev. Dassie. Boetie Konyn sug. Dis so vervelig om heeldag in die bed te lê.

 

Teen twaalfuur is Boetie Konyn dors. Hy loer om die slaapkamerdeur. Waar is Ouma? Ag, nee. Sy bak brood in die kombuis. Boetie Konyn sug. Hy wil gaan water drink en met iemand speel.

 

Om eenuur kyk Boetie Konyn weer. Hierdie keer gesels Ouma Konyn met Eerwaarde Jakkals. Eerwaarde Jakkals eet van Ouma se tuisgebakte brood. Die reuk laat Boetie Konyn se mond water. Hy wens hy kon van Ouma se warm brood eet. Boetie Konyn sug.

 

Teen drie-uur kom Sussie Konyn huppelend huis toe. Boetie Konyn spring by sy venster uit en hardloop agter haar by die voordeur in. “Hallo, Ouma,” roep hy. “Ek is terug van die skool af.”

 

“Dit was die beste dag ooit,” sê Sussie Konyn. “Ons het ’n tekenles by ’n regte kunstenaar gehad. Ons het geleer hoe om strokiesprente te teken. En ons skoolhoof gaan trou. Sy het koeldrank en koek en tjips vir almal gebring. Dit was pret, nè, Boetie?”

 

“Ja, ja,” sê Boetie Konyn. Sy hart sink. Ag, nee. Die een dag wat hy in die bed bly, kry hulle koek by die skool!

 

“Watter soort koek het jy gekry, Boetie?” vra Ouma.

 

“Dit was sjokoladekoek,” jok Boetie Konyn. “Sjokoladekoek met karamelversiersel en kersies bo-op.” Ek wens ek het skool toe gegaan, dink Boetie Konyn. Ek wens ek het koek gekry.

 

Net toe klop iemand aan die deur. Daar staan Boetie Konyn se onderwyseres, Juffrou Muis. Sy dra ’n bordjie met ’n heerlike groot stuk koek.

 

“Hallo, Ouma Konyn,” sê sy. “Dis so jammer dat Boetie Konyn siek was op so ’n spesiale dag. Ek het vir hom ’n stukkie koek gebêre. Hoe gaan dit met hom? Voel hy beter?”

 

O, nee. Nou is Boetie Konyn in die moeilikheid. Hy hardloop na sy kamer toe, spring by die venster uit en gaan kruip in die boom in die agterplaas weg.

 

“Daar is hy,” sê Sussie Konyn vir Ouma. “Hy kruip in die mangoboom weg.”

 

Ouma en Juffrou Muis gaan staan onder die boom. “Jy is ’n baie stoute konyn,” sê Ouma streng. “Jy het stokkies gedraai.”

 

“Ek is jammer, Ouma. Ek is jammer, Juffrou Muis,” huil Boetie Konyn. “Moet asseblief nie vir my kwaad wees nie.”

 

“Ons sal jou ’n les moet leer,” sê Ouma. “Ek wonder wat ons moet doen.”

 

“Ek weet,” sê Juffrou Muis vir Ouma. “Waarom maak jy nie vir ons tee nie, en dan kan ons twee hierdie heerlike stuk sjokoladekoek eet. Dit sal hom leer dat dit baie stout is om stokkies te draai.”

 

Ouma gaan sit die ketel aan en sy en Juffrou Muis kry twee lepels en deel die stuk koek tussen hulle. Boetie Konyn se mond water en sy maag grom, maar daar is niks koek vir hom nie. Nie eens een klein krummeltjie nie.

Van daardie dag af het Boetie Konyn nooit weer stokkies gedraai nie. Nie eens een keer nie. Om heeldag in die bed te bly, is net te vervelig!

 

Wees kreatief!

Gestel Boetie Konyn besluit hy wil vir Juffrou Muis ’n kaartjie maak wat hy die volgende dag vir haar wil gee wanneer hy weer skool toe gaan. Wat kan hy op hierdie kaartjie skryf? Stel voor dat jou kinders die kaartjie maak.