Home | Node | Koketso se gunstelingtrui

Story Library

Being told stories and being read to leads children to develop the rich storehouse of language, grammar and vocabulary they need to bring to texts when learning to read and write. 
Try our multilingual stories below or send us your own stories to share with others.

Koketso se gunstelingtrui

Author

Deur Patricia de Villiers

Illustrator

Illustrasies deur Vian Oelofsen

Translator

Vertaal deur Anita van Zyl

Maandag is altyd ’n groot wasdag in Ouma se huis. Elke Maandag haal Ouma vroeg in die oggend reeds die groot sinkbad uit en sit dit op die tafel in die agterplaas. Dan kook sy water in die ketel. Sy moet baie ketels water kook om die sinkbad tot heel bo vol water te maak.

Dan gooi Ouma waspoeier by en roer die water met ’n groot houtlepel totdat dit begin skuim en borrel. En dan sit sy al die lakens en kussingslope, en die tafeldoek en haar eie groot onderklere in die sinkbad en druk dit met die groot houtlepel onder die water in en dan roer sy dit al in die rondte.

Wanneer alles skoon en uitgespoel is, help Koketso haar ouma om die swaar, nat wasgoed op die wasgoeddraad te hang en met pennetjies vas te steek.

Een koue Maandagoggend kyk Koketso na die klere wat sy aanhet.

“Mmm,” dink sy, “my wit sokkies is mooi skoon, maar my blou skoene is vuil. My pienk rok is skoon, maar my trui met die helder strepe is vuil na vanoggend se ontbyt. Kom ons kyk – eier, tamatiesous, melk, ’n stukkie piesang en HOPE krummels! Ek is dol oor hierdie pragtige warm trui van my, maar dit kort beslis ’n goeie was!”

“Ouma!” roep sy. “Kan ek my gestreepte trui en my blou skoene in jou sinkbad gooi?”

Ouma lag te lekker: “Nee, my skat, hierdie is ’n WARM was. Jy moet dit regtig nie doen nie!”

Koketso verstaan nie. Waarom kan sy nie haar trui en skoene in haar ouma se sinkbad met die wasgoed sit nie? Toe Ouma later winkel toe gaan om aartappels en uie te gaan koop, hardloop Koketso agterplaas toe. Sy trek haar blou skoene en haar trui met die helder strepe uit, tel die groot houtlepel op en druk haar klere in die sinkbad saam met al die ander wasgoed.

Alles is baie, baie warm en swaar. Die seepborrels laat Koketso nies, maar uiteindelik kry sy dit reg om haar klere tot op die bodem af te druk – diep, diep, onder al die lakens en kussingslope, en die tafeldoek en al Ouma se groot onderklere.

“So ja,” sê sy vir haar trui en skoene, “nou sal julle weer lekker skoon en vars wees.”

Toe Ouma by die huis kom, sien sy dat Koketso net ’n dun rokkie en ’n paar sokkies aan het.

“Koketso,” sê sy, “dis ’n koue dag. Waarom dra jy daardie klere? Wil jy verkoue kry?”

“O, Ouma,” sê Koketso, en waai haar hand voor haar gesig asof dit ’n waaier is, “ek kry so WARM. Ek kry glad nie koud nie.”

Toe huppel sy met die paadjie af en waai vir haar ouma. “Tata, Ouma,” sê sy. “Ek gaan net gou na Pinky toe.”

“Wag net so ’n bietjie …” sê Ouma. Maar Koketso hoor haar nie, want sy het reeds om die hoek verdwyn.

Op pad na Pinky se huis, begin Koketso regtig koud kry. Die wind waai deur haar rok, en die pad is soos ys onder haar voete. Sy vou haar arms om haar lyf en hardloop al die pad tot by haar niggie se huis.

“Pinky!” roep Koketso en spring op en af op Pinky se drumpel. “Pinky, maak oop, ek VERKLUIM!”

Pinky kom deur toe gestap. “Is jy gek, Koketso?” sê sy. “Waarom het jy nie wintersklere aan nie?

