Home | Node | Speurder Gus, die gorilla

Story Library

Being told stories and being read to leads children to develop the rich storehouse of language, grammar and vocabulary they need to bring to texts when learning to read and write. 
Try our multilingual stories below or send us your own stories to share with others.

Speurder Gus, die gorilla

Author

Deur Ann Walton

Illustrator

Illustrasies deur Rob Foote

Translator

Vertaal deur Anita van Zyl

Gus en Gabby, twee goeie, gawe gorillas, woon in ’n spesiale deel van die dieretuin. Hulle het ’n klein huisie waarin hulle slaap, en ’n houtklouterraam om op te speel. Daar is ook drie bome waarin hulle kan klim.

 

Gus en Gabby is besig om middagete te eet. Hulle eet kool en pampoen en boontjies en mielies, en baie lemoene en papajas en appels en piesangs. Hulle is dol oor piesangs!

 

Skielik verskyn ’n klein seuntjie se kop bo die muur van Gus en Gabby se tuin.

 

“Hallo,” sê hy.

 

“Hallo,” sê Gus.

 

“Mag ek afklim en op daardie klouterraam kom speel?” vra hy.

 

“Ja,” sê Gus. “Spring af tot in die tuin, maar oppas vir die doringbos!”

 

Die klein seuntjie spring af en land op die gras langs die gorillas.

 

“Ons is byna klaar met ons middagete, maar ons het nog een piesang oor,” sê Gus. Al hou hy meer van piesangs as van enige ander kos, is Gus ’n baie gawe gorilla. Hy hou dit na die klein seuntjie toe uit.

 

“Wil jy dit hê?” vra hy.

“Ja, asseblief,” sê die klein seuntjie. Hy vat die piesang en glimlag.

 

“Waar is jou mamma?” vra Gus.

 

“Sy het weggeraak,” sê die klein seuntjie.

 

“O! Het jy ook weggeraak?” vra Gus.

 

“Nee, ek het nie weggeraak nie. Ek is mos hier,” antwoord die klein seuntjie.

 

“Dis waar,” sê Gus. “Hoe het jou mamma weggeraak?”

 

“Ons het geloop en roomys eet, en toe ek opkyk, was sy weg,” sê die seuntjie.

 

“Ek is seker jy sal haar later vind. Maar kom ons speel nou!” sê Gus, en hy vat die klein seuntjie se hand en lig hom tot bo-op die houtklouterraam.

 

Hulle het ’n heerlike middag saam. Gus loop onderstebo op die houtpale van die klouterraam deur met sy hande en voete vas te hou, en die klein seuntjie doen dieselfde. Gus gryp ’n tak wat oor die klouterraam hang en swaai op tot in ’n groot boom. Die klein seuntjie doen dieselfde. Hulle haak selfs hul bene oor die takke en hang onderstebo! Gus en die klein seuntjie speel die hele middag saam, totdat die seuntjie te moeg is om verder te speel.

 

“Waarom rus jy nie ’n rukkie nie?” sê Gus.

 

“Goed so,” sê die klein seuntjie. Hy dwaal weg en raak vas aan die slaap op die skoon strooibed wat so lekker ruik in Gus en Gabby se klein huisie.

 

“As hy weggeraak het, kan hy miskien vir altyd by ons bly,” sê Gabby. “Ek sal daarvan hou!”

 

“Ek sal ook daarvan hou,” sê Gus.

 

Net toe kom die opsigter van die dieretuin daar aan.

 

“Ek dink ek het belangrike nuus vir julle,” sê hy, en gee vir Gus ’n brief. Toe draai hy om en maak die hek agter hom toe.

 

“Dit moet belangrike nuus wees as dit ’n brief vir Gus is!” dink Gabby. “Wat staan in die brief, Gus?” vra Gabby en glimlag dat jy net tande sien.

 

Gus klim tot bo-op die klouterraam en maak die brief oop. “Dit is van Polisiekonstabel Moloi,” sê hy.

 

“Lees dit, lees dit!” sê Gabby.

 

Gus hou die brief voor hom uit en lees hardop vir Gabby:

 

 

Beste Gus

 

Help ons asseblief.

 

Molefe is weg. Hy is vyf jaar oud. Hy het saam met sy mamma in die dieretuin gestap. Hulle het roomys geëet. Molefe se mamma het gesê sy hou van sjokoladeroomys, en het toe vir Molefe gevra wat sy gunstelingroomys is. Maar Molefe het nie geantwoord nie, want hy was weg!

