Home | Node | Die bonsende kopkool

Story Library

Being told stories and being read to leads children to develop the rich storehouse of language, grammar and vocabulary they need to bring to texts when learning to read and write. 
Try our multilingual stories below or send us your own stories to share with others.

Die bonsende kopkool

Author

Deur Helen Brain

Illustrator

Illustrasies deur Vian Oelofsen

Translator

Vertaal deur Anita van Zyl

Cassidy Ann en haar ouer suster, Trixie, wag in die motor. Oupa is na die tuinwinkel toe, maar hy sal nou-nou terug wees. Die parkeerarea is leeg, behalwe vir ’n groot vragmotor wat aan die ander kant van die fontein geparkeer is. Die vragmotor is vol plante, en die mans laai dit op trollies om na die winkel te neem.

Deur die heining kan Cassidy Ann vir Oupa tussen die rye plante sien stap. Hy probeer besluit watter rose hy wil koop.

Skielik val ’n kopkool van die vragmotor af. Dit bons op die grond, en rol verby die kabbelende fontein.

“Het jy dit gesien, Trixie?” vra Cassidy Ann. “Daardie kopkool het van die vragmotor afgeval.”

Trixie kyk van haar boek af op. “Wat daarvan?” vra sy. “Dis tog net ’n kopkool.”

Cassidy Ann wag vir iemand om die kopkool te sien en dit op te tel. Maar die mans is so besig dat hulle nie eens oplet dat dit weg is nie. Die kopkool rol en rol en rol na hulle motor toe. Dit kom reg langs hulle motor tot stilstand. Cassidy Ann maak die deur oop om dit op te tel.

“Wat doen jy?” vra Trixie, en blaai ’n bladsy om. “Oupa het gesê ons moet in die motor bly.”

Cassidy Ann maak die deur toe. Sy sit in die motor, maar bekommer haar oor die kopkool. Sy sien hoe die mans in die vragmotor klim. “Ek gaan net tot daar,” sê sy, en maak die deur weer oop. “Net om die kopkool vir die mans in die vragmotor terug te gee.”

Die mans is reg om te ry. Hulle klap die deure toe en die bestuurder het al klaar die enjin aangesit.

“Reg so,” sê Trixie, “maar as Oupa terugkom en sien jy’s weg, is dit nie my skuld nie.”

Cassidy Ann spring uit die motor, gryp die kopkool en hardloop tot by die vragmotor.

Maar sy is te laat. Die bestuurder het haar nie gesien nie. Hy ry weg en Cassidy Ann staan in die parkeerarea met ’n baie groot kopkool in haar hande.

“Wat moet ek nou doen?” dink sy. “Dit behoort nie aan my nie, maar ek kan dit nie teruggee nie. Moet ek dit hier los? Of moet ek dit huis toe vat sodat Ouma dit kan gaarmaak?”

Skielik begin die kopkool skud! Dit skud so hard dat Cassidy Ann dit skaars kan vashou. Dit skud so hard en begin in haar arms rondbons. En toe bons dit Woesj! Kaboem! in die lug in, met Cassidy Ann agterna.

Dit vlieg op, tot bo in ’n baie hoë avokadopeerboom. Toe kom dit weer af, met Cassidy Ann wat styf vashou, en BOIING! bons dit op die pad en skiet weer op, hierdie keer tot op die dak van die tuinwinkel.

Dis lekker hier bo. Cassidy Ann kan alles sien – die mense wat plante koop in die tuinwinkel, ’n vrou wat met haar honde langs die rivier stap, die waterlelies in die fontein, en Trixie, wat in die motor sit en haar boek lees. Dis pret.

Maar die kopkool begin al weer bons. Dit bibber en beef en wriemel op en af, en Cassidy Ann moet styf vashou om te keer dat dit wegkom.

“Wat doen jy nou?” gil sy toe die kopkool een, twee, drie keer bons … toe swoeesj in die lug op skiet, en weer met ’n boiing grond toe bons. Kaplaks! beland dit in die fontein sodat die water oral spat. Toe bons dit weer in die lug op, met Cassidy Ann wat giggelend vasklou, en toe boiiing dit weer af tot in die fontein. Nog meer water spat uit, en spat ’n kwaai vrou met ’n bos blomme nat.

Op, op, op skiet die kopkool, hoog, hoog, hoog, tot Cassidy Ann die wolke kan ruik en voel en dit haar klere klam maak. Op, op, op, tot die parkeerarea ver weg lyk, en Oupa se motor so klein soos ’n speelgoedkarretjie lyk. Cassidy Ann sien hoe Oupa uit die tuinwinkel kom met ’n trollie met ’n groot roosboom vol dorings daarop. Die kopkool begin rittel en beef en toe val dit af, af, af. Cassidy Ann weet sommer dit gaan op die roosboom vol dorings land, en sy begin skree: “Oupa, pas op, Oupa!”

Oupa kyk op en sê: “Cassidy Ann wat op aarde doen jy daar bo in die …” Net voor sy op die roosboom vol dorings te lande kom, steek Oupa sy arms uit en vang haar. Hy verloor sy balans en hulle beland albei in die fontein. Gelukkig is daar nie baie water in die fontein oor nie, maar ’n padda skrik so groot dat hy kwakend uit die water spring. Oupa sit regop in die fontein, met ’n lelieblaar op sy kop, en Cassidy Ann se rok is groen en slymerig van die plante in die fontein.

Trixie kom aangehardloop en help vir Oupa op. “Wat het gebeur?” vra sy. “Hoe het julle twee in die fontein beland?”

“Cassidy Ann het my gestamp,” sê Oupa. “Ek dink dis wat gebeur het! Ek kan nie regtig onthou nie.”

“Dit was die betowerde, bonsende kopkool,” verduidelik Cassidy Ann. “Dit het my tot bo in ’n boom laat bons, en tot op die dak, en in die fontein, en tot bo in die wolke. En toe het dit my weer laat af bons, en ek het byna op Oupa se roosboom geval.”

“Gmmmmf,” sê Trixie. “Dis stout om sulke stories op te maak en te maak asof dit waar is, Cassidy Ann! Volgende keer moet jy doen soos vir jou gesê word en in die motor bly.”

Cassidy Ann wil vir hulle wys sy maak nie stories op nie, en sy kyk rond op soek na die kopkool. Maar dit is weg. Toe sien sy dit – so hoog bo in die lug dat dit soos ’n voël lyk. ’n Vet groen voël wat op en af op die wolke bons.

“Daar’s dit,” sê sy en wys op in die lug. “Daar bo.”

Maar hulle glo haar nog steeds nie. Gelukkig is Oupa nie kwaad nie. Hy begin lag en hulle lag al die pad huis toe.

Wees kreatief!

Vra jou kinders hoe hulle dink die bonsende kopkool aan die begin van die storie op die vragmotor vol plante beland het. Stel dan voor dat hulle hul idees gebruik om ’n stuk te skryf wat ingevoeg kan word voordat hierdie storie begin.