Home | Node | Almal is spesiaal

Story Library

Being told stories and being read to leads children to develop the rich storehouse of language, grammar and vocabulary they need to bring to texts when learning to read and write. 
Try our multilingual stories below or send us your own stories to share with others.

Almal is spesiaal

Author

Deur Kai Tuomi

Illustrator

Illustrasies deur Natalie en Tamsin Hinrichsen

Translator

Vertaal deur Anita van Zyl

Op ’n dag stap Mandla buite rond toe hy sien hoe Olifant homself in die rivier natspat. Olifant lyk baie gelukkig. Sy groot ore flap en met sy slurp spuit hy water hoog in die lug in.

“Hallo,” sê Mandla, en wuif vir Olifant.

Olifant kyk af na Mandla en lig sy slurp op.

“Hallo, Mandla,” sê hy met sy diep stem.

“Daardie slurp van jou is verstommend,” sê Mandla.

“O, dit?” Olifant kyk na sy slurp. “Ek skat dit is, né?”

“Dit moet lekker wees om jouself op ’n warm dag te kan natspuit,” sê Mandla.

“O, dis nie al wat ek kan doen nie,” sê Olifant. “Ek kan ook my slurp gebruik om vrugte van die bome te pluk en takke af te trek. Ek kan dit selfs gebruik om ’n harde geluid te maak as ek wil. Ons noem dit trompetter! Kom ek wys jou.”

Olifant strek sy slurp uit. Brrrrpprumph! Dit maak die wonderlikste, hardste geluid. Dit donder deur die bos en ’n paar voëls vlieg uit ’n boom daar naby. Mandla dans op die plek en lag.

“Dis wonderlik,” sê hy. “Ek wens ek het ’n slurp gehad soos jy.”

Mandla los Olifant om in die rivier te speel en stap verder deur die bos. Hy hou sy arm voor sy neus, buig dit en krul sy hand sodat dit lyk of hy ’n slurp soos ’n olifant het. Toe probeer hy ’n tak met bessies van ’n bossie afpluk. Maar hy kyk nie waar hy loop nie en … KADOEF! loop hy in iets vas.

“Eina,” sê hy, en val om.

Die ding waarteen hy vasgeloop het, is bruin en oranje. Dit lyk asof dit van die sanderige grond al die pad tot bo die bome strek.

“Wat gaan daar onder aan?” vra ’n stem van bo af.

“Kameelperd!” sê Mandla, en kyk op.

“Wat?” vra Kameelperd.

“Dis ek. Mandla!”

“Wie?” vra Kameelperd.

’n Groot kop aan die punt van die lang nek kyk af deur die bome.

“O, hallo, Mandla,” sê Kameelperd.

“Hallo, Kameelperd, ek is jammer dat ek in jou vasgeloop het. Ek het gemaak of ek ’n slurp het, soos Olifant, en ek het nie gekyk waar ek loop nie.”

“’n Slurp soos Olifant s’n?” vra Kameelperd.

“Olifant se slurp is fantasties,” sê Mandla. “Hy kan homself met water natspuit en vrugte uit die bome pluk en ’n groot geraas maak.”

“Wel,” sê Kameelperd, “ek veronderstel dis nogal oulik, maar ek kan baie meer met hierdie lang nek van my doen.”

“Soos wat?” vra Mandla.

“Ek kan die boomtoppe bykom, waar die blare die sappigste is. Ek kan ook ver en wyd sien en uitkyk vir gevaar. My tong is ook baie spesiaal,” sê Kameelperd. “Dit is baie lank.” Kameelperd steek sy lang pers tong uit. “En dit is ook baie dik, wat beteken ek kan van bome eet, al het hulle dorings. Weet jy, bome met dorings het die beste blare,” sê Kameelperd.

“Dis fantasties,” sê Mandla. “Ek wens ek was lank soos jy, Kameelperd, dan sou ek oor al die bome kon sien en daardie blare waarvan jy praat, kon eet.”

“Moenie laf wees nie,” sê Kameelperd. “Seuns eet nie blare nie. O, en dit herinner my dat dit tyd is vir my tweede middagete. Sien jou later, Mandla.”

Mandla stap toe verder deur die bos en hou albei sy arms bo sy kop soos ’n lang kameelperdnek, en pluk blare van die bome af.

“Wat doen jy?” vra ’n baie sagte stem.

Mandla wip soos hy skrik.

“Ek het nie bedoel om jou skrik te maak nie,” sê die sagte stem. ’n Klein, grys bokkie met ’n wit kring om haar stert, kruip uit die bos.

“Waterbok!” sê Mandla. “Jy moet die stilste van al die diere wees.”

Waterbok bloos. “Jy is gaaf, Mandla. Om stil te wees, hou my veilig. Ek hou nie van daardie raserige diere nie.”

“Dis baie goed om so stil te kan wees,” sê Mandla. “Ek wens ek kon ook soos jy rondsluip, Waterbok.”

“Jy moet dit soms probeer! Maar dit verg baie oefening om so goed soos ek te wees. Sien jou weer, Mandla,” sê Waterbok, en sluip terug in die bos in.

Mandla stap toe stadig deur die bos, en loop saggies op sy tone, soos Waterbok. Dis nie lank nie, of hy val oor ’n klein takkie en binne-in ’n hoop blare. Hy hoor ’n sagte lag uit die bos en Mandla sien ’n grys flits toe Waterbok in die bosse verdwyn. Mandla staan op en hardloop deur die bos terug na sy huis in die oopte. Sy mamma is buite besig om wasgoed op te hang.

“Mamma?” sê hy saggies.

“Wat’s fout, Mandla?” vra sy mamma. “Hoekom lyk jy so ongelukkig?”

“Mamma, hoekom het ek nie ’n slurp soos Olifant nie? Hoekom het ek nie ’n lang nek soos Kameelperd nie? En hoekom kan ek nie rondsluip soos Waterbok nie? Hulle is so spesiaal, en ek voel glad nie spesiaal nie.”

Sy mamma buk af en soen hom op sy voorkop.

“Mandla, as jy ’n slurp soos Olifant gehad het, sou ek jou nie goeienag kon soen nie. En as jy Kameelperd se lang nek gehad het, sou ek jou nie in my arms kon optel en rondswaai nie. En dink net, as jy so stil soos Waterbok was, sou ek jou nooit kon opspoor om jou ’n drukkie te gee nie.”

Mandla se mamma trek hom nader. “Almal het iets spesiaal. Ek is lief vir jou nes jy is. En vir my is jy meer spesiaal as al die diere in die bos,” sê sy.

 

Wees kreatief!

Sit tyd opsy om met jou kinders te gesels oor dit wat hulle spesiaal maak. (Moenie vergeet om hulle te vra waarom hulle dink hulle spesiaal is nie!) Stel dan voor dat hulle prente van hulself teken en die volgende sin onder hulle prent voltooi: “Ek is spesiaal, want …”