Skilpad en die voëls
Home | Node | Skilpad en die voëls

Written stories

Skilpad en die voëls

Author

Oorvertel deur Nicky Webb

Illustrator

Illustrasies deur Jiggs Snaddon-Wood

Translator

Vertaal deur Anita van Zyl

Lank gelede, wanneer ’n voël op aarde doodgegaan het, het sy siel sy liggaam verlaat en na die wolke gesweef waar dit as ’n wolkmens gewoon het, om oor die voëls en diere op die aarde te waak en vir hulle te sorg.

 

Die voëls en diere het van hierdie wolkmense geweet.

 

Toe kom daar ’n tyd dat dit vir ’n hele jaar glad nie reën nie. Die gras gaan dood, die watergate droog op en die diere ly almal honger. Die diere en voëls hou ’n vergadering om te besluit wat om aan die verskriklike droogte te doen.

 

“Ek dink ons moet vir Volstruis eet,” sê Leeu en lek sy lippe af.

 

“Nee!” sluk Volstruis.

 

“Ek dink ons moet ’n ander plek soek om te woon,” sê Aap.

 

“Daar is nêrens anders om te woon nie,” tjank Wildehond. “Die droogte is orals.”

 

“Ons moet met die wolkmense gaan praat,” sê Uil. “Hulle sal weet wat om te doen.”

 

Die voëls en diere besluit dat die voëls tot in die wolke sal vlieg om met die wolkmense te gaan praat. Dalk sal hulle kos aarde toe stuur vir die honger diere en voëls.

 

Skilpad en sy vrou is ook by die vergadering. Skilpad is baie bekommerd. Hy weet dat as die wolkmense kos aarde toe stuur, hy dalk te stadig sal wees om daarby uit te kom. Hy is honger en wil nie sy kans verbeur nie.

 

“Ahem,” sê hy. “Dink julle regtig die wolkmense sal hulle aan ’n swerm voëls steur? Die voëls het ’n koning nodig om saam met hulle te gaan. Iemand wat sal wys hoe belangrik ons versoek is. Ek sal hulle koning wees. Ek sal namens almal van ons praat.”

 

Die voëls kwetter onder mekaar. Uiteindelik stem die voëls in om vir Skilpad as hul koning saam te vat.

 

Skielik krap Neushoringvoël sy kop. “Hoe kry ons Skilpad daar bo in die wolke?” vra hy. Hiëna lag en Aap skel. Niemand het aan hierdie probleem gedink nie. Daar is baie idees. Uiteindelik stel Uil voor dat die voëls vere aan Skilpad se pote vasplak. As hy genoeg vere het, sal hy dalk kan vlieg.

 

Skilpad lyk belaglik met al die vere aan sy pote. Baie van die diere wil lag, maar hulle weet Skilpad is hulle laaste kans op oorlewing.

 

Almal hou asem op toe Skilpad sy pote begin flap. Hy lig stadig van die grond af op en styg in die lug op. Die diere juig en die voëls sing terwyl Skilpad al hoër en hoër vlieg.

 

Toe Skilpad en die voëls by die wolke kom, is die wolkmense bly om die voëls te sien, en trots dat hulle hul koning saamgebring het. Die wolkmense sit ’n feesmaal voor – sappige vrugte en smaaklike groente wat die voëls lanklaas gesien het.

 

“Vir wie is hierdie kos?” vra een van die voëls opgewonde.

 

“Maar dis natuurlik vir almal van julle,” sê die wolkmense.

 

Skilpad laat nie op hom wag nie. Hy storm gulsig vorentoe en eet elke krieseltjie kos op, terwyl die voëls toekyk. Die wolkmense is verstom dat die voëls nie eet nie, maar hulle dink dit is die voëls se gebruik om hulle koning eerste te laat eet.

 

Die voëls is baie kwaad en baie honger! Hulle storm op Skilpad af en trek al sy vere uit. Toe vlieg hulle terug aarde toe om vir die ander diere van Skilpad se kullery te vertel.

 

Skilpad se vere fladder terug aarde toe en hy is gestrand in die wolke. Hy kyk desperaat om hom rond. As hy van die wolke afspring, sal hy hom beslis op die grond te pletter val. Skielik sien hy vir Papegaai, wat rondkrap en kyk of daar nie dalk ’n krummeltjie kos oorgebly het nie.

 

“Asseblief, Papegaai,” smeek Skilpad, “sê vir my vrou om ’n groot hoop blare bymekaar te skraap sodat ek sag kan land as ek van die wolke afspring, en my nie sal doodval wanneer ek die harde grond tref nie.”

 

Papegaai is baie kwaad vir Skilpad omdat hy al die kos opgeëet het. Toe hy terug is op die aarde, sê hy dus vir Skilpad se vrou haar man wil hê sy moet ’n groot hoop klippe bymekaarskraap vir hom om op te land.

 

Skilpad se vrou stapel die klippe op mekaar. Skilpad kyk af en sien sy vrou langs iets staan. Hy raai dat dit ’n hoop blare is. Hy maak sy oë toe, hou sy asem op en spring.

 

Sy klein ronde lyfie val grond toe en tref die rotse. Hy skree van die pyn toe sy dop kraak.

 

Skilpad se vrou haas haar na haar man toe en kyk met afgryse na die skade aan sy pragtige dop. Sy verpleeg en versorg hom totdat hy weer gesond is, maar die krake in sy dop bly vir altyd daar as ’n teken van wat hy aan die arme voëls gedoen het.

Die wolkmense is hartseer toe hulle sien hoe die voëls verkul is. Hulle huil en huil, en hul trane val uit die lug en reën op die aarde neer. Die gras en die bome begin weer groei en die diere en voëls het weer kos om te eet. Maar die voëls het nooit weer enige van die skilpaaie vertrou nie, en tot vandag toe trek skilpaaie hul koppe van skaamte in hul doppe terug wanneer hulle ’n voël sien.

Wees kreatief!

* Vra jou kinders: “Hoe sou die storie anders verloop het as Skilpad die wolkmense se kos met die voëls gedeel het?” Moedig hulle dan aan om die storie oor te vertel en dit so te verander.

* Skilpad voel aan die einde van die storie skaam, en dus moes hy iets geleer het uit dit wat gebeur het! Nooi jou kinders om ’n prent van Skilpad te teken en om dan die volgende sin in ’n praatborrel langs hul prent neer te skryf en te voltooi: Ek het geleer dat ek …