Home | Node | Storm

Story Library

Being told stories and being read to leads children to develop the rich storehouse of language, grammar and vocabulary they need to bring to texts when learning to read and write. 
Try our multilingual stories below or send us your own stories to share with others.

Storm

Author

Deur Jude Daly

Illustrator

Illustrasies deur Alzette Prins

Translator

Vertaal deur Anita van Zyl

Marie-Lou Maritz is tydens ’n storm gebore, ’n woeste storm wat byna hul klein vissersdorpie vernietig het. Die huisies se dakke is afgeruk, vensters het aan skerwe gespat, bome is ontwortel en groentetuine is weggewaai.

 

Maar veel erger was dat baie van die vissermanne … mans, broers, seuns en pa’s … nooit weer huis toe gekom het nie. Een van hulle was Marie-Lou se pa.

Met so min mans in die dorpie oor, moes die vroue begin visvang. En dit was nie lank nie voor Marie-Lou se vriende ook saam met die bote begin uitgaan het. Maar nie Marie-Lou nie, want sy was blind, of soos haar ma altyd gesê het: “Marie-Lou sien dinge anders.”

Marie-Lou het niks daarvan gehou om agter te bly en nie te kan help nie. Op ’n keer het sy selfs op ’n skuit opgesluip, maar iemand het haar gesien. Tog het sy gou maniere gevind om te help. Marie-Lou het geleer om nette reg te maak, vis skoon te maak en die dekke skoon te skrop. En sy het geleer, beter as enigiemand anders, om die wind te lees – om te weet wanneer om die nette uit te gooi en wanneer om die see met rus te laat.

Toe, een aand, uit die bloute, swiep ’n wilde winde deur die dorpie. Die inwoners van die dorpie laat staan alles waarmee hulle doenig is en kies koers binnetoe, terwyl hoede, wasgoed, plante, selfs ’n fiets en kruiwa straat-af waai. Gelukkig was niemand op die see uit nie.

Die mense kyk uit hul rukkende huisies hoe die storm woed. Maar nie Marie-Lou nie; sy luister. En wat sy hoor, is hoe bome soos vuurhoutjies in die wind knak, die swiesj-swiesj van skuiwende sandduine, die branders wat teen die rotse breek en toe … stilte.

Die oggend na die storm staan Marie-Lou vroeg op en, sonder om haar ma wakker te maak, vee sy al die sand uit wat in hul huisie ingewaai het. Toe gaan sy buitentoe.

Marie-Lou luister na die lui geklots van die see. Dit het so anders, so woedend, geklink tydens die storm. En toe hoor sy ’n vreemde klank ver weg: eers is dit net ’n gekerm, toe meer van ’n getjank. Dit kom en gaan soos die golwe.

Stadig, versigtig, volg Marie-Lou die geluid totdat sy ’n paar treë van die water af gaan staan. Een oomblik klink dit of die geluid hoog in die lug in vlieg soos die skreeuende seemeeue. Die volgende oomblik klink dit of dit in en uit die water dryf wat in die rotspoele kabbel. Marie-Lou weet sy is naby die geluid, selfs al word dit sagter en al duur die stiltes tussenin langer. Toe raak dit heeltemal stil.

Marie-Lou storm desperaat vorentoe en gly op ’n rots. Iets vee teen haar voet. Omdat sy dink dat dit ’n stuk seegras is, buk sy af om dit af te haal en voel … slap ore, ’n nat snoet, vier nat pote en ’n nat, waaiende stert. Marie-Lou probeer die deurnat klein dingetjie optel, maar dit voel of ’n tou om haar nek in die rotse vasgevang is.

Uiteindelik, met die tou los, raap Marie-Lou die half verdrinkte babahondjie op. Sy glimlag toe dit klein snuffelgeluidjies maak en in haar nek inkruip. Toe onthou sy van haar ma. Hoe bekommerd sal sy nie wees nie – bekommerd en kwaad! Sy draai om om huis toe te gaan, maar te vinnig, en sy struikel en val.

En dit is toe wat Marie-Lou se ma haar vind. Al die pad huis toe druk sy vir Marie-Lou vas en raas met haar, gee haar ’n drukkie en raas dan weer.

Later kom Inspekteur Madliwa na hulle toe om besonderhede van die babahondjie te kry. Hy sien hoe hartseer dit Marie-Lou maak, en hy sê vir haar dat as niemand binne ’n week die babahondjie kom haal nie, sy dit mag hou. Hy glimlag en sê: “Eintlik dink ek julle is vir mekaar gemaak.”

Hoe stadig sleep daardie week nie vir Marie-Lou verby nie. Maar teen die einde van die week, het niemand die hondjie kom haal nie. En toe noem Marie-Lou haar Storm.

Al is sy nog ’n babahondjie, is Storm nooit ver van waar Marie-Lou is nie. En dis nie lank nie of Storm ken vir Marie-Lou deur en deur – Marie-Lou begin dink Storm weet wat sy gaan doen selfs voor sy dit doen! Storm is daar om Marie-Lou weg te hou van gevaar, daar om haar skooltas te dra, en altyd daar om oor haar te waak terwyl sy slaap.