Skilpad se taxirit | Nal'ibali
Home | Node | Skilpad se taxirit

Written stories

Skilpad se taxirit

Author

Deur Kai Tuomi

Illustrator

Illustrasies deur Jiggs Snaddon-Wood

Translator

Vertaal deur Anita van Zyl

 

Nkululeko en sy mamma en pappa is skilpaaie. Hulle woon saam aan die onderpunt van ’n tuin.

 

Skilpaaie het nie soos ons huise nodig nie, want hulle woon in hul doppe. En nog iets wat jy dalk van skilpaaie weet, is dat hulle baie, baie stadig is.

 

Elke aand gaan slaap Nkululeko en sy mamma en pappa baie stadig deur hulle pote en koppe in hul doppe in te trek. En elke oggend word hulle ook baie stadig wakker. Dit is gewoonlik omtrent tienuur wanneer hulle uiteindelik uit hul doppe kruip en ’n heerlike ontbyt van blomme en blare geniet.

 

Een oggend leun Pappa oor na Mamma en sê: “Wat ’n lieflike dag om niks te doen nie! Dis net jammer dat Nkululeko altyd so bedrywig is.”

 

Nkululeko is eintlik baie vinnig vir ’n skilpad. Dié oggend is hy besig om die bosse aan die verste punt van die tuin te verken. Sy ouers skud hulle koppe, maar Nkululeko is so besig om in ’n groot hoop krakerige blare te speel dat hy hulle nie eens raaksien nie.

 

Nkululeko sien iets in die hoop blare blink. Dit is ’n groot goue muntstuk. “Dis geld!” sê hy met ’n glimlag. “Ek gaan dit gebruik om op ’n avontuur te gaan.”

 

En so begin Nkululeko stap. Hy stap deur die tuin en oor die grasperk, tot hy by die ou hek kom wat na die straat toe lei. Hy kruip onderdeur.

 

Die straat is besig. Hy stap met die sypaadjie langs en probeer om nie vertrap te word deur al die mense wat rondskarrel nie. Op die hoek gaan staan hy om sy asem terug te kry. En dis toe dat Nkululeko iets wonderliks sien.

 

In ’n klein parkeerterrein tel groot taxi’s mense op en ry weg na wat soos die wonderlikste denkbare plekke klink – die stad, die see, die berg. Nkululeko stap oor die straat na die parkeerterrein.

 

Hy stap na die eerste groot taxi toe en sê in sy sagte stem: “Hallo, ek wil graag die stad of die see, of selfs die berg sien. Kan jy my help?”

 

Die taxibestuurder is jong en lank. Hy buig af en kyk na die klein skilpadjie wat ’n groot goue muntstuk na hom uithou. Die bestuurder lag. “Hierdie skilpad wil in ’n taxi ry. Hoe laf!” sê hy. “Wie het nou al van so iets gehoor?”

 

Nkululeko laat hartseer sy kop sak en begin wegstap. Net toe sê ’n stem: “Ek sal jou vat.”

 

Nkululeko kyk op en sien ’n ou man voor sy taxi staan.

 

“Klim in, jong skilpad,” sê die ou man met ’n glimlag, “en ek sal jou alles wys.”

 

Nkululeko glimlag breed en stap na die taxi toe. Die ou man tel hom op en sit hom op die sitplek neer.

 

Nkululeko rek sy nek om by die taxi se venster uit te kyk, maar dit is te hoog vir hom. “Kom ons kry vir jou ’n paar kussings uit die kattebak sodat jy hoër kan sit en beter kan sien,” sê die ou man.

 

En toe is hulle op pad. Hulle ry deur strate vol motors wat toet en mense wat heen en weer jaag. Die ou man gesels terwyl hy bestuur. Hy vertel vir Nkululeko dat sy naam Bra Will is, en dat hy al vyftig jaar lank taxi’s bestuur.

 

“My pappa is al tagtig jaar oud, Bra Will. Skilpaaie word baie oud, weet jy,” verduidelik Nkululeko.

 

Bra Will knik. Buite raak die huise groter. Bra Will sê hulle sal nou-nou in die stad wees.

 

“Waarom wil jy al hierdie plekke sien?” vra Bra Will.

 

“Wel,” sê Nkululeko, “skilpaaie beweeg baie stadig, en soms verveel dit my om net in die tuin rond te loop. Ek is op soek na avontuur!”