 

Sy mamma is baie bekommerd. Sy het geroep en geroep, “Molefe, Molefe, waar is jy?” Maar daar was geen antwoord nie.

 

Molefe se mamma het oral in die dieretuin na hom gesoek, maar sy kon hom nie kry nie. Hy is weg. Skoonveld! Sommer net so!

 

Molefe se mamma staan nou hier by die polisiestasie en huil, Gus. Help ons asseblief.

 

As jy enige nuus van Molefe kry, slaan hard op jou borskas en ons sal almal aangehardloop kom.

 

Beste wense vir jou, Gus.

 

Jou vriend

Polisiekonstabel Moloi

 

Gus is hartseer. “Ek dink die klein seuntjie wat vas aan die slaap in ons huisie lê, is dalk Molefe,” sê hy.

 

“Waarom dink jy so, Gus?” vra Gabby.

 

“Want hy het gesê sy mamma het ’n roomys geëet toe sy weggeraak het,” sê Gus. “As hy Molefe is, kan ons hom nie hou nie. Sy mamma huil oor hom.”

 

“Sy moet baie hartseer wees,” sê Gabby. “Jy’s reg, Gus, ons kan hom nie hou nie.”

 

Net toe word die klein seuntjie wakker en stap tuin toe terwyl hy sy oë vryf.

 

“Ek wil my mamma hê. Waar is sy?” vra hy.

 

“Ons sal haar vind,” sê Gus. “Wat is jou naam, klein seuntjie?”

 

“My naam is Molefe,” sê die klein seuntjie.

 

“Ek sal vir Polisiekonstabel Moloi en jou mamma laat weet dat jy hier is,” sê Gus. Toe gaan staan hy regop bo-op die klouterraam. Hy lig sy arms op en trommel hard op sy groot borskas.

 

Polisiekonstabel Moloi hoor die tromslae. Hy hardloop swoegend en swetend na die gorillas se huis. Molefe se mamma hoor die tromslae en volg vir Polisiekonstabel Moloi. Sy hardloop swoegend en swetend na die gorillas se huis.

 

“Daar’s jy, Molefe!” sê sy. Sy tel hom op en druk hom styf vas.

 

“Hulle het jou gekry, Mamma!” sê Molefe.

 

“Ja! Ek was verlore sonder jou, Molefe,” sê sy. “Maar waarom is jy hier saam met die gorillas?”

 

“Ek het saam met my vriend Gus op die klouterraam gespeel,” sê Molefe.

 

“O ... goeiste! Wel, ons moet nou huis toe gaan, Molefe,” sê sy mamma. Sy kyk na Gus. “Dankie dat jy na Molefe gekyk en met hom gespeel het,” sê sy.

 

Molefe hardloop na Gus toe, en die groot gorilla tik hom liggies op sy kop. Gabby glimlag vir hom dat jy net tande sien.

 

“Tot siens,” sê Molefe, en hy stap saam met sy mamma weg.

[a/w02]

 

“Gus, dis aan jou te danke dat Molefe veilig is,” sê Polisiekonstabel Moloi. “Jy is ’n baasspeurder!”

 

Die volgende dag kom die Hoof van die Polisie en ’n groot koperblaasorkes en ’n kameraman en ’n verslaggewer by die dieretuin aan. ’n Skare mense volg hulle. Die opsigter van die dieretuin lei hulle almal na Gus en Gabby se tuin. Die koperblaasorkes speel ’n liedjie, die kameraman neem foto’s van Gus, en die verslaggewer skryf ’n storie oor Gus en Molefe. Die skare juig.

 

“Gus is ’n baasspeurder,” sê die Hoof van die Polisie. “Hy het al ’n berugte dief gevang wat inkopiesakke gesteel het en nou het hy ’n klein seuntjie wat weggeraak het, gevind. Knap gedaan, Gus!” Toe gee die Hoof van die Polisie vir Gus ’n groot tros geel piesangs en hy gee vir Gabby ’n groot bos pragtige geel blomme.

 

Toe al die mense weg is, gaan sit Gus en Gabby en eet al die piesangs op; almal behalwe een. “Wil jy dalk die laaste piesang hê, Gabby?” vra Gus.

 

“Nee dankie, Gus,” sê Gabby en glimlag dat jy net tande sien. “Ek eet die blomme. Jy is nou ’n beroemde speurder! Jy kan maar die laaste piesang eet!”

 

En dis presies wat Gus toe doen.