Pinky se huis is snoesig en warm.

“Kom in, Koketso,” sê Pinky se mamma, Koketso se Tannie Sarah. “Jy is net betyds vir lekker vars brood en konfyt.”

Koketso kuier so lekker by Pinky se huis dat sy skoon van Ouma se wasgoed vergeet. Skielik onthou sy en spring van haar stoel af.

“O, nee!” sê sy. “Ek was veronderstel om vir Ouma te help om die wasgoed op te hang. Ek moet NOU DADELIK huis toe gaan!”

“Wel, jy kan nie met daardie klere uitgaan nie,” sê Tannie Sarah. “Trek dan ten minste hierdie aan.” En sy gee vir Koketso ’n groot, bruin trui wat tot op haar knieë hang, en ’n paar ou pantoffels.

Toe Koketso by die huis kom, wag haar ouma vir haar met gevoude arms. Sy is baie kwaad. Al die wasgoed hang op die draad, en op die heel verste punt van die draad hang ’n paar druipnat blou skoene en ’n piepklein truitjie, net groot genoeg vir ’n baba.

Koketso se mond val oop. “Maar,” stotter sy, “maar, maar, maar, ek verstaan nie. Dit lyk soos my trui, maar dit is nie my trui nie.” En sy voel hoe die trane in haar oë brand. “O, Ouma,” huil sy, “wat het met my trui gebeur? Ek wil my ou trui terughê!”

Ouma kyk na haar. “Moenie sê ek het jou nie gewaarsku nie, Koketso,” sê sy. “Jy kan nie wolgoed in sulke warm water was nie. Dit krimp as jy dit doen. Dis hoekom jou trui nou so klein is.”

Vroeg die volgende oggend toe Koketso opstaan, sien sy dat Ouma haar blou skoene vol koerantpapier gestop en hulle naby die verwarmer gesit het. Hulle is nog steeds klam en die stoom trek daaruit, maar ten minste is hulle nog steeds hul normale grootte! Haar trui is droog en lê opgevou bo-op Ouma se stapel skoon wasgoed. Maar dit is baie, baie klein.

Koketso gaan buitentoe met Tannie Sarah se groot, bruin trui en pantoffels aan en gaan sit voor die deur. Sy sprei die klein truitjie op haar skoot oop. “Ek is jammer, streeptruitjie,” sê sy, “jy was so mooi en sag.” En sy huil so ’n bietjie.

“Jy lyk lekker warm in hierdie koue weer, Koketso,” sê ’n stem. Dit is ou Oom Koos wat sy winkeltrollie in die straat af stoot. “Ek het iemand hier wat gisteraand byna verkluim het.” En ou Oom Koos maak sy jas oop en wys vir haar dat hy ’n bibberende klein hondjie vashou.

“Ai, Oom Koos,” sê Koketso, “daardie hondjie het nie genoeg hare om haarself warm te hou nie. Dalk het sy ’n lekker wollerige jassie nodig.”

Toe kry Koketso ’n idee.

“Die hondjie kan my ou trui dra!” sê sy. “Dit is nou heeltemal te klein vir my.”

Die trui pas die hondjie perfek.

“Dis wonderlik, Koketso,” sê Oom Koos. “Kyk hoe bly is die hondjie nou. Ek gaan haar na jou vernoem. Haar naam is nou Ketso.”

Koketso lag. “Ketso,” sê sy. “Ek dink dis ’n mooi naam vir ’n hond!”

Die hondjie wriemel en lek ou Oom Koos op sy neus.

“Dit lyk of sy ook van haar naam hou,” sê Oom Koos, “en sy hou van haar helder, gestreepte, wollerige jassie. Kom, Ketso, my honne, kom ons gaan soek iets te ete vir ontbyt!” Oom Koos waai vir Koketso toe hy in die straat af stap.

“Goeie idee,” sê Koketso, en sy gaan binnetoe om haar ouma en iets te ete te soek.