 

Daar is ’n vonkel in Bra Will se oog. “Ek verstaan,” sê hy.

 

Die stad is groot en raserig. Wolkekrabbers toring tot bo in die wolke. Daar is mense en motors oral en die lawaai is oorverdowend!

 

“Dis verstommend,” sê Nkululeko.

 

“Dis niks,” sê Bra Will, “wag tot jy die see sien. Hierdie stad is te raserig vir my, maar die see – dit is regtig fantasties.”

 

En toe ry hulle uit die stad uit.

 

“Maak oop die venster,” sê Bra Will, “dan sal jy die see ruik.”

 

Nkululeko rol die venster baie stadig af. “Dit ruik na sout,” sê hy met ’n glimlag.

 

Toe hulle om ’n hoek kom, strek iets groot en blou voor hulle uit. “Wat’s dit?” vra Nkululeko met sy mond wat oophang.

 

“Dis die see,” sê Bra Will en lag.

 

“Dis ongelooflik,” sê Nkululeko.

 

Die taxi parkeer in ’n klein parkeerarea langs ’n lang strook wit sand wat tot by die see strek.

 

“En dit is die strand,” sê Bra Will. “Kom ons rus ’n rukkie hier en stap op die sagte sand.”

 

Bra Will help vir Nkululeko tot op die strand. Oral om hom speel mense, of lê in die son. Dit is baie warm. Nkululeko kruip stadig rond, waad in die vlak water, en kyk na al die pragtige skulpe op die strand.

 

Toe is dit tyd om berg toe te gaan. Nkululeko het al die berg uit sy tuin gesien, maar hy was nog nooit REGTIG naby die berg nie. Dit is ’n steil pad van die see af. Dit is baie winderig op die berg. Nkululeko sien selfs ’n man wie se hoed deur die wind geskep en weggewaai word!

 

Toe die taxi uiteindelik stilhou, klim Nkululeko uit en snak na sy asem. Hy kan die hele stad van hier bo af sien. Hy kan die see en die strand en selfs sy klein huisie in die tuin sien. Hy dink aan sy mamma en pappa.

 

“Dit is die heel mooiste plek, Bra Will,” sê die skilpad, “en dit was so ’n groot avontuur om saam met jou rond te ry, maar ek dink dis nou tyd dat ek huis toe gaan na my mamma en pappa toe.”

 

Bra Will knik en ry terug na die taxistaanplek. Nkululeko sê vir hom dankie en haal die goue muntstuk uit sy dop.

 

Bra Will skud sy kop en sê: “Hou jou geld, Nkululeko. Dit was vir my ’n plesier om jou rond te ry. Om jou so gelukkig te sien is genoeg betaling vir my.”

 

Nkululeko wuif totsiens en begin stadig huis toe stap. Op pad stap hy verby ’n vrugteverkoper en hy gebruik die goue muntstuk om ’n boks ryp aarbeie te koop, wat hy op sy rug huis toe dra. Dit begin al donker raak toe hy uiteindelik sy pad terug na die tuin vind. Sy mamma en pappa wag vir hom.

 

“Waar was jy?” vra Pappa. “Ons was siek van bekommernis.”

 

Nkululeko gee hulle albei ’n stywe drukkie. Hulle deel die aarbeie en hy vertel vir sy ouers van sy avontuur in die taxi.

 

“Dit klink fantasties,” sê Mamma, “maar ek is baie bly dat jy weer by die huis is, Nkululeko.”

 

“Ek ook,” sê hy. “Ek was nou oral – noord, suid, oos en wes, maar van al die plekke ... is tuis bes.”

 

En toe trek hy sy kop en pote in sy dop in en raak vas aan die slaap.

 

Wees kreatief!

* Laat jou kinders eierboksies, karton, verf en gom gebruik om die skilpaaie in die storie te maak. Hulle kan ander afvalmateriaal (soos botteldoppies en graankos- of beskuitjiebokse) gebruik om die taxi te maak. Moedig hulle aan om die dinge wat hulle vir die storie gemaak het te gebruik om die storie op hulle eie manier oor te vertel.

* Stel voor dat jou kinders ’n kaart teken om die plekke aan te dui wat Nkululeko op sy avontuur besoek het, en die volgorde waarin hy hulle besoek het.